Chinese Beesstert – lekker tot op die been

26 Feb

Ou hande in beesstert-gaarmaak soek nie eintlik nog resepte nie. My vertroude resep kon ek geblinddoek doen. Maar op ‘n dag kruis ‘n bees se swiepende stert my pad op koers van die Verre Ooste of.

Loop saam met my op hierdie geurige pad van gemmer, sojasous en steranys, van Chinese kookwyn en bruinsuiker. Die sous en die vleis is klewerig, sielsgeurig, lymerig. Hou die jammerlappie byderhand, want jy gaan gou die messe en vurke neersit en die vleisbeentjies met die hande bykom.

Die metode wat gebruik word beteken ook dat die sous nie vetterig is nie, en die beesstert veel ligter is sodat jy dit selfs in die somer kan eet. Die meriete van hierdie resep gaan ek nie verder besing nie. Maak dit self – jy kan my later bedank.

Beeld opgeskepte beesstert met gort en gestoofde perskes RESIZED IMG_2968
Beeld beesstertbredie met bykosse Crop Resize IMG_2941

Die beesstert wat Chinees kan praat 

Twee beessterte, in stukke gesny (sowat 2.25 kg)

Sout en peper

30-60 ml sonneblom- of canola olie

125 ml Chinese kookwyn (Shao Xing) of droë sjerrie

125 ml donker sojasous

25 ml bruinsuiker

2-3 steranys, in stukkies gebreek

4 grasuie, in 2cm stukkies gesny, plus ekstra vir opdiening

6 skyfies vars gemmer

3 knoffelhuisies, geskil

1 lemoen

Metode:

Voorverhit oond tot 150°C. Sny oortollige vet van die vleis af en druk droog. Geur vleis liggies met sout en heelwat growwe peper. Verhit 30 ml kookolie in ‘n vuurvaste oondbak. Braai vleis in sarsies bruin, voeg nog olie by indien nodig. Haal uit en hou eenkant tot al die vleis gebraai is.

Gooi oortollige vet uit die bak uit, voeg kookwyn of sjerrie by en bring tot kookpunt. Skraap al die bruin stukkies van bodem en kante af. Meng sojasous en suiker met 2 koppies water en gooi in die bak. Voeg steranys, grasuie, gemmer en knoffel by en bring tot kookpunt.  Haal van die plaat af.

Skil  6 groot stukke lemoenskil af met ‘n aartappelskiller. Hou die orige lemoen vir later. Sit vleis en lemoenskil in die oondbak, plaas ‘n klam vel bakpapier bo-oor en sit deksel op. Bak 1½ uur.

Draai vleis om, bedek weer en bak nog 1½ uur of tot baie sag. Plaas vleisstukke in ‘n bak en gooi die sous deur ‘n sif in ‘n beker. Laat  sous en vleis afkoel, bedek en hou oornag in die yskas.

Volgende dag: opwarming en opdiening:

Voorverhit oond tot 150°C. Verwyder al die vet wat bo-op gevorm het. Plaas beesstert in ‘n enkellaag in ‘n oondbak.

Verhit sous in ‘n kastrolletjie en giet oor die vleis. (Vir ‘n dikker sous, verdik met beurre manié, ‘n degie van ewe veel sagte botter en meel). Sit deksel op en bak 30 minute. Roer die vleis deur. Draai hitte op na 200°C en bak nog 30 minute. Draai vleis halfpad om sodat dit goed met sous bedek is.

Opdiening: Giet uitgedrukte lemoensap oor en roer deur. Strooi gesnyde sprietuie oor en bedien. Dis lekker op die ou manier met stampkoring of gort en gestoofde droëvrugte.

beesstert collage met ian

Foto’s: Ian en Errieda Du Toit

Resep:  Aangepas uit Cooking on the Bone deur Jennifer McLagan.

3 Responses to “Chinese Beesstert – lekker tot op die been”

  1. Dalene Swart March 2, 2013 at 7:38 pm #

    Hi Errieda

    Ek luister al vir jare na jou en Francois en het ook jul kookboek aangeskaf. Ek wil net weet of jou pa dalk ‘n skoolhoof was.

    Groete

    Dalene – Hermanus

  2. Koos February 26, 2013 at 6:33 pm #

    Kan mens hierdie ook in ‘n potjie op die vuur maak

    • huiskok February 26, 2013 at 7:17 pm #

      Jy sal kan, Koos. Dit sal heerlik wees met die rokerigheid van die kole. Hou net in gedsgte dat die Vleis verkieslik oornag moet staan, sodat die vet verwyder kan word. Hou ook die hitte goed dop, omdat die suiker die sous makliker laat aanbrand.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: