Reg deur die wêreld span huiskokke ’n eenvoudige, goedgeklitste beslag van meel, melk (of water) en eiers in vir geregte wat ewe indrukwekkend en ekonomies is. Ek gebruik ‘n eenvoudige Yorkshire-poedingbeslag. Die water in die dun beslag word omskep in stoom, wat dit laat bolwang maak en die worsies behoorlik omvou – daarom praat ek van worsies in ‘n duvet.
Hier word die bekende Toad-in-the-Hole opgekikker met goeie markdag-worsies, rooiuie, kruie en sampioene. Sit voor met uiemarmelade of ’n tamatiesmoor. Vier porsies.
Jy het nodig:
8 tot 10 sampioene, gesnipper
8 goeie varkworsies
1 rooiui, in ringe
30 ml sonneblomolie
100 g koekmeel
knippie sout
2,5 ml mosterdpoeier
2 groot eiers, lig geklits
300 ml volroommelk
vars tiemieblaartjies
6 kersietamaties, halveer
So maak ’n mens:
Verhit die oond tot 220 °C. Braai sampioene bruin en hou dit apart. Rangskik die worsies in ’n plat oondbak waarin die worsies knus sal pas, gooi uieringe oor en sprinkel sonneblomolie oor. Bak sowat 15 minute tot die worsies verbruin en die uie net begin om swart puntjies te maak.
Intussen, berei beslag voor. Plaas meel, sout en mosterdpoeier in mengbak, maak holte in die meel en gooi die geklitste eier en bietjie van die melk daarin. Klits en voeg res van die melk geleidelik by tot klontvry en glad.
Laat rus die beslag tot die worsies gereed is, gee weer ’n vinnige klits en giet die beslag oor die vuurwarm worsies, sprinkel sampioene en kersietamaties oor.
Bak dit ongeveer 15 tot 20 minute tot die beslag goed opgepof, diep goudbruin en gaar is.
Besprinkel met tiemie.

Klink na n wenner. Slim. Gaan dit probeer!
heerlik. En as jy die basis reg het kan jy speel met ander geure ook. net nie te veel goed op die beslag self gooi nie.