Nuwe byvoeging tot blog-inskrywing: Ek het hierdie insiggewende kommentaar van Peter Veldsman ontvang na die plasing van hierdie blog oor madeleines, dat ek graag dit wil begin met sy woorde. Lees dan die res met sy wysheid in gedagte!
Liefste Erieda – Lees vanoggend dat een van die sonnigste mense wat ek bevoorreg was om te ken, Coto Meaker, oorlede is. Terwyl ek dit lees, lees ek ook ‘n ou Gourmet – die heengegane kostydskrif – toe kom jou stem oor RSG en gemmerkoekies. Ek blaai die Gourmet om en Proust se madeleintjies is daar. Om by jou gegewens te voeg: Proust plaas die bron van sy koekies in die Rue Saint-Jacques in die huis van tante Léonie in die dorpie Illiers. Die straat staan deesdae bekend as Rue du Docteur-Proust en die dorpie as Illiers-Combray. Sowat 113 km vanaf Parys op die Oostelike autoroute (roete N10), indien iemand wil gaan kyk. Nog iets – die resep vir madeleines het nooit vanielje bevat nie. Lemoenbloeiselwater en gerasperde lemoenskil om dit te versterk is gebruik.
Liefde
Peter
Madeleines, die eg-Franse koekies met die suurlemoensmakie en skulpie-voorkoms is meer as net koekies. Soos vele ander koswoordenaars kan ek nie oor hierdie koekies berig sonder verwysing na Marcel Proust en sy ‘Madeleine Oomblik’ nie: daardie herinneringe wat soos uit die niet verskyn deur iets te proe.
- ”I raised to my lips a spoonful of the tea in which I had soaked a morsel of the cake. No sooner had the warm liquid mixed with the crumbs touched my palate than a shudder ran though me and I stopped, intent upon the extraordinary thing that had happened to me.” Uit: Remembrance of Things, Marcel Proust.
Ek maak van madeleines-bak ‘n ritueel. Beplan die maak daarvan. Dis ‘n koekie van alledaagse bestanddele wat deur haar mooi storie (en ewe mooi skulpievorm) uitstyg bo die skons, muffins en cupcakes van ons dag. Die bakster (bakkers ook) het nie fancy geite nodig nie, maar wel ‘n madeleine-koekpannetjie om eenvoud na skoonlief te omskep, sodat sy een kant riffelstrepe het en effense boggelruggie aan die ander kant.
{Madeleines vol belofte}
Ek vermoed dis nie my laaste storie oor madeleines hierdie nie, want elke keer as ek dit maak kry ek ook die lus om te kyk watter ander smaakmoontlikhede nog in haar wag:
Madeleines gegeur met rooibostee. Of om soos Kobus van der Merwe van Oep ve Koep in Paternoster my van vertel het – om dit met wildeheuning te maak soos die madeleines wat hy van Parys onthou. Jy kan met sjokolade of met speserye speel – fyn gemmer, kaneel, naeltjies en ‘n bietjie swartpeper; jy kan die witsuiker met bruinsuiker vervang; die een helfte in gesmelte sjokolade doop. Of ‘n lepel kitskoffie by die mengsel roer vir mocha-madeleines. Jy kan selfs soutige madeleines maak. ‘Hey, don’t knock it before you try it.’
{Madeleines maak is maklik}
Vir ‘n eerste kennismaking begin gerus by die basiese madeleine. Madeleines is maklik, ongeag die show wat sommiges daaroor opsit – asof die Proust-verwysing iets verhewe daarvan maak; asof dit net vir literati-elite-geleerdes is.
Ek gebruik ‘n resep uit Bon Appetit tydskrif wat die resep so mooi inlei: “This cookie launched a thousand memories….” Vir geurmiddel word daar by die klassieke smaak van suurlemoenskil gehou. Gelukkig het ek ‘n flessie suiker, gegeur met ‘n vanieljepeul, anders is goeie vanielje-ekstrak voldoende. Die raad wat ek verder het is om die madeleine-beslag sagkens te hanteer; dit so min moontlik te meng; jou panne behoorlik te smeer en meel oor te sif, sodat die gaar koekies uit die pannetjie kan glip.
Bestanddele
2 groot eiers
2/3 koppie suiker
5 ml vanieljegeursel (onthou Peter se woorde dat vanielje nie outentiek is in madeleins nie – as jy egte lemoenbloeisel essence het, gebruik dit)
skil van 1 suurlemoen
knippie sout
1 koppie (250 m) koekmeel
150 ml ongesoute botter, gesmelt en effe afgekoel
Maak so:
Verhit die oond tot 190C. Smeer die madeleine-pannetjie met botter en sif bietjie meel oor.
Klits die eiers en die suiker in ‘n mengbak tot net gemeng. Klits die vanielje, suurlemoenskil en die sout by. Klits die meel by tot net-net gemeng (sommige resepte beveel aan dat die meel net ingevou word). Voeg nou die gesmelte botter in ‘n straal by en klits net genoeg om dit te meng.
In die volgende stap wyk ek effe van die Bon Appetit af en laat staan die deeg vir ‘n halfuur voordat ek dit bak. Sommige resepte beveel selfs aan om die deeg tussen 4 tot 8 ure te laat rus. Of dit die eindresultaat wesentlik raak weet ek nie, maar ‘n bietjie wag is maar my madeleine-maak-manier.
Skep nou ‘n eetlepel vol van die beslag in elke panholte sowat 2/3 vol. Bak tot goed uitgerys en goudbruin – afhangende van jou oond en of jy petite of groter madeleines maak, kan die baktyd tussen 10 – 15 minute wees. Keer versigtig uit. Herhaal die proses met die res van die beslag.
Sif versiersuiker oor die koekies net voor bediening. Die koekies kan ‘n dag voor die tyd gemaak word; alhoewel ek verkies dit pas gebak – terwyl die reuk van die gebakte koekies nog in die lug hang terwyl ek die ketel aansit om die tee te maak.
Jy kan ook suurlemoen-gegeurde versiersuiker oorsif (1/4 koppie versiersuiker gemeng met die fyngerasperde skil van 1 suurlemoen). Dit sal die moontlikheid van jou eie ‘madeleine-oomblik’ verder versterk.
*Vir my eie madeleine-oomblik diep ek mooi ou teekoppies uit die rak.
*Errieda du Toit is die Huiskok wat weekliks saam met Francois op RSG gesels in die kos-insetsel Huiskok Glanskok. Kwetter saam met my op Twitter @huiskok.
*Die fotos is met iPad op Instagram geneem – ek het tog te lekker met die verskillende filter-verstellings gespeel.
wat n pragtige post!! pragtige fotos, woorde …so so mooi
Anel, woorde is my kos! baie dankie hiervoor. life is a madeleine vir my
Liefste Erieda – Lees vanoggend dat een van die sonnigste mense wat ek bevoorreg was om te ken, Coto Meaker, oorlede is. Terwyl ek dit lees, lees ek ook ‘n ou Gourmet – die heengegane kostydskrif – toe kom jou stem oor RSG en gemmerkoekies. Ek blaai die Gourmet om en Proust se madeleintjies is daar. Om by jou gegewens te voeg: Proust plaas die bron van sy koekies in die Rue Saint-Jacques in die huis van tante Léonie in die dorpie Illiers. Die straat staan deesdae bekend as Rue du Docteur-Proust en die dorpie as Illiers-Combray. Sowat 113 km vanaf Parys op die Oostelike autoroute (roete N10), indien iemand wil gaan kyk. Nog iets – die resep vir madeleines het nooit vanielje bevat nie. Lemoenbloeiselwater en gerasperde lemoenskil om dit te versterk is gebruik.
Liefde
Peter
is dit nou nie die heerlikste kommentaar om te lees nie. Nou WIL ek die straat en die dorpie besoek! En ek sal onmiddellik die resep aanpas om so outentiek moontlik ware madeleintjies te maak! Dankie Peter, my en almal se kosheld.