Tag Archives: koek

Appel gebak: lui huisvrou se warm appeltert + sharlotka appelkoek

22 Apr

As dit by appel kom, is jy ‘n koek of ‘n tert? 

Appels is gewoonlik die deugdelike dienskneg van die soettafel: onskuldige gebakte appeltjies met ‘n rosyntjievulsel, appelfrummel met vla of appeltert (darem met ‘n skep room vir bietjie weelde) of dit kom amper as nagedagte  in vrugteslaai. Dit sal jou selde in die nag blosend laat opstaan vir ‘n skelm skeppie.

Maar gee ‘n appeltert- of koek iets stroperig, ‘n mooi naam en ‘n lekker storie, en jy’t ‘n soet ding van ‘n ander kaliber.

Die lui huisvrouappeltert, ook bekend as warm appeltert of karamel-appeltert val in hierdie kategorie. Sedert dit in die tagtigerjare op die kostoneel gekom het, verskyn dit bykans in elke gemeenskapsboekie ingesamelde resepte wat ek deurgegaan het vir my nuwe boek. ‘Saam’. De maklike apptertt was so gewild dat drie resepte destyds hiervoor in Keurig en Geurig van die Sustersvereniging Gemeente, Pretoria-Oos opgeneem is.

My ma het haar appeltert in ‘n Pyrex-bak gemaak, maar die mooi handgemaakte keramiekbak van Three Potters and a Painter op my rak inspireer my om iets sondig vir teetyd of die poedingtafel te maak, gegeur met kardemom, koningin van speserye.

Vir diegene wat nie erg het aan stroperigheid nie, maar te vinde is vir ‘n storie, is sharlotka – die soetding vir jou. Die sharlotka is ‘n ‘almal-in-Rusland-se-oumas-maak-dit-appelkoek, ‘n eenvoudige skepping van snytjies vars appel wat gebak word met ‘n speserygegeurde sponskoekbeslag bo-oor. Die bokant is bros en krakerig, wat jou laat dink aan ladyfingers, die binnekant ene sponskoek met ‘n lieflike klam krummel en fyn tekstuur.

Sharlotka het haar lewe in die 19de eeu begin as Charlotte Russe, ‘n elegante poedingskepping van die supersjef Caremme. Tydens die Soviet-era met sy skaarshede het sy van haar troon getuimel. Radelose Russiese huisvroue wat ure in kostoue moes deurbring vir die mees karige items het ‘n raap-en-skraap  weergawe daarvan gemaak. So geliefd was die appelkoek dat dit die troetelnaam  ‘sharlotka’ gekry het.

Lui huisvrou se warm appeltert (met kardamom as jy het)

45 ml sagte margarien of botter, nie gesmelt nie

250 ml suiker

3 eiers

250 ml koekmeel

5 ml bakpoeier

knippie sout

125 ml melk

1 blikkie (400 g) tertappels

kaneelsuiker

 

Sous

125 g botter

1 blikkie ingedampte melk (of 250 ml melk of room)

180—250 ml bruinsuiker of strooisuiker

knippie sout

5 ml karamelgeursel of 3 gekraakte kardemompeule

• Voorverhit oond tot 180 °C. Smeer ’n 1,5 liter-vuurvaste poedingbak of tertbord.

• Verroom die botter en suiker saam, voeg die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging.

• Sif die meel, bakpoeier en sout saam en meng dit om die beurt met die melk by die bottermengsel. Skep die beslag in die voorbereide bak of tertbord, pak appels bo-op en strooi kaneelsuiker oor. Bak 30—35 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.

• Maak intussen die sous:  Kook al die bestanddele vir die sous 7—10 minute saam in ’n medium kastrol. Prik die poeding en giet die warm sous oor die warm poeding. Sit voor met vla, room of crème fraiche.

Wenke:

• Vervang die geblikte appel met 6 vars appels, geskil en opgesny.

• Sny die gaar tert in blokke of skywe voor die sous oorgegooi word, sodat die sous beter intrek.

Sharlotka appelkoek (met Soviet-spaarsamigheid)

4 Granny Smith appels, geskil, stronk uit, in kwarte en dan in dun skyfies gesny

15 ml vars suurlemoensap

4 eiers

2,5 ml amandel- of vanieljegeursel

250 ml suiker,

250 ml koekmeel

2,5 ml fyn kaneel

2 ml neutmuskaat

Knippie sout

Versiersuiker, vir oorsif

• Voorverhit die oond na 180°C. Smeer ‘n 22 cm-losboomkoekpan, en bestrooi liggies met meel. Meng die suurlemoensap deur die appelstukkies.

• Sif die meel, kaneel, neutmuskaat en sout saam in ‘n bakkie.

• In ‘n mengbak, klits die eiers, amandelgeursel en suiker met ‘n elektriese klitser vir 10 minute tot dik en liggeel. Vou die droë bestanddele liggies in 4 sarsies in tot net gemeng.

• Versprei die appels egalig oor die pan se bodem, giet die beslag eweredig oor en bak 1 uur. Dis reg as die bokant bros en goudbruin is en ‘n toetspen skoon uitkom, Laat staan vir 15 minute op ‘n afkoelrakkie en maak die pan los. Sif versiersuiker oor en bedien warm met suurroom.

Foto’s Ian Du Toit

 

Wingerdkoek vir ‘n geluksgodin (ook bekend as Cleopatra-koek)

1 Jan

Ons het almal ‘n bietjie geluk aan ons kant nodig. Hoekom nie ‘n snytjie koek wat belofte inhou van voorspoed, geluk en oorvloed nie? Hier is ‘n koek wat ek opdra aan Abuntia, die Romeinse godin van oorvloed. Druiwe, wat dikwels in nuwejaarsvierings gebruik word om voorspoed te lok, skitter soos Robyne bo-op.

Dis eintlik bekend as Cleopatra-koek – die rede vir die naam bly ‘n raaisel. Majestieus is dit wel, maar nie juis mooi nie; daarvoor maak die oordadige druiwekroon op. Wat so interessant van die koek is, is dat ‘n suikerkors en die druiwe bo-op die beslag geplaas word eers nadat die koek 20 minute gebak het.

Die resep het oorspronklik as Vineyard-cake verskyn in die nou-gesneuwelde Gourmet-tydskrif, en is na Cleopatra-koek herdoop in Yotam Ottolenghi en Helen Goh se bakboek Sweet.

Nota: die koek word in ‘n tuitpan gebak (waarin suikerbrood of chiffonkoek gebak word).

Die oorspronklike resep vra vir gefortifiseerde Franse soetwyn Carte Or Muscat de Beaumes de Venise – ek het ‘n bottel plaaslike wit muskadel gebruik.

 

Wingerdkoek

Maak 12 snye                                                          

500 g koekmeel, plus ekstra vir oorsif

10 ml bakpoeier

2,5 ml koeksoda

4 ml sout

340 g strooisuiker

175 g sagte botter, plus ekstra vir smeer

75 ml fyn olyfolie

Fyngerasperde skil van 2 suurlemoene (10 ml)

Fyngerasperde skil van 1 lemoen (10 ml)

Uitgekrapte sade van ½ vanieljepeul

4 eiers

450 ml gefortifiseerde soetwyn soos wit muskadel of edel laatoes

100 g pitlose swart of rooi druiwe, gewas en in lengte deurgesny

Bolaag

70 sagte botter

70 g strooisuiker

100 g pitlose swartdruiwe, gewas en in lengte deurgesny

Maak so:

  1. Voorverhit oond tot 210°C. Smeer ‘n 25 cm (10 cm diep) chiffonkoekpan (tuitpan), bestrooi liggies met meel, skud oortollige meel af.
  2. Sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam in ‘n bak. Hou eenkant.
  3. Plaas suiker in die bak van ‘n staanmenger met die spaanhegsel aan. Voeg die botter, olyfolie, suurlemoenskil, lemoenskil en vanielje by en meng vir 2 minute op medium-hoë spoed tot glad en donsig.
  4. Voeg eiers beurtelings by, klits goed na elke byvoeging, verminder die spoed tot laag en voeg 1/3 van die meelmengsel en ½ van die wyn by; herhaal met nog ‘n 1/3 van die meel en die res van die wyn, en eindig met die laaste 1/3 van die meel terwyl jy dit steeds op lae spoed meng. Wanneer gemeng, giet in die koekpan en versprei 100 g druiwehelftes mooi eweredig bo-oor. Bak vir 20 minute.
  5. Terwyl die koek bak maak die bolaag: voeg die botter en suiker in ‘n bakkie en klop met ‘n houtlepel tot dit ‘n dik pasta vorm. Na die koek vir die 20 minute gebak haal die koek vinnig maar versigtig uit en skep klonte van die suikerpasta bo-op. Strooi 100 g druiwehelftes bo-op en plaas terug in die oond. Draai onmiddellik die temperatuur af na 180°C en bak 35-40 minute of tot ‘n toetsnaald skoon uitkom. Haal uit die oond, laat 30 minute afkoel voor dit uitgekeer word. Die koek kan dadelik geëet word of in ‘n lugdigte houer gelaat word.

Foto’s en stilering Errieda en Ian du Toit

Kiri-roomkaas, my hart se punt

20 Nov

Hap aan ‘n bagel mildelik gevul met roomkaas en gerookte salm of ‘n stewige sny gebakte New York-kaaskoek en jy verstaan hoekom die geregte EN roomkaas opgeneem is in die ensiklopedie ‘1001 Foods – the greatest gastronomic sensations on earth’. Roomkaas het net die vermoë om alles waarmee dit in aanraking kom, te verhef. Dis deels die fluweelgladde tekstuur – sag, glad en romerig maar ferm; deels die subtiele smaak en aangename sweempie surigheid wat die vars wit kaas so geskik maak vir sout en soet geregte.

Roomkaas se wortels

Ek hou van kos met ‘n storie – en dit het roomkaas ook. Frankryk se kaaskundigheid is so legendaries mens sou reken dis roomkaas se geboorteland. Die roomkaas wat ons vandag ken is egter ‘n Amerikaanse uitvindsel en die storie daaragter is dat ‘n Amerikaanse kaasmaker van die staat New York dit ‘per ongeluk’ in die 1870’s ontdek het terwyl hy eintlik probeer het om die sagte, krummelrige Franse kaas Neufchâtel na te maak. Die Franse het wel die kuns van roomkaas vervolmaak en te oordeel aan hoe geesdriftig hulle daaraan smul, dit deel van hul kaasidentiteit gemaak.

Noudat die Franse suiwelmaatskappy die Bel Group hul 200 g bakkies Kiri-roomkaas in George op die Tuinroete maak, kook ek geesdriftig daarmee, wetende dat dit uit ‘n streek van ons land kom wat self spog met ‘n ryk suiwelgeskiedenis.

Roomkaas die kokvriend

As iemand wat altyd op die uitkyk is vir maniere om weeksaand-familiegunstelinge op te kikker of iets makliks vir ‘n oor-en-weer-kuier te maak, vind ek hierdie bakkies roomkaas ‘n veelsydige kosvriend.

So kry my bobotie ‘n roomkaas-vlabolaag, maak ek beetslaai trendy met roomkaas-croutons wat ek rol in gegeurde geroosterde broodkrummels; ek vervang die bottervulsel van hoender Kiev met ‘n ligter weergawe van gekruide roomkaas en maak skeurbrood met ‘n knoffel-en-jalapeno-gegeurde roomkaashart. Heerlike dinge gebeur ook as jy roomkaas deur pasta roer, want soos dit smelt maak dit alles romerig en ryk, ‘n eienskap wat ek aanwend in die resep vir gnocchi met boerewors en murgpampoentjies in ‘n roosgetinte roomkaas-tamatiesous. Ek kombineer ook graag die beste van twee wêrelde in my Kiri-roomkaas marmerbrownies. Dit bring die romerigheid van gebakte kaaskoek en die fudgerige lekkerte van die klassieke brownie in een hap bymekaar.

HUMMINGBIRDKOEK, HEUNINGVERSOETE KIRI ROOMKAAS-EN-JOGURTVERSIERSEL en pynappelblomme

Die klassieke hummingbirdkoek kry vlerke met ‘n heuning-versoete versiersel van roomkaas en jogurt. Die tropiese geure word afgerond met oondgedroogte pynappelblomme.

Koek:

450 g blik fyn pynappel in stroop

150 g (250 ml) koekmeel

75 g (125 ml) bruismeel

2,5 ml koeksoda

5 ml fyn kaneel

2,5 ml fyn gemmer

1 ml varsgerasperde neutmuskaat

220 g (250 ml) bruinsuiker, ferm gepak

45 g (125 ml) klappervlokkies

250 ml fyngemaakte piesang

2 eiers, liggies geklits

180 ml canola-olie

Kiri-roomkaasversiersel met heuning en jogurt:

1 x 200 g houer Kiri-roomkaas, kamertemperatuur

60 ml volroomjogurt

15 ml heuning

2,5 ml fyn kaneel (opsioneel)

Gerasperde skil van 1 lemmetjie

  • Klop die roomkaas, jogurt, heuning, kaneel indien gebruik, en lemmetjiesap met ‘n houtlepel tot donsig en sag. Smeer oor die afgekoelde koek. Indien te loperig, verkoel vir 30 minute.

Beslag:

  1. Voorverhit die oond tot 180°C. Smeer ‘n diep 20 – 22 cm losboomkoekpan. Voer uit met bakpapier.
  2. Dreineer die pynappelmoes oor ‘n bak en druk met ‘n lepel om soveel moontlik van die sap uit te druk, reserveer 60 ml sap.
  3. Sif die meel, koeksoda, speserye en suiker in ‘n groot bak. Roer die gedreineerde pynappel, gereserveerde sap, klapper, piesang, eier en olie met ‘n houtlepel by. Giet die beslag in die voorbereide pan en bak 35-40 minute. Dis gaar as ‘n toetspen wat in die middel ingedruk word, skoon uitkom. Laat staan 5 minute in die pan, keer op ‘n afkoelrak uit en laat heeltemal afkoel.
  4. Versier met roomkaasversiersel en gedroogte pynappelblomme.
  5. Nota: indien jy ‘n tweelaagkoek-verkies, sny die koek horisontaal in die helfte deur en vul. Dis heeltemal in die hak as die vulsel bietjie uitloop.

