Kleipot-huisbroodjie

Kleipot-liefhebbers glo dat elke kleipot sy eie stem het.

Huisbrood in terracotta.

As die soppot uitkom moet goeie brood ook. Ek haal my Romertopf-kleipot wat sulke heerlike brood maak,  altyd teësinnig uit – want wat as dit breek! Dan weer, wat verbind mens so met antieke kokke wat millennia gelede al die magiese krag van kleipotte ervaar het. 

Kleipot-liefhebbers glo dat elke kleipot sy eie stem het. Dalk het dit te doen met die poreuse aard van ongeglasuurde klei, maar ek wil glo dis iets meer misterieus as dit. 

Sit die geweekte pot altyd in ‘n koue oond om saam warm te word.

Gemeet aan die drie Romertopf-kasserolbakke wat ek as trougeskenke gekry het, was die 1980’s die goue era van terra-cotta. Met die jare het my versameling gegroei met nog een spesiaal vir patees. tuitbek tagines, boonpotte en selfs ‘n Spaanse caquela. Dis juis toe my caquela – ‘n ronde erdehouer met ongeglasuurdebodem – gebreek het dat ek die res weggepak  het. 

Vir bykans die ganse 21ste eeu was dit buite gevaar, maar ongebruik en onvervuld.  Ja, klei is meer breekbaar … ‘n ongeluk wat wag om te gebeur, maar ek moet net daaroor kom. 

Die Duitste Romertopf-kleiware is vernoem na Romeinse ware uit die antieke tyd. Nuwe tegnologie soos die deeghak van die staanmenger vat die angel  uit die knieproses. Die stoom van die geweekte kleibak sorg vir ‘n baie bros kors. 


250 ml louwarm water

1 x 10 g pakkie kitsgis

5 ml suiker

5 ml sout

15 ml kookolie

3 X 250 ml koekmeel


Voeg die water in die bak van ‘n staanmenger met ‘n deeghak.

Sprinkel die gis bo-op die water en laat dit staan vir sowat 5 minute totdat die gis versag.

Roer die suiker, sout en olie by. Voeg 500 ml van die meel by en meng goed deur.Voeg orige 250 ml meel stadig by en knie met deeghak tot dit maklik loskom van die kante en ‘n sagte bol vorm ( 10 – 15 minute).


Rol deeg in ‘n bal en plaas in ‘n gesmeerde bak. Draai die deeg om dit reg rondom te smeer. Bedek en laat staan in ‘n trek-vrye area tot die volume verdubbel het, sowat ‘n uur.


Intussen week die Romertopf se onderste deel en deksel vir 20 minute in water.  


Wanneer die deeg verdubbel het, gooi water uit onderste deel van die kleibak endruk binnekant liggies droog. Smeer lagie olie aan binnekant en besprinkel met mieliemeel.  

Knie die deeg liggies af, vorm die deeg en sit onder in die kleibak. Bedek en laat staan vir 45 minute in ‘n trek-vrye area.

Sny 10mm diep kepe in die bokant van die deeg met ‘n lemmetjie of baie skerp mes.

Haal kleideksel uit die water, maak liggies droog en sit die deksel op die pot. Plaas in ‘n koue oond. KOUE OOND. 

Stel oond op 245⁰C en bak 45 minute. Haal deksel af en bak verder tot mooi bruin, 5 tot 15 minute. Belangrik: Moenie die kleipot op ‘n koue oppervak sit as dit uit die oond kom nie – gebruik ‘n houtbord.  

Laat afkoel vir ‘n paar minute en keer broodjie uit op ‘n draadrakkie.

Foto’s: Ian Du Toit

Romertopf huisbroodjie



Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.