Snoek en kerriedruiwe (en smoorsnoek vir die dag daarna)

5 Feb

Na my man Ian gesien het hoe ‘n Sandvelder snoek braai, het sy vingers gejik om die Weskus-ritueel in sy eie agterplaas te verfyn. 

Hoewel stroperige soetpatat ‘n tradisionele maat is vir braaisnoek, trek ek graag brood en korrelkonfyt nader. 

Toe Ian by die huis aankom met ‘n paar ‘op special’  snoeke was die fles  korrelkonfyt leeg, maar daar’s groen druiwe in die yskas en my kuiergas, koskenner Daleen van der Merwe, loop met ‘n resep vir kerriedruiwe in haar kop rond.

Ek ken kerrieperskes en kerrieboontjies, maar kerriedruiwe was ‘n nuutjie vir my. So ‘n openbaring dat ek druiwe in ‘n heel ander lig sien en ‘n arsenaal piekeldruiwe-resepte begin opbou. Ons eet dit nou met alles, van bobotie en burgers tot smoorsnoek en paté. 

Daleen se kerriedruiwe

Snoek se nuwe beste maat. Varieer die hitte van die piekel met die sterkte van die kerriepoeier. Die dekselse lekker kerriedruiwe hoef ook nie eers ‘n maand te staanvir die geure om ryp te word soos ander piekels en atjars nie – dis dadelik reg vir eet.  As jy nie lus is om met gesteriliseerde bottels te bodder nie, halveer die resep eneet alles op een slag op. 

1,5 kg wit druiwe

1 ui, in dun ringetjies gesny

Kerriesous

500 ml wit druiweasyn

500 ml suiker

12,5 ml kerriepoeier

15 ml borrie

5 ml mosterdpoeier

5 ml fyn gemmer

45 ml mielieblom

Kook die druiwekorrels en uie  in ‘n bietjie water in ‘n medium kastrol vir 8 -10 minute, dreineer en hou eenkant. Die kooktyd gaan afhang van die grootte van die druiwekorrels – jy wil dit nie te lank kook nie, anders kook dit uit die doppe of raakverrimpeld. 

Voeg die sousbestanddele in die kastrol en kook oor matige hitte tot verdik. Gooi die druiwe by en meng deur. Gooi die kokende mengsel in ‘n skoon, warm droë fles enseël.  Dit kan dadelik geëet word, of hou dit op ‘n koel plek. 

Druiwepiekel met kaneel en vinkelsaad

Hierdie rooidruif-piekel is meer pikant, minder soet en alles waarvan snoekpatee enselfs ‘n burger en tjips ooit van kon droom. 

Maak 750 ml

750 ml pitlose rooidruiwe

250 ml rooiwynasyn

62,5 ml water

190 ml strooisuiker

15 ml sout

1 kaneelstokkie

1 steranys

5 ml heel komyn- of vinkelsaad

2 ml rissievlokkies

Sny ‘n dun puntjie van die korrels se stingelkante af sodat die piekel onder die dopkan intrek. Sny groot korrels in die helfte. 

Plaas die res van die bestanddele in ‘n groot kastrol en bring tot kookpunt, terwyl jyroer om die suiker en sout op te los. Voeg die druiwekorrels by en bring tot kookpunt, laat 2 minute prut. Haal van die hitte af, laat staan 10 minute en vul ‘n skoon, droëwarm fles en seël. Laat afkoel. Dit hou ‘n maand in die yskas. 

Snoek oor die kole

Dit was in die KykNET-program Tiaan Onthou ek’s Inhoudsvervaardiger lucky me), wat De Jongh van Zyl  sy slag met snoek oor die kole by sy vakansiehuis op Lambertsbaai gewys het.  Ian sluit van die wyshede by sy eie snoekbraai-wenke in. 

1 snoek, oopgevlek, stert aan en kop af

50 – 60g botter

Sap van ‘n halwe groot suurlemoen

Toeklaprooster en kwassie

Vir die vis moet die kole nie te warm wees nie en die rooster sowat 15cm bo die kole. ‘n Enkellaag kole is ideaal. 

Sit die botter en suurlemoensap in ‘n bakkie en mikrogolf tot die botter net gesmelt is en meng deur. Bestryk die rooster en die onderkant van die vis voor jy dit in die rooster sit. Draai die rooster om en herhaal aan die ander kant. Laat die bokant van die toeklaprooster net liggies rus op die vis – moenie die rooster ‘sluit’ nie.

Begin die braai met die rooster nie te naby aan die kole nie; hou fyn dop en luister – die vis moenie aan die rooster vassit nie en nie brand nie. Draai die rooster baie gereeld om aan die begin – sommer so elke vyf tellings. Na ‘n minuut of twee van gereeld draai raak jy rustig en braai dit geduldig aan elke kant. As die kole bietjie koel is kan jy nog kole onder inkrap of jy kan die rooster laat sak. 

Om te toets of die vis gaar is moet dit maklik vlok – gebruik jou hand of ‘n vurk en trek ‘n stukkie van die kant af – dit moet maklik loskom en die vleis binne moet spierwit en vlokkerig wees;  nie klam of deurskynend  nie.   

Patat-smoorsnoek met druiwepiekel

Ian is nou so bedrewe met snoekbraai, dat ekstra gebraai word vir smoorsnoek. Hoewel dit tradisioneel is om smoorsnoek met aartappel te maak, vlei die patat en die soetsuur van die druiwepiekel die rokerige vis. 

1 kg gaar snoek, gepluis en grate verwyder

25 ml olie

15 ml botter

1 groot ui, fyngekap

2 knoffelhuisies fyngekap

2 medium patats, in skyfies of blokkies

2 medium tamaties, gerasper

1 brandrissie, gekap

Sout en peper

Verhit die olie en botter in ‘n kastrol en smoor die uie en knoffel tot sag, maar nie bruin nie. Voeg die patat by en prut met die deksel op tot vurksag, voeg die tamatie, rissie en gevlokte snoek by, plaas die deksel terug en skud  die pot om deur te meng. Smoor nog  5 minute, geur met sout en peper. Eet saam met rys en kerriedruiwe. 

. • Errieda du Toit is die inhoudsvervaardiger van Kokkedoor en Tiaan Onthou. Boeke uit haar pen sluit in Huiskok Glanskok en Tuistafel. Besoek haar blog by Huiskok.com

2 Responses to “Snoek en kerriedruiwe (en smoorsnoek vir die dag daarna)”

  1. Amanda March 3, 2019 at 4:50 pm #

    Errieda die kerriedruiwe en snoek is n wenner ! Besig om nog kerriedruiwe te bottel. Dankie daarvoor.

    • huiskok March 3, 2019 at 7:32 pm #

      Baie dankie dat jy laat weet het, Amanda. Vir my was dit ook so ‘n aangename ontdekking.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: