(Ek begin sommer met ‘n apologie … Jammer dat ek nie ‘n foto van hierdie lekker hoender-gereg het wat ek vir Krismisdag maak nie – ek hou in Bainskloof sonder my gewone voorraad elektronika vakansie! )
Maar meer oor die heerlike amandel-kors hoender: Sit by die du Toits aan vir Kersete en ‘n paar goed is voorspelbaar: daar is altyd gammon, skaapboud en hoender in een of ander gedaante aan tafel.
Waarvan ek ver wegbly is ‘turducken’ (kalkoen gestop met eend, gestop met hoender … seker ‘n ‘kalheender’ in Afrikaans). Pluimvee verdien bietjie meer respek as om só verstop te word – en waar die een soort vleis bloot soos die ander proe.
Een van die lekkerste maniere om heelhoender tot koninklike Kersdis om te toor is om ‘n hoender te posjeer en dan – pleks van om dit te stop met ‘n broodvulsel – dit toe te wikkel in ‘n maklike kors van bruinbrood, amandel en tiemie. Dit word dan doodeenvoudig in die oond gerooster tot die krummel-en neutekombers goudbruin en bros is. Die posjeer-aftreksel word afgekook tot ‘n heerlike sous.
As deel van ‘n Kersbuffet sal een middelslag hoender ses mense tevrede stel, maar maak gerus meer want enige oorskiet sal die vlge dag verslind word agter die lekker bros korsie aan. *Neem net in ag dat die kors in ‘n voedselverwerker gemaak word – hoop jou vakansiehuis het een! Terwyl die hoender posjeer maak jy die korsie in ‘n japtrap.
Hierdie resep is uit Marcus Wareing se boek Nutmeg & Custard. As jy dit nie vir Kersfees maak nie, is dit die ideale resep om Sondag-etes in 2012 op te kikker wanneer jy jou mense wil verras met iets troostend soos oondhoender, maar darem bietjie meer wil uithaal en wys.
Stap: Posjeer van hoender
Plaas die volgende in ‘n groot kastrol: 2 geelwortels (geskil en helftes gesny), 1 groot ui geskil en in kwarte gesny, 2 opgesnyde selderystingels, 10 takkies vars tiemie, 4 takkies vars dragon/‘tarragon’ (opsioneel), 4 geskilde en gekneusde knoffelhuisies, 6 peperkorrels, 2 wonderpeper-korrels, 2 naeltjies; 5 ml sout. Voeg genoeg warm water by om die groente te bedek. Sodra die water begin prut sit die hoender in die pot en prut liggies (met deksel op) vir 45 minute. Haal die hoender uit die aftreksel en laat dit dreineer sodat die hoender bietjie kan droog word voordat die kors opgesit word. Behou die aftreksel om die sous mee te maak.
Stap: Krummelkors
Sit die volgende in ‘n voedselverwerker: 6-8 snye bruin brood, korsies afgesny (‘n klam, volgraanbrood soos ‘n seedloaf werk baie goed); 100 g amandels – gerooster met skil aan; 50 g gerasperde Parmesaan, pecorino of grana padano; ½ bossie tiemieblaartjies; ½ t fyn sout; 60 ml olyfolie. Pols dit tot die amandels fyn is en die bestanddele ‘n homp vorm. Bedek die geposjeerde hoender met die krummeldegie en bak vir 45 minute teen 150°C.
Sous
Gooi die posjeer-aftreksel deur ‘n sif en laat stadig afkook tot ‘n derde. Haal van die hitte af en klits 5 ml korrelmosterd en 100 ml room by.
Leave a Reply