Ek bak vandag ‘n koek vir almal wat dink hulle kan nie koek bak nie. Al wat moeilik aan hierdie koek is, is om jou selfbeheersing te behou en nie ‘n tweede en derde sny ook te eet nie. Ek bak vandag ‘n koek vir almal wat wel KAN koek bak en iets anders en besonders soek. Hierdie koek bak ek veral vandag vir die sjokolade-verslaafdes wat nuwe maniere soek om hulle sjokolade fix te kry.
Waarvan ek praat is ‘n sjokolade bierbroodjie. Diep en donker en dekadent. Alles hieraan is donker – die bier wat jy gebruik en die sjokoladeblokkies wat jy daarin breek. Jy kan dit warm eet as nagereg met ‘n lekker ganache sjokoladesous of jou geduld beproef en dit laat afkoel. Dan eet jy dit met styfgeklopte room. Suurroom of crème fraiche ook lekker.
Die resep is van die fynbak-sjef Will Torrents (Frans-grootgeword en nou in Brittanje).
Sjokolade-bierbroodjie met crème fraiche
Maak 8 snywe
125 g botter, in stukke gesny
125 ml donker bier (milk stout)
125 g bruismeel
2,5 ml koeksoda
40 g kakaopoeier
125 g strooisuiker
75 ml melk
1 eier, geklits
5 ml vanieljegeursel
50 g donker sjokolade, in stukke gebreek
Metode
Voorverhit die oond tot 180°C met die oondrak in die middel. Voer ‘n klein broodpannetjie met bakpapier uit. In ‘n kastrolletjie, verhit die bier en botter saam oor lae hitte tot die botter gesmelt is.
In ‘n mengbak, sif die meel, kakaopoeier en koeksoda saam. Voeg die suiker, melk, eier, vanielje en gesmelte bottermengsel by en meng deur met ‘n houtlepel. Roer sjokoladestukkies deur.
Skep uit in die voorbereide broodpannetjie en bak 50 minute tot ‘n toetspen skoon uitkom. ‘n Kraaklyn op die kors is heeltemal normaal. Laat effe afkoel en keer uit op afkoelrak.
Vir opdiening: Eet dit warm as nagereg met sjokoladesous of laat afkoel en eet met styfgeklopte room, suurroom of crème fraiche.
- Volg Errieda du Toit se kosrubrieke in Die Burger en Beeld, luister na Huiskok Glanskok op RSG, Vrydae 9.15 vm. of volg Errieda op Twitter @huiskok.
- Net na hierdie ‘post’ verskyn het het ek die pittige briefie van ‘Marius’ ontvang: “Hallo Errieda, Daai sjokolade bierbroodjie van jou het nou ‘n nuwe (onbedoelde) jassie aangetrek, en in die proses sommer sy DNA nog verder verryk. Ek het dit in skywe gesny nadat dit afgekoel het, en toe in ‘n lugdigde houer in die yskas vir so 10 dae heeltemal vergeet voordat dit my bygeval het dat ek nog ‘n versteekte soedingetjie aan boord het.
Maar nóu smaak en lyk hy verruklik anders. Die tekstuur is dig en klam, amper soos fudge, en die smaak ryk soos in die tradisie van goed verouderde kaas.
Nou wonder ek, sal ‘n mens dit kon oorweeg om so ‘n kersie of iets vir kleur en kontra-tekstuur by te voeg, en sommer ook so ‘n klein beleggingkie brandewyn oor te sprinkel voordat jy dit styf verpak in die lugdigde verouderingshouer in die yskas vergeet? Of sal die bierbroodtjie aan hierdie oordadigheid verstik, sy gesig onherroeplik geboutoks en liewer verkies om sy natuurlike warm pad te loop?”
Hi, made this for Father’s Day and it was a real winner! I loved that it was a decadent dessert but yet not too sweet after a lovely meal.
Going to use it a lot more!
Thank you.
How marvellous to hear. Happy baking.
Lyk baie lekker, ek dink ook ‘n koek wat by pa sal byval vind vir Vadersdag!
Ja absoluut! Mans bak dikwels ook mos self makliker aan ‘n ‘bierbroodjie’ as aan ‘n koek, so ek hoop hulle hou die resep vir Moedersdag ook! DAnkie vir die inloer.
Ek is al lankal soooo lus vir lekker sjokalade koek. Ek kan nie wag om by die huis te kom om dit te bak nie.!!
Hi Janet, ek hoop jy het toe by die bak van die koek uitgekom!
Dit klink heerlik – gaan dit beslis prober – diet sal moet wag.
Hi Louise, sny net ‘n dunner skyfie! 🙂
When does the chocolate get added?Looks delicious.
Hi Muriel, roer dit by net voor die beslag in die pannetjie geskep word. Dankie!!