Pynappelblomme:

Kies ferm pynappels wat nie te ryp is nie. Kies 1 groot en 1 kleiner pynappel sodat die blommetjies nie almal dieselfde grootte is nie.

  1. Skil die pynappels, sny die ogies uit met ‘n skerppunt-messie. Sny in baie dun skyfies. Voer twee bakplate uit met bakpapier, rangskik die pynappel bo-op en droog uit by 110°C. Draai versigtig om na 40 minute en kyk dat dit nie te bruin raak nie.
  2. Om die vorm te gee as dit afkoel, plaas die blometjies in mini-muffinpannetjies of eierkelkies.

KIRI ROOMKAAS & JALAPENO DEELBROOD

Of jy dit deelbrood, skeurbrood of partybrood noem, hierdie tuisgebakte brood sê ‘kom ons kuier saam’. Al kan jy klaargemaakte deeg by die bakkerstoonbank koop, is die maak van die deeg eintlik die helfte van die pret (twee keer se rys gee soveel geur en ‘n veersagte tekstuur); die ander lekkerte is om die veerligte rolletjies uitmekaar te trek en die pikante roomkaasvulsel binne te ontdek‘. Gemengde sade word oorgesprinkel vir ‘n neuterige smaak en kraakkontras. Bedien dit met doopsouse en peuselgoed.

Brooddeeg:

10 ml kitsgis

10 ml suiker

500 ml koekmeel

3 ml sout

60 ml warm melk

125 ml warm water

1 eier, liggies geklop

10 ml olyfolie

Kiri-roomkaasvulsel:

1 x 200 g bakkie Kiri roomkaas, by kamertemperatuur

250 ml gerasperde cheddarkaas of helfte cheddar en helfte mozzarella

30 ml botter, gesmelt

gerasperde skil van 2 lemmetjies of 1 suurlemoen

stewige knippie rooirissievlokkies of rooipeper

sout en varsgemaalde swartpeper

6 groot heel jalapeno rissies

Gemengde saadsprinkel:

olyfolie of gesmelte botter om aan te smeer

20 ml sesamsade

20 ml poppiesade of nigella sade

5 ml growwesout 

Deeg:

  1. Smeer ‘n 20 cm ronde losboomkoekpan. Smeer die buitekante van ‘n ramekin en plaas dit in die middel van die koekpan.
  2. Sif die gis, suiker, meel en sout saam in die groot mengbak van jou staanmenger. Voeg die warm water, warm melk, eier en olyfolie by. Meng tot ‘n growwerige deeg vorm, voeg bietjie meel by as dit te klewerig is; knie dan met die hand of met ‘n deeghaak in die menger tot glad. Dit neem 7 – 8 minute op medium spoed in ‘n staanmenger of 10 – 12 minute per hand.
  3. Plaas die deeg in ‘n groot, lig-geoliede mengbak en bedek met kleefplastiek (ook geolie sodat dit nie vassit nie). Plaas op ‘n warm plek om te rys tot dit verdubbel in grootte, sowat 90 minute.
  4. Sny die jalapeno rissies in die lengte deur, hou die stingeltjie heel aan die een helfte. Verwyder die sade en vlesige membraan, en plaas dan gesnydae kant na onder op ‘n bakplaat. Plaas onder die oond se voorverhitte roosterelement en rooster tot die vel begin borrel en verrimpel, sowat 7 minute. Hou fyn dop – dit moet nie te donker raak nie, en laat dit dan afkoel.
  5. Vir die roomkaasvulsel kombineer die roomkaas, gerasperde kaas, gesmelte botter, suurlemoenskil en sout en peper in ‘n bakkie. Sit eenkant.
  6. Wanneer die deeg gerys het, keer uit op ‘n meelbestrooide oppervlakte en knie dit liggies af. Verdeel die deeg in 12 eweredige stukke. Druk elke stuk plat en plaas ‘n afgekoelde rissie-helfte bo op met 1cm wat oor die kant hang. Skep ‘n mildelike bolling van die roomkaas vulsel in die middel. Vou die deeg om dit toe om ‘n balletjie te vorm en knyp die kante saam – die bokant van die rissie moet uitsteek. Plaas die balletjie deeg in die koekpan met die toegeknypte kant na bo. Herhaal met al die deegstukke, en pak hulle om die ramekin. Bedek met geoliede kleefplastiek en laat dit rys op ‘n warm, trekvrye plek, 30 – 45 minute.
  7. Voorverhit die oond tot 180 °C. Bestryk die deeg met gesmelte botter; meng die sade en sout en strooi bo-oor. Bak tot goudbruin, 40 – 45 minute. Dis gaar as dit hol klink as jy daarop klop. Laat dit binne in die pan vir 10 minute op ‘n draadrakkie afkoel voor jy dit uitkeer. Op sy lekkerste as dit warm is.

Ons het hierdie verrassingspakkies met die kase wat nou in George gemaak word en tuisgemaakte roomkaasmarmerbrownies by kosmense laat aflewer. Mynhardt Joubert was so in sy noppies dat hy dadelik ‘n foto geneem het voordat dit verorber word. Hannes Koegelenberg wat ook my Boek SAAM se stilering gedoen het, het die pragtige illustrasie op die geskenkboks gedoen wat wys waar die kaas nou gemaak word.

 Goeie nuus: Die gewilde Franse kaasprodukte, Kiri-roomkaas en The Laughing Cow kaaswiggies en smere word van November af in George op die Tuinroete gemaak. Hierdie twee vlagskipprodukte in die stal van Die Bel Group is tot nou toe ingevoer. Die Franse suiwelmaatskappy met die slagspreuk For all. For good. is in familiebesit en het sy pioniersgees behou sedert dit in 1865 begin is. Ander Bel-produkte sluit die gewilde mini-Babybel, Bel Cubes en Boursin-kase in.

Sosiale media: #ForAllForGood #BelSouthernAfrica #kiricreamcheesesa #thelaughingcow

  • Resepte en stilering: Errieda du Toit vir Bel Southern Africa
  • Foto’s: Ian du Toit
  • Kosvoorbereiding: Daleen van der Merwe

Deelbrood, skeurbrood, partytjiebrood – hoe jy dit ookal noem, die lekkerte is om hier ‘n verrassende vulsel binne jou afgeskeurde stukkie te kry.

Lemoenkoek met aperitif-stroop en amandelmelkroomys

23 Apr

17CD9DF3-E231-4E4D-BC37-BA09A2A13EF9My sitrusliefde se wortels lê in die lemoenboorde van Clanwilliam waar my ouers verlief geraak en getrou het. Op die sepia-troufoto’s staan hulle ingehak voor lemoenbome op die wal van die Olifantsrivier. Daar’s lemoenbloeisels tussen die lelies in haar ruiker en in haar hare.

My emmerskoplysie is behoorlik deurdrenk van sitrus: ‘n wandeling deur Conca d’Oro, ‘n vallei naby Palermo bekend as die Kom van Goud vol geparfumeerde sitrusboorde. Ek sal ook my stapskoene opryg vir ‘n pelgrimsreis deur die straatjies van Seville bedwelm deur die geure van 13 000 bitterlemoenbome in blom.

Tot dan bak ek pan d’arancio ‘n lemoen-amandelkoek uit Sicilië. Een van my gunstelingdrankies – Lemoensap met die bitter aperitif Campari of Aperol spritz – word omskep in ‘n stroop daarby.

Anders as die metode om lemoene vir hierdie beroemde Siciliaanse koek ure lank te kook, word dit vinnig in die mikrogolf gaargemaak.

Wenk:  As jy nie Campari of Aperol het nie, bedruip die afgekoelde koek met lemoen-drupversiersel (125 g gesifte versiersuiker aangemaak met  25 mℓ lemoensap).

A703F86C-12D3-46C5-94E5-1F929FB1E583Lemoenkoek met aperitif-stroop en amandelmelkroomys

Begin reeds die vorige dag. Maak die roomys eerste.

Koek:
3 bloedlemoene of lemoene
Plus skil en sap van 2 lemoene
250 g amandelvlokkies
3 gedroogte appelkose
295 g strooisuiker
5 eiers
5 mℓ bakpoeier
160 mℓ Campari of Aperol
2,5 m lemoenbloeiselwater (opsioneel)
Versiersuiker vir oorstrooi

Plaas 3 bloedlemoene of lemoene in ‘n ziplock-sakkie, moenie te styf toe maak nie, mikrogolf op hoog vir 12 minute. Versigtig, dis warm! Laat afkoel tot kamertemperatuur.

Voorverhit die oond tot 150°C, smeer en voer die bodem en kante van ‘n 22 cm klamp-koekpan met bakpapier. Maak die amandels fyn in ‘n voedselverwerker. Kap die gaar lemoene in stukke en voeg dit in die voedselwerker by die fyn amandel, voeg die appelkose by en 220 g (1 koppie) van die strooisuiker by. Verwerk tot glad. Voeg die eiers en bakpoeier by en verwerk vir 30 sekondes of deurgemeng. Giet dit in die koekpan en bak vir 1 uur 40 minute of tot toetspen skoon uitkom. Laat dit in die pan afkoel.

Stroop:
Voeg die skil, sap, Campari en die res van die strooisuiker (75g) in ‘n klein kastrol en roer oor matige hitte tot die suiker opgelos is. Vermeerder die hitte tot hoog en kook dit  ⅔ af, sowat 15 minute. Verwyder van hitte, roer lemoenbloeiselwater by (indien gebruik) en laat afkoel.

Strooi versiersuiker oor die afgekoelde koek, bedruip met stroop en bedien met roomys.

Amandelmelkroomys

800 ml amandelmelk
395 g blik versoete kondensmelk
125 ml room
Gerasperde skil van 1 lemoen (opsioneel)

Plaas die bestanddele in ‘n ekstra-groot ziplock-sak; maak stewig toe en plaas dit plat neer op ‘n vlak skinkbord of bakplaat. Vries oornag.

Die volgende oggend, sny die bevrore mengsel in stukke en maak dit fyn in ‘n voedselverwerker. Giet die mengsel in ‘n plastiekhouer met digpassende deksel of ou roomysbak. Vries.

Foto’s: Ian en Errieda Du Toit

resepidee: Delicious Australië

Sanet se vonkelwyn koek met soutkaramel en roosmarynspringmielies

3 Aug

‘Kom ons bak ‘n ding’ is die strydkreet waarmee Sanet Eigelaar haar plek as die land se top-drie amateurbakker verdien het in Koekedoor, kykNET se werklikheidsreeks wat ‘n bakrewolusie ontketen het.

image

Met ‘n reputasie as smaak-avonturier en haar speelse, plesierige styl was die uitnodiging om ‘n koek te skep vir Versnit se eerste verjaarsdag so in haar kraal. Die jong koek-entrepreneur se Cup of Cake-handelsmerk en koffiewinkel in Saldanha trap reeds diep spore met sy babaskoene.

Haar man Andre en haar twee jong spruite Derik (5) en Henkie (1) is ook aan die gelukkige ontvangkant van haar kreatiewe gebak.

image

Met sy eerste verjaarsdag-kolwyntjie nog vars in die geheue word Henkie uitgevat met ‘n strikdas en partytjiehoed uit koerantpapier, vir die onthulling van die Versnit-verjaarsdagkoek.

Die koek dra duidelik haar eie ‘Sanna van Saldanha’-stempel, eerder as om net te herhaal wat op Instagram of Pinterest te sien is.

Dit bring elemente soos vonkelwyn, soet en sout bymekaar; ook springmielies – ‘n simbool van kinderpartytjies, wat hier vriende maak met grootmenssmake soos roosmaryn en soutvlokkies.

Die gesoute karamel wat sy deur die springmielies roer en kwistig oor die vonkelwynkoek spat is meer as net mode.

image

image

“Dit vertel iets van Weskus-seelug en Velddrif se sout. Die roosmarynsmaak van die springmielies maak dit ook meer volwasse, en ‘n ongewone nuwigheid om aan te peusel saam met ‘n glas vonkelwyn.”

In pas met die ontblote voorkoms en haar informele sjiekstyl pleister sy die kante net liggies met roomkaasversiersel. Die kleiner koekpanne skep ‘n nouer koektoring, op ‘n omgekeerde koekpan geplaas; die pan se rand versier met letters  vryhand uit Versnit-koerantpapier geknip.

Sy stapel die taai springmielies ongëerg bo-op die koek, en laat dié wat aftuimel lê waar dit val. ‘n Groot hout-kaasbord word die koekstaander. 

Pleks van die gebruiklike kerse steek Sanet twee vonkstokkies aan. “Een vir die jaar wat verby is, en een vir die jaar wat voorlê.”

image

SANET SE VERSNIT-VONKELKOEK MET WESKUS-KARAMEL EN ROOSMARYNSPRINGMIELIES

Vonkelwynkoek

250g botter
2 ¼ k suiker
4 eiers
250ml suurroom
5ml vanillageursel
3½ k koekmeel
5ml koeksoda
2,5ml bakpoeier
5ml sout
250ml vonkelwyn

Voorverhit oond tot 180°C.Voer 4 X 15cm koekpanne met bakpapier of smeer met botter, strooi liggies met meel.
Room botter en suiker tot romerig en liggeel in ‘n mengbak met die spaanhegstuk.
Voeg eiers een op ‘n slag by en meng goed na elke byvoeging. Voeg suurroom en vanilla by en meng goed.
Sif meel, koeksoda, bakpoeier en sout in ‘n apart bak.
Voeg gesifte bestanddele in 3 dele by die mengsel, afwisselend met die vonkelwyn (begin en eindig met die droë bestanddele). Verdeel beslag tussen die 4 voorbereide panne. Bak vir 45 minute tot gaar en laat afkoel vir 10 minute en keer uit op ‘n afkoelrak.

Roomkaasversiersel:

250g botter
250g roomkaas
2 k versiersuiker
5ml vanillageursel

Klits botter tot romerig en sag, Voeg roomkaas by en klits tot gemeng.
Voeg versiersuiker by, klits tot goed gemeng en roer vanilla by.

Gesoute Weskuskaramel:

1 k suiker
90 g botter
125ml room
5ml soutvlokkies

Verhit suiker in ‘n medium pot oor matige hitte, roer aanhoudend. Die suiker maak klonte en begin verkleur.
As al die suiker opgelos hét, voeg die botter by en roer tot al die botter gesmelt is. Voeg room stadig by terwyl jy roer en kook vir 1 minuut. Haal sous van die hitte af en roer sout by. Laat afkoel.

Roosmaryn-karamel springmielies

½ k springmielies
30ml olie
⅔ k suiker
½ k donker bruinsuiker
¼ k melasse
⅓ k vonkelwyn
5ml seesoutvlokkies
30 g botter
30ml vars gekapte roosmaryn

Springmielies

Verhit olie in groot pot oor mediumhitte en voeg springmieliepitte by.
Plaas deksel op pot tot al die mielies gespring is.
Haal van hitte af en gooi springmielies in ‘n groot skottel

Karamel

Voer 2 bakplate met bakpapier.
Kook suikers, melasse, vonkelwyn en sout in ‘n medium pot op hoë hitte sonder deksel
Moenie roer nie.
Gee die pan n effense skud om alles te meng en kook tot 140°C op suikertermometer. Haal van hitte af en roer botter en roosmaryn in.
Gooi karamel oor springmielies en roer met houtlepel sodat elke pit met karamel bedruip is
Plaas springmielies op uitgevoerde bakplate en koel effe af.
Breek springmielies los van mekaar.

Saamstel van koek
Sny die koeke se bokant af sodat al die koeklae ewe dik is. Smeer of spuit versiersel tussen die lae en plaas lae op mekaar. Smeer versiersel aan die kante met paletmes en skraap dit weer effens af. Spuit horinkies bo-op koek met ronde punt.
Bedruip koek met karamelsous en versier met springmielies, vars roosmaryn en seesoutvlokkies.

image– Cup of Cake, Hoofweg 37, Saldanha. Oop Dinsdae tot Vrydae 9:00 – 17:00 en Saterdae 9:00 – 13:00

– Sanet doen praatjies, demonstrasies en spanbou-cupcake-versiersessies. Kontak die besprekings agentskap Talentspens by info@edtpr.co.za

Spesiale Dankie aan Cathrienke van den Bergh, Sanet se suster vir die warm ontvangs by Cup of Cake.

image

Foto’s: Ian du Toit

Stilering: Errieda du Toit en Sanet Eigelaar

Die blogskrywe is aangepas uit my rubriek ‘Aan Tafel’ in Die Burger Versnit wat Woensdae verskyn.

Suurlemoen-olyfoliekoek met suurlemoen-glaseersel en grenadilla-stroop

13 Jul

My mooi  turkoois vrugtebak is nooit sonder suurlemoene nie, dis immers my inner-vrug. Grenadillas is net ‘n kort kop agter.

aaa  bak suurlemoene

Albei bied inspirasie vir ‘n lekker gebakte poeding, of soos hier, ‘n  verkwikkende koek wat van oggendtee of middagkoffie ‘n partie maak.

Die suurlemoen – skil, sap en al  beland in die koek en in die glaseersel, terwyl die granadilla pulp tot ‘n stropie gekook word om saam met die koek te bedien.

ssuurlemoen drizzlekoek

Suurlemoen-olyfoliekoek met suurlemoen-glaseersel en grenadilla-stroop

Maak 1 enkellaag koek (10 snye)

  • 2½ Koppies (375g) bruismeel, gesif
  • 1½ Koppies (330g) strooisuiker
  • Gerasperde skil en sap van een suurlemoen
  • 3 eiers
  • ½ Koppie (125ml) karringmelk
  • 1/3 Koppie (80ml) ekstra suikwer olyfolie
  • 1 Vanillapeul, sade uitgekrap
  • Suurlemoentiemietakkies om mee te bedien (opsioneel)

Suurlemoenglaseersel

  • 150 g versiersuiker, gesig
  • Sap van 1 suurlemoen, jy gebruik dalk nie alles nie

Grenadillastroop:

  • 220 g strooisuiker
  • Pulp van 6 grenadillas

Voorverhit die oond to 180ºC. Smeer en voer ‘n 20cm losboom- koekpan uit met bakpapier.

Vir die beslag kombineer die meel, suiker en suurlemoenskil in ‘n bak en hou eenkant. Sit die eiers in ‘n voedselverwerker en terwyl die masjien loop voeg die karringmelk, olie, vanilla sade en suurlemoensap geleidelik by tot glad. Voeg die droë bestanddele by en pols tot gemeng. Giet die mengsel in die koekpan en bak vir 45 minute of tot goudbruin en ‘n toetspen skoon uitkom. Laat afkoel in die koekpan en plaas dan op ‘n draadrakkie om heeltemal af te koel.

Vir die suurlemoenglasuur plaas die versiersuiker in ‘n mengbakkie en roer net genoeg suurlemoensap geleidelik by om  ‘n gladde, loperige konsistensie te maak, maar dik genoeg om te bedek.

Bedruip die koek met die glaseersel en versier met suurlemoentiemie. Bedien apart met bekertjie van die grenadillastroop sodat gaste hulself kan help.

*Ek is die skrywer van Koekedoor 2 se nuwe bakboek. Kyk daarin uit vir heerlike sitrusterte, ontwep deur Mari-Louis Guy. Die boek word uitgegee deur Human & Rousseau en is vanaf 21 Julie 2016 te koop. Of kom op 23 Julie na die Stellenbosch Slow Market waar  Koekedoor-bekendes en ek boeke sal teken en ‘n koekversierkompetisie sal beoordeel.

Piesang- en sagte toffie onderstebokoek

14 Jan

Met die herlewing van landelike koeke wat nie op uiterlike versiering staatmaak nie, blom onderstebo-koeke weer.aaa blokke blou mooi IMG_3438 (3)

Die pynappelonderstebokoek rinkink steeds asof sy die ‘belle van die onderstebo-ball’ is, maar die eertydse glans het ietwat verdwyn uit haar goue kolrok met die neonrooi maraschinokersie. Dis egter nie  alles neusie verby vir hierdie retro-gebak nie. ‘n Kykie na gister: Die oumagrootjie van hierdie koekstyl kom uit ’n era wat koeke nog bo-op die vuur in ysterpanne, of skillets, gebak is. Die vrugte en suiker is op die bodem gesit, die beslag bo-oor geskep en op die vuur gesit.  Wanneer die koek op die bord omgekeer word, is die mooi patrone en  smaaklike stropie onthul.

Die koek het 'n sagte, klam krummel en ontwikkel selfs meer smaak met 'n bietjie staan.

Die koek het ‘n sagte, klam krummel en ontwikkel selfs meer smaak met ‘n bietjie staan.

Vroeg in die 20ste eeu het geblikte vrugte beskikbaar geraak en al wat bakker wou die pynappel-onderstebo-koek met sy kenmerkende neonrooi-maraschinokersies maak, wat toe as baie haute en gesofistikeerd gesien is. Vandag keer ons eerder terug na die vars, seisoenmaniere en ondersoek ander moontlikhede as vrugte uit ‘n blik. (Winter is ‘n ander saak – dan is ingelegde vrugte ideal). Gebruik vars steenvrugte soos perskes, nektariens, bessies, vars of bevrore, speserye of selfs vars kruie. Of maak die pynappelweergawe met vars pynappelringe, en los vervlakste kersies uit!

Algemene wenke: Gebruik kruie om die vrugte op te kikker, soos perskes en nektariens met basielkruid; vye en roosmaryn of kruisement en aarbeie.  As jy kruie gebruik, sprinkel dit bo-op die vrugte voor die beslag opkom. Dit kan ook as versiering gebruik word.

  • Moenie die vrugte te yl of  suinig in die pan rangskik nie. Die vrugte krimp ietwat.
  • Plaas die koekpan op ‘n bakplaat om die oond te beskerm teen van die taai vrugtestroop wat kan oorborrel.
  • Na die pan uit die oond gehaal is, laat dit ‘n minuut staan vir die kokende strope om rustig te raak, gaan versigtig om die rand van die pan om die koek los te sny en keer dan om.
  • Moenie die koek in die pan laat afkoel nie, want dan sukkel jy om dit uit te kry.
  • Ontspan. Daar bly dalk van die vrugte in die pan agter – rangskik dit net weer mooi.
  • aa blou agtergrond in piering IMG_3433

Steeds tropies, en sonder pynappel nie 

Ons is so getroud met piesangbrood dat mens vergeet watter fantastiese ander bakplesiere in ‘n piesang opgesluit is. Soos hierdie piesang- en sagtetoffie onderstebokoek. Dit is ‘n baie lekker sagte fyn koek met ‘n stroperige bolaag van piesang en bruinsuiker- en botterkaramel. Die toffie kan ook sout bykry om die modern soutkaramel-smaak in te span (nie te veel nie, want piesang moet steeds die held bly, nie die toffie nie). Vir ‘n ekstra tropiese noot kan klapper ook by die beslag kom. Wissel dit verder af deur die piesang of in die skywe te sny, soos hierdie voorbeeld, of sny die piesangs in ringetjies om ‘n polkadot-effek op die koek te skep.

PIESANG- EN SAGTE TOFFIE ONDERSTEBOKOEK 

Maak 1  23 x 12 cm koek in broodpan? Jy kan ook ‘n ietwat kleiner pan gebruik of ‘n 24 cm koekpan as jy ronde vorm verkies.

Maak eers die piesang-bolaag:

50 g ( ¼ k botter)

100 g (1/2 k)  bruinsuiker

2-3 piesangs geskil

Koek

200 g (1 ½ k) koekmeel

½ t bakpoeier

¼  t koeksoda

½ t sout

115 g ( ½  k sagte botter

1 k (200 g) witsuiker

2 eiers, kamertemperatuur

1 t (5 ml vanielje-ekstrak of paar druppels vanieljegeursel

½ k + 2 E suurroom (155 ml)

  1. Voorverhit oond tot 180C. Smeer ‘n 23 x 12 cm broodpan of ‘n 24 cm koekpan.
  2.  Maak die toffie-en piesang laag: Smelt die botter in ‘n klein dikboomkastrol oor medium hitte tot dit begin borrel. Voeg die suiker by, roer net tot opgelos en laat prut tot dik en glad. Gooi nou die karamel  op die bodem van die gesmeerde pan uit.
  3. Halver die piesangs in die lengte, en afhangdende van die grootte van die pan en die piesangs, sny elke stuk in 2 of 3 stukke.  Plaas die piesangs met die gesnyde kant op die toffie.
  4. Maak die koekbeslag:  In ‘n medium bak, sif die meel, bakpoeier, koeksoda en sout saam, Hou eenkant.
  5. In ‘n groter mengbak, verroom die botter en suiker tot lig en donsig – ek gebruik elektriese klitser. Onthou om die kante en bodem van die bak nou en dan te skraap.
  6. Voeg die eiers een op ‘n slag by (medium spoed) en klits goed na elke byvoeging. Klits die vanileje by.
  7. Op lae spoed klits die meelmengsel in 3 dele by, afgewissel met suurroom – begin met die meel en eindig met die meel.  Moenie die mengsel oorklits nie.
  8. Skep die beslag versigtig oor die piesangs en maak bo gelyk. Bak vir 40 – 50 minute tot goudbruin en toetspen skoon uitkom. Laat die koek vir presies 5 minute in die pan op ‘n afkoelrak staan. (as dit langer staan sal die koek vassit in die pan soos wat die karamel weer afkoel). Keer dit op die bedieningsbord uit en laat afkoel.

    Eet louwarm of afgekoel.

    Eet louwarm of afgekoel.

Bedien warm of teen kamertemperatuur. Die koek hou goed in die yskas.  Lekker met room, crème fraiche of roomys.

Pete se platgedrukte sjokoladekoek sonder meel

17 Dec

Ek kan presies die dag onthou wat ek die eerste keer hierdie sensasionele meellose sjokoladekoek geproe het – ja! ‘n sjokoladekoek sonder ‘n greintjie meel. En alhoewel die koek pragtig rys, word hy dan met mening platgedruk!

Ek bak Pete se platgedrukte sjokoladekoek

Ek bak Pete se platgedrukte sjokoladekoek

Dit was sjef Pete Goffe-Wood wat my daaraan bekendgestel het. Die jaar was 2001. Die geleentheid was ‘n Slow Food ete in die pragtige ou herehuis op Uitkyk. Op die spyskaart het dit gestaan: Pressed Belgium bitter chocolate cake. Toe het Pete dit bedien met moutsjokolade en vars aarbeie.

Elke gereg van daardie ete is nog vars in my geheue: die voorgereg ‘n gerookte vistee met forel, salm, mossels, saffraan en vinkel. Die hoofgereg was ‘n warm eendslaai met jong aartappeltjies. Maar dis die plat skyf sjokoladekoek as nagereg wat nou nog neonligte in my brein laat flikker.

Pete en Elize kom kuier, en ek bak sy sjokoladekoek uit 'A Life Digested'. Ian lyk, soos altyd, die mengbak uit.

Pete en Elize kom kuier, en ek bak sy sjokoladekoek uit ‘A Life Digested’. Ian lyk, soos altyd, die mengbak uit.

Daarom was ek uit my vel uit toe ek sien dat hierdie meellose sjokoladekoek opgeneem is in Pete se boek ‘A Life Digested’. Ek stem saam met hom dat dit die mees perfekte sjokolade nagereg is – en werklik sonder gelyke.

Al is dit eenvoudig om te maak, is daar niks eenvoudig aan wat dit oplewer nie. Dit is klam, chewy, fudgerig, hemels dig en ryk. Dis die gelyke van ‘n diep donker gladde stuk  fluweel. Jy wil ook nie meer as een stuk eet nie – dit is klaar oordadig en dekadent genoeg.

PETE SE PLATGEDRUKTE SJOKOLADEKOEK

Bedien 16

400 g donker sjokolade

300 g botter

10 eiers, geskei

225 g strooisuiker

4 E kakao

Vir Bediening:

1 houertjie crème fraiche

Aarbeie, frambose of bloubessies

Metode

  • Smelt die sjokolade en die botter saam oor ‘n dubbelkoker.
  • Meng die eiergele, suiker en kakao saam in ‘n bak.
  • Voeg die gesmelte sjokolade by die eiergeelmengsel.
  • Klits die eierwitte tot styf en vou dit in by die sjokoladebeslag.
  • Bak dit in ‘n gesmeerde losboompan teen 160°C vir sowat 45 minute.
  • Haal uit die oond en laat vir 10 minute afkoel in die pan.
  • Nou maak jy die klamp van die pan los en plaas drie borde (omtrent dieselfde grootte as die koekpan) – oorgetrek met kleefplastiek – bo-op die koek vir 20 minute.
  • Haal die borde af van die koek, en verwyder die pan. Laat die koek heeltemal afkoel en bedien dan met groot skeppe crème fraiche en vars bessies. In die onwaarskynlike geval dat hierdie wonderlike koek nie op een slag verslind word nie, kan die orige in die yskas gehou word.

 *Pete beveel aan dat hierdie nagereg uit die boonste rakke geniet moet word met ‘n brandewyn uit die boonste rakke, soos Ladismith Klein Karoo 8 Jaar Potketelbrandewyn.koek voor resep stand

 A Life Digested, deur Pete Goffe-Wood word uitgegee in hardeband deur Quivertree.

Hummingbird koek laat jou hmmmmm

4 Oct

Ek het in die goue era van grootkoeke grootgeword.  My bakvaardighede sal my nie ‘n VLV-roset ooit laat verdien nie, maar ek het die vermoë om ‘n koek te kan ‘spot’ wat met sekerheid groot lekkerte gaan waarborg. Dan maak ek ‘n dag daarvan en lok gewoonlik vir my man Ian om saam te bak.  (In die geval van hierdie koek het ek my vriendin Annamie genooi – ingespan eerder – om die klitswerk te doen. Ian het help blomme maak en panne gesmeer).

Die Hummingbird Koek laat almal mmmmm wat dit eet.

Die Hummingbird Koek laat almal mmmmm wat dit eet.

My koekversiervaardighede is soos my naaldwerk en breiwerk – knit one slip one. Daarom hou ek van die nuwe neiging van meer minimalistiese, ‘naakte’ koeke met hul ontspanne versiering.

Die Hummingbird koek is 'n spesiale okkasiekoe, soos wanneer my Ma Inez kom kuier. Sy reken dis die mooiste koek wat sy nog gesien het - sy is net te beskeie wat sy het die mooiste koeke gebak op haar dag.

Die Hummingbird koek is ‘n spesiale okkasiekoek, soos wanneer my Ma Inez kom kuier. Sy reken dis die mooiste koek wat sy nog gesien het – sy is net te beskeie want sy het die mooiste koeke gebak op haar dag.

‘n Koek wat al hierdie dinge bymekaar bring: my herinneringe van die basaar-koeke wat my VLV-ma kon bak; indrukwekkende versiering en ‘n aanvaarbare moeilikheidsgraad is die Hummingbird-koek.  Solank jy drie koekpanne het van dieselfde grootte, en ‘n paar pynappels om die lieflike oondgedroogte madeliefies te maak wat bo-op die koek kom is die saak reg. Dan soek jy net ‘n koekstaander om hierdie skepping te laat uittroon bo die cupcakes wat grootkoeke se kollig probeer steel.

Wat is ‘n Hummingbird-koek?

Die klam, neuterige koek uit die Diep Suide van Amerika (proe na ‘n verlangse niggie van die wortelkoek) se besonderse smaak kom van die pekanneute, pynappel, piesang en ‘n skeppie kaneel. Dit word versier met ‘n roomkaasversiersel.

Daar is verskeie teorieë oor die naam: sommige beweer dit kom van die hmmmm-geluide wat eters maak; terwyl ander meen die hoofbestanddele is alles waarvan die hummingbird, of te wel kolibri hou. Dit word ook Jamaika-koek genoem. Die kolibri is die nasionale voël van Jamaika, waar soortgelyke speserykoeke met tropiese vrugte, genaamd Doctor Bird-koeke gewild is.

aaaa koek van bo af kleur skerp blog BLOG RESIZE

Madeliefie-pynappelblomme

My ma het altyd al wat blom wat sy geskenk gekry het gedroog; of sy het dit tussen boekblaaie gepers en prentjies of groetekaartjies daarmee gemaak. Die meer gehardes soos proteas en fynbos het sy lank na hul ‘oorlye’ nog in groot blompotte aangehou. Ek het nie van die droe”-rangskikkings gehou nie, maar sy het vasgeskep en wou niks weggooi wat haar soveel vreugde gegee het ‘in lewe’ nie.  Hierdie gedroogte pynappelblommetjies het my laat dink aan die fyn blommetjies wat ek altyd iewers in haar Gesangeboek  opgespoor het.

Moenie die kans laat verbygaan om die gedroogte ‘blommetjies’ te maak nie – jy en jou koek sal ‘the talk of the town’ wees. Natuurlik is die blommetjies nie my idee nie – dis ‘n ou truuk van kampioen-koekmooimakers. My wenk is om dit liefs die vorige dag te maak, sodat dit baie goed uitdroog voor jy jou koek wil mooimaak.

So maak jy die pynappel-madeliefies: Skil 1 groot pynappel of 2 kleintjies en verwyder die ogies met ‘n spanspek-‘baller’ of skerp messie. Sny in baie dun snytjies. Voer 2 bakplate met bakpapier uit, plaas die skyfies pynappel daarop en droog dit in ‘n oond teen 110°C uit. Draai versigtig om na sowat 40 minute in die oond. Oppas dat dit nie te bruin raak nie, maar ‘n paar puntjies hier en daar is nie ‘n problem nie.  Om die blommetjies ‘n mooi vorm te gee, plaas dit in klein muffinpannetjies as dit uit die oond kom. As die pynappelblomme te klein is, gebruik eierkelkies of iets soortgelyk om dit in neer te sit.

Nog wenke: kies pynappels wat ferm is en nie te ryp nie. Vir verskillende grootte blommetjies gebruik 1 groot pynappel en 1 kleiner pynappel.

Die madeliefies maak die koek!

Die madeliefies maak die koek!

Hummingbirdkoek

Bestanddele

Koek:

3 groot eiers

2 k suiker

¾ k sonneblom- of canolaolie

1 ½ t vanielje-ekstrak

3 k koekmeel

1 t koeksoda

½ t sout

1 ½ t kaneel (ek voeg ook mespuntjie fyn naeltjies en raspertjie neutmuskaat by)

1 blik ingemaakte fyn pynappel, sap ingesluit

6 ryp piesangs, fyngemaak *kyk wenk

1 k grofgekapte pekanneute

Roomkaas-versiersel

110 g sagte botter

2 houers roomkaas, kamertemperatuur

1 t vanielje-ekstrak

4-5 koppies versiersuiker (strooisuiker kan werk net as dit baie fyn poeier is – ek maak dit in versapper fyn)

Metode:

Voorverhit oond tot 180°C. Smeer drie 23 cm-koekpanne en voer die bodems met bakpapier uit. Klits die eiers en suiker tot lig en romerig. Voeg die olie in ‘n straaltjie by terwyl jy aanhou klits. Klits die vanielje by tot die beslag glad en romerig is. In ‘n aparte bakkie sif die meel, koeksoda, sout en kaneel saam. Klop die droë bestanddele, ‘n derde op ‘n slag, by die geroomde mengsel, elke keer net genoeg om dit goed te meng. Voeg  fyn pynappel en sap, piesang en neute by en roer by. Verdeel die beslag tussen die drie panne. Bak 20-25 minute in voorverhitte oond tot gaar (‘n toetspen sal skoon uitkom en die koek trek weg van die pan af). Haal uit die oond en laat heeltemal afkoel in die panne.

*As jou piesangs nie lekker goed ryp is nie, kan jy dit sowat 10 minute in ‘n warm oond (180C) met skil en al bak tot die skilletjies swart is en die binnekant papperig. Dit verbeter die smaak en maak dit maklik om die piesang fyn te maak.

Versiersel:

Room botter en roomkaas tot baie glad en romerig, voeg vanielje by en meng goed in. Voeg suiker koppie vir koppie by en klits baie goed na elke byvoeging. As die mengsel te slap is om die koek te versier, sit dit ‘n rukkie in die yskas.

Om te versier: Plaas die eerste laag op die koekbord met die bakpapierkant na bo. Verwyder die papier en smeer met 1 koppie versiersel; herhaal met die volgende lae. Rond af met gedroogte pynappelblomme (of gekapte pekanneute as jy nie by die blommemaak uitgekom het nie).

Errieda du Toit is ‘n kosskrywer, die RSG-Huiskok en inhoudsvervaardiger van Kokkedoor. Kyk uit vir haar maandelikse rubrieke in Die Burger, Beeld en Sarie Kos.

sjokolade bierbroodjie

14 Jun

Ek bak vandag ‘n koek vir almal wat dink hulle kan nie koek bak nie. Al wat moeilik aan hierdie koek is, is om jou selfbeheersing te behou en nie ‘n tweede en derde sny ook te eet nie. Ek bak vandag ‘n koek vir almal wat wel KAN koek bak en iets anders en besonders soek. Hierdie koek bak ek veral vandag vir die sjokolade-verslaafdes wat nuwe maniere soek om hulle sjokolade fix te kry.

Donker+ diep behaaglik. (foto Errieda)

Donker+ diep behaaglik. (foto Errieda)

Waarvan ek praat is ‘n sjokolade bierbroodjie. Diep en donker en dekadent.  Alles hieraan is donker – die bier wat jy gebruik en die sjokoladeblokkies wat jy daarin breek. Jy kan dit warm eet as nagereg met ‘n lekker ganache sjokoladesous of  jou geduld beproef en dit laat afkoel. Dan eet jy dit met styfgeklopte room. Suurroom of crème fraiche ook lekker.

Die resep is van die fynbak-sjef Will Torrents (Frans-grootgeword en nou in Brittanje).  

aa blog bestanndele IMG_8709

Sjokolade-bierbroodjie met crème fraiche 

Maak 8 snywe

125 g botter, in stukke gesny

125 ml donker bier (milk stout)

125 g bruismeel

2,5 ml koeksoda

40 g kakaopoeier

125 g strooisuiker

75 ml melk

1 eier, geklits

5 ml vanieljegeursel

50 g donker sjokolade, in stukke gebreek

Metode

Voorverhit die oond tot 180°C met die oondrak in die middel. Voer ‘n klein broodpannetjie met bakpapier uit. In ‘n kastrolletjie, verhit die bier en botter saam oor lae hitte tot die botter gesmelt is.

In ‘n mengbak, sif die meel, kakaopoeier en koeksoda saam. Voeg die suiker, melk, eier, vanielje en gesmelte bottermengsel by en meng deur met ‘n houtlepel. Roer sjokoladestukkies deur.

Skep uit in die voorbereide broodpannetjie en bak 50 minute tot ‘n toetspen skoon uitkom. ‘n Kraaklyn op die kors is heeltemal normaal. Laat effe afkoel en keer uit op afkoelrak.

Vir opdiening: Eet dit warm as nagereg met sjokoladesous of laat afkoel en eet met styfgeklopte room, suurroom of crème fraiche.

Die liefste klein kuiergas hou sommer twee bordjies reg vir sjokoladekoek (foto Roxy Laker)

Die liefste klein kuiergas hou sommer twee bordjies reg vir sjokoladekoek (foto Roxy Laker)

  • Volg Errieda du Toit se kosrubrieke in Die Burger en Beeld, luister na Huiskok Glanskok op RSG, Vrydae 9.15 vm.  of volg Errieda op Twitter @huiskok.  
  • Net na hierdie ‘post’ verskyn het het ek die pittige briefie van ‘Marius’ ontvang: “Hallo Errieda, Daai sjokolade bierbroodjie van jou het nou ‘n nuwe (onbedoelde) jassie aangetrek, en in die proses sommer sy DNA nog verder verryk. Ek het dit in skywe gesny nadat dit afgekoel het, en toe in ‘n lugdigde houer in die yskas vir so 10 dae heeltemal vergeet voordat dit my bygeval het dat ek nog ‘n versteekte soedingetjie aan boord het.

    Maar nóu smaak en lyk hy verruklik anders. Die tekstuur is dig en klam, amper soos fudge, en die smaak ryk soos in die tradisie van goed verouderde kaas.

    Nou wonder ek, sal ‘n mens dit kon oorweeg om so ‘n kersie of iets vir kleur en kontra-tekstuur by te voeg, en sommer ook so ‘n klein beleggingkie brandewyn oor te sprinkel voordat jy dit styf verpak in die lugdigde verouderingshouer in die yskas vergeet? Of sal die bierbroodtjie aan hierdie oordadigheid verstik, sy gesig onherroeplik geboutoks en liewer verkies om sy natuurlike warm pad te loop?”

%d bloggers like this: