Gestoofde koejawel en okkerneut ‘crumble’ uit Jerusalem

19 Oct

Gestoofde koejawels. Net die gedagte daaraan het my klaar in ‘n beswyming.

Daar is ‘n ander woord ook wat kosliefhebbers en kookboekversamelaars se ore laat spits en mond laat water: Ottolenghi.  Ottolenghi is die naam van ‘n Joodse kok Yotam Ottolenghi, en ‘n restaurant/deli in London wat sy naam dra. Dis vir my ook ‘n styl van kook: interessant,  vars, oorspronklik – met ruim skepsels Midde-Oosterse romantiek.

Ottolenghi en Tamimi wys hoe kos die vredemaker kan wees. Hulle glo hummus kan vrede bring tussen Jood en Palestyn.

Dis die verhaal van Ottolenghi en sy vennoot-en-vriend Sami Tamimi wat my geraak het met hul eerste kookboek:  Hulle kom beide van Jerusalem en het mekaar in London ontmoet – Yotam is die Jood en Sami Tamimi is die Palestyn. Oor kos het die twee die eeue-oue stryd tussen hul kulture en gelowe oorbrug. Ottolenghi is vir my ook ‘n verhaal van vrede.

Ek hou van ‘n mooi storie, en hul kookboeke met hul vredesboodskap is eregaste in my kombuis.  En nou is daar hulle nuutste boek Jerusalem op die rak, vol van geure uit hul kinderjare in hierdie antieke stad. En mense, dis die lekkerste resepte – sommige tradisioneel en ander byderwetes geinspireer deur die stad. In linne oorgetrek het die boek ‘n wonderlike antieke gevoel – iets kosbaars.

En soos ek deur die lieflike boek geblaai het, het ek net weer besef hoe universeel sekere smake is: daar’s soveel dinge waarvoor ons almal lief is en deel, ongeag ons kultuur- en geloofsverskille. Soos hulle resep vir ‘n koejawel-nagereg.

Dalk het jy ook soos ek grootgeword met gestoofde koejawels;  my ma het dit in sulke groot glasflesse ingelê. Ek sny sommer ‘n blik oop en eet dit met Ideal melk (ingedampte melk). Ander mense eet dit met vla.

Die parfuumgeur van die koejawels en die neuterigheid van die bakkende krummels het die hele dag in my kombuis gehang. Ons het tot die tafel gedek in ‘n Midde-Oosterse tema vir die kos uit Jerusalem

Toe ek die resep vir koejawel nagereg in Jerusalem raaksien, was dit liefde op die eerste oogopslag – en ook die eerste resep wat ek gemaak het uit die boek.  Jy kan enige vrugte smaakmaats gebruik – hulle het bv. koejawel met pruime gebruik; ek het aarbeie saam met die koejawel gekook.

As jy wil, beveel die manne van Jerusalem aan om die vrugte selfs verder te geur met soet speserye soos allspice (wonderpeper), kaneel, neutmuskaat, foelie of naeltjies of vars kruie soos marjolein, basielkruid, of selfs sitrusskil.

Wat my besonder belustig gemaak het is die heerlike neute crumblewaarmee  dit bedien word en die kardomom-gegeurde room waarmee dit bedien word.

Skep die pitte sommer met ‘n teelepel uit.

Vir die gestoofde Koejawel en aarbeie (ook genoem compote):

4-6 koejawels, ontpit en in 3 cm stukke gesny

1 bakkie (sowat 300g) aarbeie, gewas, stingels afgesny en in helftes gesny OF 6 pruime, ontpit en in kwarte gesny (300 g)

30 ml (2 E) strooisuiker

15 ml (1E) suurlemoensap

15 ml (1E) water

Plaas die bestanddele in ‘n medium kastrol en stowe oor  lae hitte vir sowat 15-2o minute tot die vrugte heeltemal sag is – jy moet nou en dan roer. (Indien jy ander vrugte gebruik, pas net die hoeveelheid suiker en die kooktyd aan na jou smaak)

Vir die okkerneutkrummel (‘crumble’)

40 g volgraanmeel (soos Nutty Wheat)

40 g koekmeel

50 g koue ongesoute botter, in 2 cm blokkies

3 1/2 E ligte bruinsuiker

Knippie sout

100 g okkerneute, grof gekap

Om die krummel te maak: verhit die oond tot 190 C. Sit nou twee soorte meel in ‘n groot mengbak met die botter, suiker en sout.  Vryf die mengsel met die vingerpunte tot die tekstuur soos broodkrummels lyk.  Roer die okkerneute by.

Plaas bakpapier op ‘n bakplaat, strooi die mengsel daarop en bak vir 15-20 minute tot die krummels deurgebak is en ‘n ligte goudbruin kleurtjie kry.

Room*

*Ek het net jogurt en mascarpone gebruik en die room uitgelos; en dit net met ‘n ballon-klitser geroer tot gladde tekstuur. Na my mening is dit net bietjie te rojaal en geil om drie tipe rome te gebruik!

150 ml slagroom

100 g Griekse jogurt

100 g mascarpone

15 ml (1 T) strooisuiker

½ t vanieljegeursel

½ t fyn kardamom

½ steranys, fyngemaal

Plaas die bestanddele in ‘n groot mengbak en klop tot sagte punte, maar weer versigtig om dit nie te veel te klits nie. Die mengsel is aanvanklik redelik dik, maar ‘n minuut se klits is voldoende.

Opdiening:

Skep ‘n lepeltjie room onder in die poedingbakkie, skep die vrugte bo-op en sprinkel die krummels kwistig bo-op.

Dit is besonder lekker as dit goed verkoel is.

Ek het gaan sit met ‘n koppie tee en rustig deur Jerusalem geblaai – ‘n heerlike reis wat my nog lank in die kombuis sal inspireer. ‘n Uitstekende belegging.

*Jerusalem deur Yutam Ottolenghi en Sami Tamimi word deur EBury Press uitgegee. Hardeband. R415.

Loer gerus die volgende paar dae weer in, want ek gaan nog ‘n paar resepte uit Jerusalem maak en met jou deel.

6 Responses to “Gestoofde koejawel en okkerneut ‘crumble’ uit Jerusalem”

  1. Johann Nell October 21, 2012 at 12:33 pm #

    Hallo, ek is deur my huismense opdrag gegee om vir jou te skryf aangaande die vrugte en neute compote uit Jerusalem. Dit is loshande die heel heeel heeeel lekkerste nagereg wat ek nog ooit gemaak het. Ons het dit Saterdag met koejawels en aarbeie geëet, en vandag,Sondag, weer met somer ‘n blikkie perskes. Dit was fantasties. Hierdie is beslis die uithangpoeding wat ek sal maak as ek iemand wil bederf. Baie danlie hiervoor. Ek dink hierdie nagereg kan pryse wen, in kostydskrifte verskyn, op TV spog en beslis oorsee reis na die heel beste restaurante. Ek wil egter net een ding weet, dit blyk dat een bestannddeel uitgelos is – suiker- by die room en mascarpone mengsel. Hoeveel suiker moet daar in? Ek het ook 40 gm bygevoeg. Dit was heerlik.

    • huiskok October 22, 2012 at 8:54 am #

      Hi Johann, ek is so bly daar is nog mense wat so verlief is op die koejawel ‘krummel’! Die ander resepte uit die boek Jerusamel van Yotam Ottolenghi is almal so spesiaal. Hierdie was egter een van my allergunstelinge. Die oorspronklike resep vra net 1 eetlepel strooisuiker in die room; ek self los dit uit omdat die koejawel se soet stroperigheid vir my genoeg is, maar dit kan ook lekker wees met ‘n bietjie suiker om die surigheid bietjie te tem.

      Ek het ook juis weer gister koejawels en aarbeie gekoop om dit te weer maak.

  2. nina October 20, 2012 at 6:59 am #

    Kos is mos maar die vredemaker, die trooster en die gom wat families en vriende aanmekaar hou!! Die koejamwels gaan beslis ‘n plekkie op my naweek tafel vind!

    • huiskok October 20, 2012 at 8:14 am #

      Dis so waar! Ek gaan dit ook sommer weer die naweek maak terwyl dit nou koejaweltyd is.

  3. huiskok October 20, 2012 at 9:55 am #

    Mama Miyuki Easy Pantsy, how awesome to be seen as inspiring, with so many inspirational bloggers doing their thing. Thank you

Trackbacks/Pingbacks

  1. Inspiring Blog Award | Mama Miyuki Easy Pantsy - October 20, 2012

    […] Bloggers for Inspiring Blogger Award! Congratulations! 1. Illustratedbites 2. Spontaneoustomato 3. Huiskok 4.Lose Weight by Eating! 5. FunnyLove 6. KellySiewCooks 7. Thelittleloaf 8. Saltandserenity 9. […]

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: