Van boks-snob tot woepsie-aanhanger: ek maak Herman se rooifluweel whoopie pies

26 Oct

Vandag word daar whoopee gemaak in die RSG radio-ateljee.  RSG vier sy 75ste bestaan en ek vat vir Martelize Brink ‘n bordjie vol soetgoed wat ons saam met De Grendel se MCC vonkelwyn gaan geniet.  Hoekom ek hierdie resep kies waaroor ek reeds op ‘n vorige geleentheid gepraat het? Want dis naas die sagopoeding resep, die een ding wat die luisteraars, bloglesers en koerantlesers die meeste op hol gehad het!  Whoopie-maak is uiters gewild!

Met Pienk peperkorrels neem ek woepsies van kinder-eetgoed tot grootmens-genot

Ek was tot onlangs ‘n self-erkende bokssnob, tot ‘n resep vir whoopee-pies my tot inkeer gebring het.  ‘Another bride, another June Another sunny honeymoon Another season, another reason For makin’ whoopee’ sing Frank Sinatra en Ella Fitzgerald.

Dr John en Rickie Lee Jones ook. Die jazz-liedjie Makin’ Whoopee met sy stoute ondertone van blommetjies en bytjies (geskep deur Donaldson en Kahn) is egter so ver van whoopie-pies as ‘n skon van ‘n troukoek.

Die Amerikaanse whoopie-pies, wat ek herdoop na woepsie-koekies – of sommer net woepsies – is nie koekies met ‘n ouderdomsperk om laatnag te verorber saam met 50 Shades of Grey nie. Dis ‘n onskuldige lekkerny met sy oorsprong in die Amish-gemeenskap van Pennsylvania. So vroom dat dit  tradisioneel met ‘n glas melk geniet is. As jy nog nie self  ‘ge-whoopie’ het nie: dis  twee koekies opmekaargeplak met ‘n vulsel. Dis beskuitjiebros buite, en ten volle koek-se-kind binne.  Half-kolwyntjie. Half-soetkoekie.

Hier wag die klaargemaakte woepsies om opmekaar geplak te word met die roomkaas versiering … en pienk peperkorrels!

Vandag se bekoorlike een-happie woepsies lyk egter nie soos hul voorsate nie. Destyds was dit amper so groot soos hamburgers. Ek oordryf nie. Dis ook maar goed dat woepsies se  oorspronklike benaming ‘gobs’ nie bly kleef het nie. Die koekies is destyds in die mynwerkers se kosmandjie gepak; en omdat steenkool-hope as gobs bekend gestaan het, is die hopies-koekies met die naam opgesaal. Die vrome Amish whoopie-makers reken dis mettertyd herdoop omdat kinders ‘whoopie’ gejil het as die koekies uit die oond gekom het. Die oorspronklike koekie was sjokolade-gegeur met ‘n marshmellow-vulsel.

Vandag ontgin bakkers alle geur- en smaakmoontlikhede en versierings. So behep is die New Englanders met whoopie pie dat daar selfs ‘n Whoopie Pie Fees gehou word in Strasburg, Pensylvannia,  met sy eie Whoopie Feeskoninigin. Sowat 130 nuwe variasies word jaarliks by dié fees bekend gestel. Dis ook die staat Maine se offisiële nagereg.

Ek het ook onlangs gewoepsie. Maar eers moet jy dit  weet voor ek verder vertel: Ek het nog nooit ‘n koek uit ‘n boks gemaak nie. Nie koek nie. Nie skons nie. Nie muffins nie. Selfs nie eers Ina Paarman se ikoniese boksmengsels nie. Ek is/was onbeskaamd boks-bevooroordeeld. Voorbok in die anti-boks kamp. ‘n Bokssnob.

Toe verlei Herman Lensing, Sarie se kosredakteur my met ‘n artikel oor rooifluweelkoek (nog ‘n juweel uit die Amerikaanse baktradisie). Die rooi fluweel-whoopie pie, veral, het my gesteel. Ek moes terstonds die twee Amerikaanse ikoniese koektradisies whoopie en rooi fluweel-in-een maak.

“Dié klein koekie is deesdae oral geliefd, vertel Herman. “Die beste van die resep is dat jy dit met ’n gekoopte bakmengsel kan maak.”

O mensdom. Ek moes terstonds my fiemies in ‘n boks bêre, want as Herman (‘n bekroonde kosskrywer) die boksroete kondoneer behoort ek dit ‘n kans te gee.  Werk dit nie, kon ek hom en die boks die skuld gee. Nou dat die woepsies wel een van die jaar se grootste suksesse uit my oond is, vat ek natuurlik alle eer vir myself. Bakkers-voorreg.

my gunsteling nuwe koekies (uit die boks gemaak) op my gunsteling kleinbordjie.

Huiskok se Woepsie-wenke: Lees gerus die wenke voor jy begin woepsie maak

 * Herman beveel aan dat die koekies met versiersuiker besprinkel word. Om die koekies my eie stempel te gee- en nog meer grootmens te maak, het ek die versierselrand wat tussen die twee opgeplakte koekies uitpeul in pienk peperkorrels gerol. Dit gee ‘n krakerigheid, pikante smaak en lyk soos sequins op die rooi fluweel.

*moenie jou doodskrik as jy sien daar kom ‘n volle botteltjie rooi kleursel in nie. Die resep is korrek en dit werk. *skaf gerus ‘n spesiale whoopie-koekpannetjie aan as jy kan – twee nog beter.

*’n Spuitsak werk baie goed om die deeg in die pannetjies te skep. Wees presies dat jy dieselfde hoeveelheid in elke pannetjie skep.

*Die koekies moenie oor die rand rys met die bakkery nie, so spuit eerder minder as meer in.

*As die koekies te veel bo-op kraak is jou oond dalk te warm. Myne maak krake en dit pla nie.

*ek beveel Simonsberg se tradisionele lae-vet roomkaas vir die vulsel aan; nie omdat ek al vir hulle skakelwerk gedoen het nie, maar  omdat die sagte lug-ingeklitste romerigheid  die inklits by die botter en versiersuiker makliker maak.

*Die resep maak heelwat roomkaas-vulsel – so moenie suinig wees met die vulsel nie.

HERMAN SE ROOI FLUWEEL-WOEPSIES

My gebruik van pienk peperkorrels is natuurlik heeltemal opsioneel, maar feestelik. Ek vind selfs kinders hou van die korreltjies.

sowat 24 koekies

• 1 x Ina Paarman- sjokoladekoekmengsel • 250 ml karringmelk • 250 ml kanola-olie • 3 groot eiers • 1 x 30 ml-botteltjie rooi koskleursel

ROOMKAAS-VULSEL • 120 g sagte botter • 240 g versiersuiker, gesif • 230 g roomkaas (my wenk: gebruik Simonsberg tradisionele roomkaas / kyk uit dat ander handelsname se verpakking nie dalk 180g is nie) Opsioneel: Pienk peperkorrels om dit in te rol: dis my eie toevoeging tot die oorspronklike Sarie-resep.

Verhit oond tot 180 °C. Plaas koekmengsel, karringmelk, olie, eiers en kleursel in groot mengbak. Roer met draadklitser tot gladde mengsel en vul ’n spuitsak met ’n 1 cm-tuit. Vul whoopie-panholtes met die mengsel of spuit 2,5 cm-sirkels op ’n bakplaat met kleefwerende kossproei gespuit. Bak 8 – 12 minute of tot gaar. Laat afkoel.

Roomkaas-vulsel Plaas botter in elektriese menger en klits tot romerig, sowat 5 – 8 minute. Voeg versiersuiker en roomkaas by. Meng goed. Skep ’n bietjie van die versiersel op die helfte van die gaar koekies. Plak elkeen toe met een sonder versiersel. Sif versiersuiker oor en sit voor. *Rol party op hul kant in pienk peperkorrels.

Kook saam. Eet saam. Praat saam: Ek praat gereeld  op RSG as Huiskok met Martelize Brink. Kwetter saam met my  op Twitter @huiskok  of sluit by my aan op Facebook. 

3 Responses to “Van boks-snob tot woepsie-aanhanger: ek maak Herman se rooifluweel whoopie pies”

  1. Marian van Niekerk October 30, 2012 at 12:50 pm #

    Ek kan nie wag om dit te maak nie!!! Maar kan mens iets anders as die versiersuiker gebruik – net die roomkaas miskien? Ek het ‘n soettand maar nie sooooo soet nie! Marian

    • huiskok October 30, 2012 at 3:45 pm #

      Hi Marian, die roomkaas op sy eie gaan dalk te smaakloos wees; jy kan die versiersuiker en botter in verhouding verminder, maar dis nie baie soet nie. Jy kan verder enigiets gebruik wat die koekies aan mekaar sal plek. Ek gaan ook bietjie speel met ander idees vir vulsels. Laat weet my ook as jy iets raakloop. Groete.

  2. Louise October 26, 2012 at 2:19 pm #

    Die woepsies lyk soos rooibek lekr sonder vlek en tog so fluweel mooi.Ek sal probeer.Ek moet oefen dan as uitgespaar bak vir seun se matriekafskeid vlde jaar.Dit lyk soos matriek woepsies ook.Vrou kyk waar dink ek al,maar dis die uitwerking wat die woepsies dan nou het.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: