Die tevrede eters aan tafel sal nooit vermoed wat hierdie heerlike sticky, gemmerige kersham so heerlik en sticky en gemmerig gemaak het nie. En dat dit so doodeenvoudig is om te maak nie. Gemmerbier is maar een van die tricks.
Die pragtige foto is uit die Desember 2010 uitgawe van Taste tydskrif (well done, Abigail!)
Daar’s ‘n magdom weergawes van gammon gaargemaak in gemmerbier. Ek vermoed dit het by die Britte begin wat tradisioneel gammon in appelbier (cider) gaargemaak het. (Die Amerikaners kook hul ham in cola!) Hierdie weergawe is besonder lekker en span gemmerbier en ‘n lemoenmarmalade-glasuur in.
Jy’t nodig:
1 ontbeende gerookte gammon (sowat 3 kg)
2 l gemmerbier (gebruik net genoeg om die ham te bedek)
3 Steranys
Glasuur:
Flessie marmalade
10 ml fyn gemmer
6 stukkies gekapte gemmerstukke in stroop
Maak so:
Plaas gammon en steranys in ‘n kastrol en bedek met die gemmerbier. As die gemmerbier dit nie heeltemal bedek nie, kanjy dit optop met water. Bring tot kookpunt en laat kook vir 1 ½ -2 uur.* (sien onder vir oondmetode).
Laat gammon effe afkoel in die kastrol. Haal uit en sny dan die vel versigtig af. (die vel sal moeiliker afsny as die gammon heeltemal afgekoel het. Met ‘n skerp mes sny kepe deur die vetlagie. Voer ‘n oondpan met foelie uit (vir die maklik skoonmaak van die pan agterna) en sit die gammon daarin.
Wenk: die gammon kan tot 3 dae voor die tyd voorberei word en dan koud voorgesit word.
Glasuur:
Verhit die marmalade, fyn gemmer en opgekapte gemmerstukke met bietjie van die stroop in ‘n kastrol en kook dit af tot lekker loperig. Smeer dit oor die bokant van die gammon en bak vir 20 minute in die oond – die oond teen 160° C. Hou dit maar dop, want die suikerglasuur sal dit maklik laat brand as jy jou rug draai! Die bolaag sal so lekker taai en klewerig word.
Hmmm, die oorskiet is môre se lekkerste toebroodjie ooit – saam met uiemarmalade en korrelmosterd!
Resep-inspirasie: Taste Magazine Kersfees 2010, Daily Mail UK . Die pragtige foto is uit die Desember 2010 uitgawe van Taste tydskrif (well done, Abigail!)
Lekker Kersfees-hou en dink aan die eensames, alleenes en oues van dae.
Errieda, ek het ham gekoop maar nog nooit voorheen gemaak nie. Wil in baksakkie gaarmaak(met appelsap, rooibos, witwyn, kaneel, naeltjies, swart peper) en dan jou glasuur gebruik. Sal dit werk? Nita
Hi Nita, dit behoort beslis te werk – klink baie lekker. Jy kan selfs bietjie vars of droe gemmer ook in die baksakkie sit. Laat weet my hoe dit gegaan. Goeie Kerstyd vir jou en jou geliefdes. Groete, Errieda
As jy op my kosblog kom kuier, laat weet my gerus wat jy beplan om vir Kersfees te maak – ek soek juis nog ‘n paar idees vir ander vleisgeregte, bykosse, interessante slaai en natuurlik altyd idees vir ‘n soetdingetjie. Groete, Errieda (RSG Huiskok/Glanskok)
Errieda, laasjaar was jy so lief omdaai verruklike lemoen-dadel-slaai-resep vir my te stuur. Dis “n absolute treffer in my 3-Musketier-huishouding. Ek en my dogters – an alle gaste – is dol daaroor. ek geniet julle kookboek – en vind jou blog fantasties. Hierdie jaar is ons hele Kersspyskaart a la Errieda!
Alet, dit bly een van my gesin se gunstelinge ook. Min dinge so verfrissend soos daai lemoenslaai – en jy gee my sommer ‘n idee om dit vir Kersfees te maak – sal lekker werk saam met gammon.