Pruime!? Ek hoop nie jou kiewe trek saam by die gedagte aan die somervrug met die tikkie suur in sy siel nie. Pruime is een van die onbesonge helde van my kombuis, en tog – as jy soos ek – hierdie tyd van die jaar ‘n bietjie introspeksie doen, bied die pruim aansporing en inspirasie.
Dink aan die pruim in sy blomtyd: al ding mooier as ‘n pruimboom vol bloeisels is ‘n hele boord in blom! Die botsels byt vas deur die laaste koue van die winter – daarom is dit vir Chinese digters en kunstenaars ‘n simbool van sterkte en deursettingsvermoë. Pruime en hul bloeisels word soveel vir hul innerlike skoonheid vereer as die uiterlike.Die pruim is deur die antieke Chinese as een van die ‘Vier Edeles’ besing saam met die orgidee (suiwerheid), standvastigheid (bamboes) en nederigheid (krisant). Die antieke Chinese kunsstyl ‘ink-pruim’ verewig die pruim se glorie soos hier:
Die pruim se deugde lê in die potensiaal van die bloeiselknop, die voorspoed van die blom, die harmonie tussen die vrugte en die opgewassenheid van die ryp vrug. En ons kan mekaar in die Nuwe Jaar die sëeninge van die 5-blaar pruimbloeisel toewens:
‘n lang lewe,
voorspoed,
gesondheid,
deugsaamheid
goedheid
Op die kruin van die somer geniet ons die vrug van die pruimbloeisel se deursettingsvermoë . In hierdie heerlike gereg wat ek uit my liewe ou Hugh se “Three Good things on a Plate” gekook het, vorm die soet en suur van die pruime ‘n aromatiese eenheid met die gemmer se parfuum, die sout van sojasous en die huislikheid van geroosterde hoender.
Pruime is ook maats met nuwejaarsvoornemens vir gesonder leef. Die heerlike steenvrug is propvol anti-oksidante en Vit C, en dit help die liggaam ook om meer yster te absorbeer. Die vrug het ‘n lae glusemiese indeks en is laag in kilojoules.
HOENDER, PRUIME EN SOJASOUS IN DIE OOND GEROOSTER
Bedien 4
8 hoenderdye, met die vel aan
1 E sonneblomolie
2-3 rooi brandrissies, in helftes gesny, pitte verwyder en in 1 cm repe gesny
4 knoffelhuisies, gekap
5 cm vars gemmer, in dun snye
8 pruime, in die helfte gesny en pitte verwyder
3-5 E sojasous
Vir opdiening: vars koljander (opsioneel)
Metode:
Verhit die oond tot 200°C. Plaas die hoenderdye op ‘n bakplaat, bedruip met die olie, geur goed met sout en peper en rooster vir 30 minute. Draai die hoenderstukke ‘n paar keer om terwyl dit bak. Strooi die rissie, knoffel en vars gemmer oor die roosterpan – sorg dat die hoender goed in aanraking kom met die geurmiddels, en onder die hoenderstukke ook lê. Rooster nog 10 minute. Plaas nou die pruimhelftes om die hoenderstukke en sprinkel die sojasous oor. Rooster dit vir 15 minute tot die pruime sag is. Sprinkel vars koljander oor. Hierdie heerlike spulletjie eet jy net met rys of noedels.
Ek gaan dit probeer !
Laat weet hoe dit smaak.
Lekker!!! En ja, dit bly maar n goeie idee om n stewige lagie tinfoelie onder in daai bakplaat te sit. Min dinge brand so erg vas as sojasous…
Watter wyn beveel jy aan saam met die hoender, in aggenome die sout, soet en suur?
Ouer chenin blanc: n bottel 2009 Tierhoek sou ideaal wees. n Stewige soet streep getem deur n weerbarstige goeie dwarshou suur.
darem lekker – ‘n ‘dial a friend’ wynkenner vir raadpleging! Ek het nie Tierhoek nie, maar gaan die Anna de Koning van Phizantekraal probeer.