Salvin se varkworsies en uie onder ‘n deegduvet

Laat die wetenskap en verwondering mekaar dié feestyd by die ontbyttafel ontmoet. Al wat jy nodig het om kuiermense aan jou ontbyttafel te laat oe en aa is ’n pannekoekerige beslag, heerlike worsies soos Salvin Hirschfield, (Son of a Butcher) s’n wat ek op die Granger Bay se Saterdagmark koop –  en ’n baie warm oond.

Reg deur die wêreld span huiskokke ’n eenvoudige, goedgeklitste beslag van meel, melk (of water) en eiers in vir geregte wat ewe indrukwekkend en ekonomies is. Ek gebruik ‘n eenvoudige Yorkshire-poedingbeslag. Die water in die dun beslag word omskep in stoom, wat dit laat bolwang maak en die worsies behoorlik omvou – daarom praat ek van worsies in ‘n duvet.

image

Worsies en uie onder die duvet.

Hier word die bekende Toad-in-the-Hole opgekikker met goeie markdag-worsies, rooiuie, kruie en sam­pioene. Sit voor met uiemarmelade of ’n tamatiesmoor. Vier porsies.

Jy het nodig:

8 tot 10 sampioene, gesnipper

8 goeie varkworsies

1 rooiui, in ringe

30 ml sonneblomolie

100 g koekmeel

knippie sout

2,5 ml mosterdpoeier

2 groot eiers, lig geklits

300 ml volroommelk

vars tiemieblaartjies

6 kersietamaties, halveer

So maak ’n mens:

Verhit die oond tot 220 °C. Braai sampioene bruin en hou dit apart. Rangskik die worsies in ’n plat oondbak waarin die worsies knus sal pas, gooi uieringe oor en sprinkel sonneblomolie oor. Bak sowat 15 minute tot die worsies verbruin en die uie net begin om swart puntjies te maak.

Intussen, berei beslag voor. Plaas meel, sout en mosterdpoeier in mengbak, maak holte in die meel en gooi die geklitste eier en bietjie van die melk daarin. Klits en voeg res van die melk geleidelik by tot klontvry en glad.

Laat rus die beslag tot die worsies gereed is, gee weer ’n vinnige klits en giet die beslag oor die vuurwarm worsies, sprinkel sampioene en kersietamaties oor.

Bak dit ongeveer 15 tot 20 minute tot die beslag goed opgepof, diep goudbruin en gaar is.

Besprinkel met tiemie.

2 thoughts on “Salvin se varkworsies en uie onder ‘n deegduvet

Lewer kommentaar op Pam Thomas Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.