Fondue – Koning van die ‘Groot Dip’

22 Jun

Almal praat weer oor retro-kos: vol au vents, chicken a la king, vormslaaie, gevulde eiers, kaas-en- wynpartytjies, canapes, ‘devilled eggs’ en crudites.  Veral crudites. Dit was immers die era van chips en dips. Ek was ’n student  in die die sewentigs toe die “dip wil ons dip!”-koors op sy hoogte was (maar mens wil ook nie te veel uitlap oor die studentedae se dinge nie!)  Ek kan wel noem dat ons gedink het groentestokkies en maaskaasdips gegeur met pakkies bruin-uiesop is baie grand.

Die Big Dipper … kaasfondue. Saveur het besondere lekker fondue-resepte.

Die Koning van die Groot Dip was egter die fondue. Die ‘Big Dipper’ supreme. Daar was ‘n paar minder suksesvolle pogings met fondue bourguignonne (ons was so, so deftig) waar die olie nie warm genoeg is nie en die vaalgekookte stukkies vleis nie baie aptytlik was nie.   Die pret het maar eintlik meer gegaan oor die stukkie vleis wat afval en dan moes mens iets verspot doen … die detail vervaag gelukkig op hierdie punt.

{So ‘n bietjie ‘wiki-fondue-pedia’}

Die klassieke Switserse fondue bly nommer een. Die woord fondu is eintlik Frans vir ‘gesmelt’, maar fondue het ontstaan in die Switsers Alpe in die kanton Neuchatel. Verskillende kase soos Gruyère en Emmental word  saam met wit wyn gesmelt  en met kirsch gegeur.

Daar’s ook fondue chinoise (seekos of vleis in warm aftreksel) of die Mongoolse tipe hotpot wat ‘n kamma-fondue is.

Uit die noordweste van Italië kom fonduta: dit word gemaak met melk, bietjie mielieblom, fontina kaas, botter – en wat dit anders maak eiergele – en  witpeper. Dit word gegeur met truffels; ek gebruik ‘n paar druppels truffelolie.  Sit voor met roosterbrood of blokkies polenta.

Tradisioneel word kaasfondue in ‘n erdeware pot gemaak, maar enige hittebestande pot sal werk (kyk uit by vintage-winkels vir daai oranje fonduepotte wat op elke bruid se wenslys was). Die fonduemengsel word op die stoof gemaak en dan aan tafel op ‘n hitteplaatjie gesit.

Dis maklik genoeg, maar daar is ‘n paar truuks wat ek sedert my studentejare geleer het. Bevryf die pot met knoffel, gooi die wyn in (ek verkies sauvignon blanc), bring tot kookpunt en verlaag dan die hitte. Meng die gerasperde kaas met ‘n bietjie koekmeel of mielieblom en roer dit dan geleidelik by die warm wyn in. Voeg ‘n bietjie kirsch, brandewyn en peper by. Mens benodig so 150 g kaas per persoon en sowat 200 g broodblokkies per persoon.

Kaasfondue pleks van kaasbord

Kaasfondue kan ook ‘n lekker wintervoorgereg of selfs as kaasgang instaan.  Iets soos bloukaasfondue: smelt Simonzola bloukaas in ‘n soet witwyn soos gewürztraminer.  Sit dit voor met broodstokkies of te wel grizzini gemaak van brooddeeg waarin jy stukkies okkerneute sit. Bedien met vars pere.

Fondue vir suikertande – Donkersjokolade-fondue  met churros

Churros – Spaanse fondue in ‘n koppie

‘n Fondue-nagereg is ’n gesellige affêre. Jy kan jou lyf soettand-Spanjaard hou en ‘n donkersjokolade fondue voorsit met churros: smelt eers donkersjokolade saam met room en sit dan so ‘n titsel droë rissievlokkies, bietjie brandewyn, lemoenlikeur en fyn lemoenskil in ‘n kastrol. Dan  vat ek een van die mooi nuwe tee-liggies in ‘n krale en draadbakkie, sit ‘n moderne wit bak bo-op, laat dit warm word en gooi dan die sjokolade mengsel in.  Dan… wat dit so Spaans maak – in plaas van vruggies op stokkies, laat doop die gaste  churros koekstafies  daarin. Churros word van ‘n tipe deegmengsel gemaak wat deur ‘n koekiedrukker in worsies uitgedruk word en dan ‘n baie warm olie – amper soos koeksisters gebak word. Dan word die churros met kaneelsuiker besprinkel.

Saam met  sjokolade en churros fondue speel jy Spaanse kitaarmusiek van die playlist af en versier die tafel met ‘n groot bak Seville lemoene – Ole!

Eenvoudig-elegant op Martha se manier

Liewe Martatjie se stylvolle voorsit van sjokolade-fondue. Ek bedien dit met potketelbrandewyn. (Foto Martha Stewart.com)

Die grootste lekkerte is sjokolade-fondue met marshmallows, stukkies gekristalliseerde gemmer, droë vye, pruime en appelkose om in die sjokoladesous te doop. Ander droëvrugte wat jy kan doop is droë pynappel, neute, of selfs broskoekies (shortbread)of madeleines. Baie smart. Baie Martha Stewart.  Hierby bedien ek ‘n kelkie potketelbrandewyn uit Barrydale in die Klein Karoo…. ‘n geheim wat ons nie deel met liewe Martatjie nie.

Resep:

500 g donker sjokolade, grofgekap

500 mℓ dik room

Smelt die sjokolade en room in ‘’n vuurvaste bak oor ’n kastrol met liggies-kokende water. Roer met ’n houtlepel tot die mengsel glad is. Verdeel dit tussen 8 bakkies en sit voor met die bykomstighede.

2 Responses to “Fondue – Koning van die ‘Groot Dip’”

  1. lindyvh2015 January 14, 2015 at 11:16 am #

    Liefste Erieda,

    Vandag het ek besluit om ook te begin blog, sien ek het ook ‘n grooooot liefde vir kos, geure, herhinneringe. Dis net ek’s nog so jonk, ek weet min maar lief baie 🙂

    Ek verslind jou reseppies hier en ook op Instagram. Ek is soos ‘n sponsie en spot altyd dat jy my kos-mamma is, want wat Erieda maak is REG! Ek self het groot geword sonder ‘n Ma, ek mis die bak & brou in die kombuis en as ‘n Mamma vandag prober ek als met my dogtertjie doen. Laa haar ruik aan verskillende kruie, ‘n proe aan ‘n stukkie sitrus skil, laat haar speel met ‘n stukkie deeg en bak selfs die “wurm” wat sy gemaak het…
    Ek leer so baie van jou (al was jy nie mal oor my Japanese vertikale switsere rolkoek wat ek vir die Koekedoor Kaapstad Oudisie gemaak het nie hehehe)..

    Baie dankie vir dit. DIT. Hierdie blog. Dit laat my tuis voel.

    Kos-liefde
    Lindy

    • huiskok January 14, 2015 at 11:35 am #

      Liewe Lindy, hoe heerlik om van jou te hoor. Jy skep soveel herinneringe saam met jou dogtertertjie. En hou aan bak en kosmaak, by die volgende oudisie sien ek jou weer.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: