Meringue burgers met haselneute en sjokolade vir die birthday boy

15 Feb

‘n Meringue burger wat ‘n opmaakpoeding is? Ja, dis alweer ‘n soetding met ‘n back story, want dis eintlik my man Ian se verjaarsdagkoek  wat 10 dae na die groot dag eers tot bak gekom het.

Hier praat ons van ‘n ‘grande finale’, ‘piece de resistance’-tipe nagereg. Verdomp ryk, divinely neuterig-sjokoladerig soet – en dit lyk tog te pragtig op ‘n mooi koekbordjie. Iets tipies van hierdie Du Toit Huis van Overdaad.  Noem dit  pavlova sliders. Noem dit haselneut-meringue burgers, maar opmaak moes dit opmaak.

aa meringues op lap MOOI IMG_3065 Small

Die ding werk so. Ek het groot planne gehad om vir hom ‘n formidabele drie-laag meringue verjaarsdagkoek te bak wat ek iewers in ‘n oorsese tydskrif op my tablet (iPad) afgelaai het. Daar gebeur dit toe dat ek ‘n ellendige maaggriep het met sy verjaarsdag en myself nie tot in die kombuis kon kry nie.  Ek het wel vir hom die foto van die indrukwekkende koek gewys en met ‘n flou stemmetjie geprewel: So lyk jou verjaarsdagkoek – ek belowe ek gaan dit vir jou maak.

 

Ian collage

Laas Sondag toe ek die koek wil begin maak lees ek in die betrokke resep dat dit ‘n meringuekoek is wat die vorige dag gemaak moes word, oornag gevries sodat dit die volgende dag so yskoud in snye opgesny moet word, anders verbrokkel die koek. Ek moes ‘n ander plan maak en besluit daar en dan om eerder mini-pavlova stapeltjies te maak: dan het elk-man sy eie koek en niks gebodder nie. ‘n Paar aanpassings, ‘n bietjie blaai deur hierdie boek en daardie boek en uiteindelik kry ek die plan om Manlief sy verjaarsdagkoek in die vorm van ‘n meringue-burger te gee.

aaa 3 meringues op lap met roos IMG_3061 Small

Die kombinasie van haselneute en sjokolade is sy gunsteling, en die burger-voorkoms sit iets speels by die soet. Die room word opgekikker met die lekkerste haselneut-pralien denkbaar: alhoewel dit ‘n ‘sjefferige’ truuk is, is dit baie eenvoudig om te maak. Dit was eintlik  ‘n lekker ervaring om deur die verskillende stappe  te gaan – met Ian wat hier en daar handjie gee en my ma wat in die sitkamer sit en klavier speel het terwyl ons die soet verleiding aanmekaar sit vir die ‘belated’ verjaarsdagete.

As jy totaal over the top wil gaan vir ‘n spesiale viering kan jy selfs ‘n ‘sparkler’ in die meringue burger druk of met  ‘n eetbare blom (van ‘n gesiggie of kappertjie tot roosblaar of laventeltakkie) versier.

Alhoewel hier drie meringue ‘buns’ per persoon voorgesit word, kan jy ook net twee gebruik, maar van die effek gaan verlore. En ek kon nie met ‘n skamele twee-laag meringue burger opmaak vir die feit dat dit 10 dae laat was nie!

aaa bestanddele meringue IMG_2870 Small

Meringue ‘burgers’ met haselneut en sjokolade 

Bedien 4 baie ruim porsies (3 sirkels per porsie)

Bedien 6 met 2 sirkels per porsie

Vir die meringues

4 groot eierwitte

5 ml suurlemoensap

100 g goue strooisuiker (verpoeier gewone geelsuiker in ‘n versapper/voedselverwerker)

100 g versiersuiker

50 g haselneute, fyngemaak in voedselverwerker

10 ml kakao

Vir die haselneut praline-room

100 g wit strooisuiker

100 g haselneute (heel)

150 ml klitsroom

Vir Sjokolade sous

50 g geel strooisuiker (verpoeier gewone geelsuiker in versapper/voedselverwerker)

50 g kakaopoeier

50 g donkersjokolade, fyngekap

Verhit oond tot 120°C*. Voer ‘n bakplaat uit met bakpapier. Trek sirkels van 7 cm in deursnit op die papier (dit help om die meringue ‘burger rolletjies’ almal ewe groot te maak.) Jy benodig 3 meringue sirkels per porsie.a Meringue en neute in mengbak IMG_2872 Small

Maak die meringue: klits eierwitte en die suurlemoensap saam tot sagte punte. Vou die strooisuiker ‘n paar skeppe op ‘n slag by en klits tussen elke byvoeging. Meng die versiersuiker, kakao en die fyngemaakte neute saam deur, gooi dit by die meringue en vou sagkens in tot dit goed deurgemeng is.

Spuit of skep die meringue in die sirkels – maak effe plat om dit makliker te maak vir die opstapel. Bak sowat 1 ½ -2 uur tot bros buite, maar nog sag binne. Laat afkoel.

*Ek was haastig toe ek die meringue-burger moes maak en het dit teen 150°C gebak vir sowat 60 minute. Dit was regdeur bros, maar dis soos my man – die ‘birthday boy’ dit verkies.

Wenk: die meringues kan vooraf gemaak word. Dit hou sowat ‘n week in ‘n lugdigte houer.

aa  4 meringues in rye op bordjies  IMG_3072 Small

Maak die haselneut pralien: Plaas ‘n vel bakpapier op ‘n bakplaat (jy gaan later die karamel daarop uitgooi om af te koel).

Verhit ‘n kleinerige swaarboompan oor matige hitte en kook die goue strooisuiker tot dit smelt. Wenk: hou dit die heeltyd dop en ‘swirl’ die pan wat help dat dit eweredig karameliseer. Gooi die heel haselneute by en ‘swirl’ in die karamel vir sowat 2 minute – versigtig – dis baie, baie warm! Gooi die mengsel uit op die bakplaat en laat afkoel. Kap die pralien fyn met die hand of in ‘n voedselverwerker. Hou eenkant.

a karamel pralien IMG_2876 Small

Sjokoladesous: Verhit 150 ml water, die strooisuiker en kakaopoeier tot dit begin kook. Haal van die plaat af en giet dit oor die opgekapte sjokolade. Meng tot glad.

Bediening: Klits die room tot sagte punte. Voeg die meeste van die gekapte pralien by die room. Plaas ‘n meringue sirkel op elke bord en smeer met sjokoladesous (dit sal effe oordrup). Skep hopie pralienroom bo-op, bedek met volgende sirkel, skep room-op en sit laaste sirkel op. Bestrooi met die pralien mengsel. Opsioneel kan jy ook versiersuiker en kakao oorsif.

Ek het ‘n halwe roosblaar bo-op gesit, maar dis jou keuse.

  • Volg Errieda Du Toit ook op Twitter @huiskok

 aaa meringue close up op keramiek IMG_3053 Small

4 Responses to “Meringue burgers met haselneute en sjokolade vir die birthday boy”

  1. flippenblog February 20, 2013 at 10:55 pm #

    Ag flip tog! Is al wat ek kan se.

    • huiskok February 21, 2013 at 12:58 am #

      maak die flippen ding en dan praat ons weer! Dankie vir die humor>

  2. nina February 15, 2013 at 9:27 am #

    Ek is oortuig daarvan dat Ian geensins omgegee het vir die groot lekkerkry nie. Ek dink ek verkies die individuele porsies, niemand sal ingedoen voel nie!

    • huiskok February 15, 2013 at 9:37 am #

      Ni Nina, ek moet erken, die porsiegrootte het my ondergekry, maar ek het my helfte gehou vir later en toe met die middagkoffie geniet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: