Geelwortels met oemf

24 Jan

“Die  ikoniese sjef van die eeu, Ferran Adria het al gesê dat daar nie vir hom ‘n verskil is tussen ‘n geelwortel en kreef nie – die een is so spesiaal soos die ander.”

Haas en worteltjies. Ek het die haasbeeltjies (uit boomwortel gekerf) in Prins Albert gekoop.

Haas en worteltjies. Ek het die haasbeeltjies (uit boomwortel gekerf) in Prins Albert gekoop.

Groente is die groot gier as dit by kosmodes kom,. Jy kan maar sê die groente-plank word die loopplank vir als wat trendy is. Eers is beet herontdek, en nou weer is kool en blomkool op almal se lippe. Maar die titel vir die Koning van die Groentetuin bly die geelwortel.  Van New York tot Nelspruit, Parys tot  Pretoria, London tot Los Angeles word sjefs begeester deur geelwortels en  is  ‘n kenteken-wortelskepping deel van hul repertoire.

Ons huiskokke kan  met ‘n paar  nuwe tegnieke en interessante smaakmaats geelwortels gerus meer oemf  gee.  Jong geelwortels is heerlik met jogurt, vars koljanderblare en daarby ‘n ligte lemoensap- en olyfolieslaaisous wat oor die wortels gegooi word terwyl dit nog warm is.  Vir ekstra woema, looi dit met ‘n bietjie droë rissievlokkies.

Jong wortels, koljander en jogurt met lemoensap-slaaisous

Jong wortels, koljander en jogurt met lemoensap-slaaisous

Geelwortels met amandel en komyn

Nog ‘n heerlike kombinasie is jong geelwortels met amandels, komynsade en sultanas (soos op foto hierbo): 

 – Kook worteljies tot net sag (tussen 5 en 8 min), dreineer en laat effe afkoel.  Rooster sowat 100 g gepelde amandels in ‘n droë pan oor matige hitte tot dit goudbruin is. Haal dit uit die pan en kap grof. Rooster komyn in pan en stamp effe fyn. Meng speserye en neute by wortels in. Strooi handvol goue sultanas oor.

Wenk: pak die groente op ‘n plat bord uit eerder as ‘n dieper skottel.

geelwortel preie olyfolie wynbad posjeer_edited-1

Geelwortels kan ook met preie in ‘n wyn- en olyfoliebad geposjeer word, saam met lemoenskil en speserye. Vir hierdie gereg hoef jy nie die duurder babawortels te gebruik nie. Die gewone ‘garden variety’ is ideaal.

Geelwortels en preie in ‘n spesery, wyn en olyfoliebad

Sny 10 geelwortels,  4 klein preie en 2 rooirissies in repe en plaas dit in ‘n kastrol met 4 knoffelhuisies, ‘n lang reep lemoenskil, 2 lourierblare, paar takkies tiemie, ½ t elk droë kruisement en gekraakte peperkorrels, 5 kardomomkorrels, 1 teelepel liggies gekraakte koljandersade,  sap van 2 suurlemoene, 1 ½ koppie elk witwyn en olyfolie, en 2 koppies water; sout na smaak.

‘n Interessante tegniek is om die groente te bedek met ‘n stuk waspapier of bakpapier om knus binne die kastrol te pas.  Die wortels en preie word dan  stadig, sowat 25 minute,  in die geurige water-, wyn- en oliebad geprut tot die sag is en dan daarin gelaat tot dit afgekoel het.  Lig dan die groente uit die bad en haal die grootste stukke speserye uit as jy wil. Bedien dit op ‘n peuselbord, of mezze-bord soos die Turke; of bedien dit met lam, hoender of gebakte vis.

Bronne:

Hugh’s Three Good Things.  Hugh Fearnley Whittingstall

Turquoise:  A Chef’s Travels in Turkey. Greg & Lucy Malouf

2 Responses to “Geelwortels met oemf”

  1. Lizet Hartley Januarie 24, 2014 at 2:47 nm #

    Mal oor die wortels met sultanas en komyn. Gaan dit hierdie naweek maak – saam met my ouma se hoenderpastei. Dol, dol, dol oor die Prins Albert hasies!

    • huiskok Januarie 24, 2014 at 4:01 nm #

      Dit gaan heerlik wees saam met hoenderpastei.

Lewer kommentaar op Lizet Hartley Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.