As ek ‘n bord kos vir iemand kon kook vandag om die gevoel van melancholie te vedryf In hierdie tyd van sosiale afsondering sou dit iets sonnig wees – ‘n gereg wat jou so gelukkig maak soos om die sonskyn op jou skouers te voel.
![]()
het my gesin gevra om hulle gunsteling-hoendergereg te kies van die aandetes wat ek tot dusver in die afsonderingstyd op die tafel gesit het. My man Ian sê hy sal baie gelukkig wees as hy al om die ander dag suurlemoen-en-rys-hoender te ete kry.
My sonnige weergawe van die klassieke Griekse hoendergereg word met geelrys gemaak vir ‘n stukkie Kaapse nostalgie, mosterdsade vir warmte en kerrieblare uit my tuin vir geur. Almal wat my goed ken weet dat suurlemoene my innervrug is; en dat geel my happy kleur is. So sal my man eerder vir my ‘n sak suurlemoene van die winkel af bring as ‘n bos rooi rose.
Die kwistige gebruik van suurlemoen is ‘n aangename kontras met die rykheid van die hoender en rys. Goudbruin-gebraaide suurlemoenskyfies rond die eenpotgereg mooi af. As jy pitlose suurlemoene soos LemonGold gebruik, hoef jy nie bang te wees om op ‘n bitter pit te byt nie, andersins delf maar eers die pitte uit.
Ek het gelukkig ‘n kerrieboom in die tuin, maar los dit uit of vervang met suurlemoen of lourierblare. Dis mosterdsade is ook opsioneel. As jou borrie op is, vervang dit met ‘n opgehoople teelepel matige kerriepoeier.
As jou yskas fetakaas en ‘n paar groen olywe oplewer, bedien dit saam vir ‘n sout noot. Onthou net om die olywe se pitte uit te haal om die tandartsstoel te vermy.
Little Miss Sunshine suurlemoen-en-rys-hoender
4 porsies
8 hoenderstukke (dye en boudjies, met vel aan)
Sout en peper
15ml elk botter en olyfolie vir braai
1 suurlemoen in skywe gesny
1-2 suurlemoene se sap en gerasperde skil
1 groot ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, gekap
10 ml mosterdsade (as jou speseryrak dit oplewer, andersins opsioneel)
500ml witrys
5 ml borrie
8 kerrieblare of 3 suurlemoen- of lourierblare (opsioneel)
750ml of meer warm hoenderaftreksel
Vir opdiening: gekapte kruie
Opsioneel: gekrummelde fetakaas, ontpitte groen olywe as jou spens dit oplewer
Maak so:
- Voorverhit oond tot 180˚C. Geur hoenderstukke goed met sout en peper. Verhit die botter en olie in ‘n diep oondvaste pan en braai die hoender tot goudbruin, 5 – 8 minute. Skep uit en hou eenkant. Braai die suurlemoenskywe tot verbruin en hou eenkant om later vir opdiening te gebruik.
- Braai die uie tot sag en deurskynend, roer die knoffel en mosterdsade by en braai nog ‘n minuut. Stoot die uie-mengsel na die kant van die pan, voeg die rou rys by en braai goudbruin terwyl jy roer. Hier en daar sal korrels selfs begin pof. Strooi borrie oor en roer deur die uie en rys. Voeg kerrieblare (indien gebruik ), warm hoenderaftreksel, suurlemoensap en-skil by.
- Pak die hoenderstukke bo-op die rys, plaas deksel op en bak tot die rys gaar en donsig is en die hoender gaar is, sowat 25 minute. (Indien nodig, voeg tydens die kookproses nog aftreksel by). Haal deksel af en bak nog 5 – 8 minute.
- Druk die verbruinde suurlemoenskyfies hier en daar tussen die hoenderstukke en strooi gekapte vars kruie oor.
Lekker eet,
Errieda
Foto’s en stilering: Ian en Errieda Du Toit
Ek kwyl nou ernstig hoor. Lyk heeeeerlik.