Hierdie klewerige varknek gegeur met steranys, vars gemmer en aromatiese Chinese 5-speserye het sy ikoon-status verdien. Dis een van die gewildste resepte in die Huiskok Glanskok kookboek – vir goeie rede. Min voorbereiding is nodig en dit smaak verruklik.
Snip snip die toutjies, sny in skywe en eet. (foto deur Samarie Smith vir ons boek Huiskok Glanskok)
Moets liefs nie kortpaaie vat en sommer van die bestanddele uitlos nie. Elkeen is daar met ‘n doel. En dis dalk nou die ideale kans om by ‘n Chinese spesialiteitswinkel te gaan snuffel vir goed soos Chinese kookwyn. As jy nie die Chinese 5-speserye by ‘n betroubare handelaar kan kry nie (vra ook by Woolies) kan jy jou eie ook maak.
Klewerige Varknek
Die resep kom egter met ‘n waarskuwing: jou huismense en kuiermense gaan daarop aandring dat jy dit al om die ander dag maak, so lekker is dit.
Maak 4-6 porsies
Een ontbeende varknek
1 vars gemmerknobbel, gesny in dun ringe (nie nodig om te skil nie)
3 groot knoffelhuisies, gekneus
1 rooi brandrissie, gehalveer
4 steranys
125 ml bruinsuiker
250 ml Chinese kookwyn (Shaoxing) of vervang met droë sjerrie wat 1/5de met water verdun is
125 ml oestersous
5 ml Chinese 5-speserye mengsel*
Verhit oond tot 180⁰C. Plaas vark, gemmer, knoffel, rissie en steranys in ‘n diep, swaarboom oondpan met ‘n deksel wat stewig pas. Roer suiker, kookwyn, oestersous en vyf-speserye in ‘n bakkie saam en roer tot suiker opgelos het. Giet dit oor varknek en sit deksel op. Bak 2 ure (draai die vleis na ‘n uur om). Verhoog hitte na 200⁰C, bak nog 30 minute of tot vark sag is en die sous klewerig. Haal deksel af, skep sous oor en bak oop vir nog 15 min. Haal Vleis uit sous en los eenkant om te rus. Kook die pansous af tot lekker taai. Sny vleis in dun skywe, bedien op ‘n warm vleisbord en gooi pansouse bo-oor. Lekker saam met jasmynrys en groenbone of broccoli.
*Skep jou eie 5-speserye-mengsel:
Gebruik gelyke hoeveelhede:
mengsel 1: anyssaadjies of steranys, vinkel, kaneel, swart peperkorrels en heel naeltjie.
OF
mengsel 2: fyn gemmer, kaneel, neutmuskaat, wonderpeper en swartpeper.
Maal dit in stamper en vysel of elektriese meul. Gebruik heel speserye vir beste smaak.
Hierdie is ‘n identiese weergawe van Donna Hay se resep…..wonder wie het dit by wie geleen….
Dis einste Donna wat die resep ikoonstatus gegee het. Heerlik verby en Ek torring met niks. Dis met die 5 speserye wat Ek aanmaak volgens my Eie smaak.
Wel, na ure se soektog na ‘n soortgelyke oosterse varknek resep blyk dit voorwaar of hierdie resep ikoonstatus bereik het. Daar is feitlik geen ander! Komaan Huiskok, dink vir ons nog ‘n resep uit!
waarvoor is jy lus? Daar is ‘n magdom resepte wat met die taai of karamelbeginsel werk met ‘n Oosterse inslag. Jy kan resepte geskik vir porkbelly ook vir nek gebruik. Die Chinese red-braise metode gee jou ook min of meer dieselde effek.
Eks allergies vir seekos,waarmee kan ek oestersous vervang? Dankie.
Hi Wanda, gewoonlik as ek uit oestersous is, gebruik ek hoisin sous. Kyk net op die etiket of dit enige vissous of so iets as bestanddeel bevat. Dit sal nie heeltemal dieselfde resultaat gee nie, omdat dit soeter is as oestersous, maar is d\’n redelike alternatief.
Reblogged this on huiskok.