Pete se platgedrukte sjokoladekoek sonder meel

Ek kan presies die dag onthou wat ek die eerste keer hierdie sensasionele meellose sjokoladekoek geproe het – ja! ‘n sjokoladekoek sonder ‘n greintjie meel. En alhoewel die koek pragtig rys, word hy dan met mening platgedruk!

Ek bak Pete se platgedrukte sjokoladekoek
Ek bak Pete se platgedrukte sjokoladekoek

Dit was sjef Pete Goffe-Wood wat my daaraan bekendgestel het. Die jaar was 2001. Die geleentheid was ‘n Slow Food ete in die pragtige ou herehuis op Uitkyk. Op die spyskaart het dit gestaan: Pressed Belgium bitter chocolate cake. Toe het Pete dit bedien met moutsjokolade en vars aarbeie.

Elke gereg van daardie ete is nog vars in my geheue: die voorgereg ‘n gerookte vistee met forel, salm, mossels, saffraan en vinkel. Die hoofgereg was ‘n warm eendslaai met jong aartappeltjies. Maar dis die plat skyf sjokoladekoek as nagereg wat nou nog neonligte in my brein laat flikker.

Pete en Elize kom kuier, en ek bak sy sjokoladekoek uit 'A Life Digested'. Ian lyk, soos altyd, die mengbak uit.
Pete en Elize kom kuier, en ek bak sy sjokoladekoek uit ‘A Life Digested’. Ian lyk, soos altyd, die mengbak uit.

Daarom was ek uit my vel uit toe ek sien dat hierdie meellose sjokoladekoek opgeneem is in Pete se boek ‘A Life Digested’. Ek stem saam met hom dat dit die mees perfekte sjokolade nagereg is – en werklik sonder gelyke.

Al is dit eenvoudig om te maak, is daar niks eenvoudig aan wat dit oplewer nie. Dit is klam, chewy, fudgerig, hemels dig en ryk. Dis die gelyke van ‘n diep donker gladde stuk  fluweel. Jy wil ook nie meer as een stuk eet nie – dit is klaar oordadig en dekadent genoeg.

PETE SE PLATGEDRUKTE SJOKOLADEKOEK

Bedien 16

400 g donker sjokolade

300 g botter

10 eiers, geskei

225 g strooisuiker

4 E kakao

Vir Bediening:

1 houertjie crème fraiche

Aarbeie, frambose of bloubessies

Metode

  • Smelt die sjokolade en die botter saam oor ‘n dubbelkoker.
  • Meng die eiergele, suiker en kakao saam in ‘n bak.
  • Voeg die gesmelte sjokolade by die eiergeelmengsel.
  • Klits die eierwitte tot styf en vou dit in by die sjokoladebeslag.
  • Bak dit in ‘n gesmeerde losboompan teen 160°C vir sowat 45 minute.
  • Haal uit die oond en laat vir 10 minute afkoel in die pan.
  • Nou maak jy die klamp van die pan los en plaas drie borde (omtrent dieselfde grootte as die koekpan) – oorgetrek met kleefplastiek – bo-op die koek vir 20 minute.
  • Haal die borde af van die koek, en verwyder die pan. Laat die koek heeltemal afkoel en bedien dan met groot skeppe crème fraiche en vars bessies. In die onwaarskynlike geval dat hierdie wonderlike koek nie op een slag verslind word nie, kan die orige in die yskas gehou word.

 *Pete beveel aan dat hierdie nagereg uit die boonste rakke geniet moet word met ‘n brandewyn uit die boonste rakke, soos Ladismith Klein Karoo 8 Jaar Potketelbrandewyn.koek voor resep stand

 A Life Digested, deur Pete Goffe-Wood word uitgegee in hardeband deur Quivertree.

6 thoughts on “Pete se platgedrukte sjokoladekoek sonder meel

  1. Op die laaste oomblik het ek my Kersfees nagereg planne verander en eerder besluit om die koek te probeer en mag ek byvoeg dat ek nie gek is na sjokolade nie (ja, ek weet dit klink onwaar)! Die koek lyk stunning, smaak hemels en is verspot maklik om te maak! Dankie die koek het my 2014 Kerfeesmaal in die Kotze anale geplaas!

  2. Goeie dag
    Ek het sopas Pete se platgedrukte koek gemaak en dit het goed uit gekom. Dis more my man se verjaarsdag en ek soek altyd n’ lekker resep. Dankie

Lewer kommentaar op Hannelie Kotze Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.