Een van my voornemens vir die jaar is om eenvoud te geniet en ligter te lewe. Ongekompliseerd.
Eenvoudig kan ook opwinding en nuwe smaakontdekkings meebring, soos ek in die kookboek ‘Three Good Things on a Plate’ herontdek het. Die skrywer Hugh Fearnley Whittingstal reken as jy geure en teksture so kan kombineer dat elke bestanddeel tot sy reg kom, kan jy met die magiese drie goed regkom. Neem nou maar ‘n slaai wat ek die onlangse vakansie vir die eerste keer gemaak het, Kool, avokado en lensies klink na ongewone bedmaats, maar saam in ‘n slaaibak is hulle so harmonieus soos die Drie Tenore. Die lekker is in die nog effe brosheid van die kool, die tekstuur van die lensies en die romerigheid van die avokadopeer. Die eenvoudige slaaisous sorg vir ‘n crescendo.
Jy’t nodig:
100 g bruin lensies
½ koolkop (Savoy-kool as jy kan kry), harde stronk uitgesny
2 avokados
Slaaisous:
Sap van ½ suurlemoen
60 ml fyn olyfolie
7,5 ml Engelse mosterd
3 ml suiker
Sit die lensies in ‘n kastrol met genoeg koue water om dit te bedek – onthou geen sout nie. Laat die lensies vir ‘n minuut sterk kook en dreineer dan. Sit dit nou terug in die kastol en bedek met 1 cm water. Jy kan ook ‘n knoffelhuisie, lourierblaar en selfs pietersieliestingels bysit, maar weereens – GEEN SOUT NIE. Kook dit nou stadig vir 25 minute tot net sag, maar nie pap nie. Dreineer dit (moenie afspoel onder koue water nie, die lensies moet steeds warm wees vir die volgende stap).
Terwyl die lensies kook, maak jy gou die slaaisousie deur die suurlemoensap, olyfolie, mostermd, suiker, sout en peper in ‘n glasflessie saam te skud. Gooi 1 eetlepel van die slaaisous oor die gedreineerde, warm lensies.
Blanseer repies kool in vinnig kokkende soutwater vir niks langer as ‘n minuut nie. Spoel dit af onder lopende water in ‘n vergietes en dreineer dan goed. Ek vind dat ‘n slaaispinner dit die beste doen.
Avokados: Sny in 2-3 cm blokkies, kombineer liggies met die lensies en kool en giet die slaaisous oor.
Wenke: jy kan die kool vervang met cos-slaaiblare of ‘butter lettuce’ – maar dan hoef dit nie gekook te word nie. As variasies kan jy brosgebraaide ontbytspek oorsprinkel.
YUM! Just what the doctor ordered. I am going to enjoy this this weekend. Thank you for sharing Errieda! xx
Thanks, Colleen. enjoy