Bistecca en ‘n Buenos Dom Pedro vir die dag voor of na Erfenisdag

17 Sep

Op Erfenisdag eet ons aan tafel – iets diep-Tradisioneel soos ‘n bredie, geelrys en pampoenkoekies.

Die dag voor Erfenisdag, of daarna, afhangende hoe die weer lyk, maak ons Kos wat ‘n familie-lid eer.

Hierdie keer was dit my Italiaanse oupa wat met ‘bistecca alla fiorentina’ onthou word. My man Ian doen die  vleis  en ek sorg vir die ansjovisbotter – asook die beste Dom Pedro duskant Buenos Aires. ian braai IMG_9781

‘n Os du Randt van ‘n steak 

Ons lol nie met klein tjoppies en anderhalfduimpie stukkies wors nie. Nee, dis  750 g t-been knewels – noem bisteccas maar die Os du Randt van steak-snitte. Ian is ‘n uitstekende braaier (hy’s te beskeie om dit self te noem) – wat reg sal laat geskied aan die fiorentina-opgedra-aan-my-oupa.

vleis close met hande komb IMG_9764

Ian sout en peper die bisteccas

Tradisioneel in die Toskane het hierdie t-been steaks maklik ‘n volle kilogram elk geweeg. Die Italiaanse Chianina beesras is uitsonderlik groot – en ook van die oudste beesrasse ter wêreld. Angus-bief is by ons ‘n goeie plaasvervanger. Sulke goeie vleis het nie tierlantyntjies nodig nie.  Sout, peper, olyfolie, ‘n goeie braaier en groot aptyt.

Botter-byspeler

Al speel die steak die hoofrol, is dit die verleidelike ansjovis-botter daarby wat die Oscar as byspeler verdien.

botterbestanddele resize IMG_9741

Soet botter, soutige kappertjies, ‘n paar ansjovissies, baie dijon mosterd, fyngekapte rooi-ui en pietersielie word saamgemeng, in ‘n wors gerol en in die yskas gelos tot die steaks warm van die kole af kom. Net dit. (Sien onder vir resep)

Langbeen-bykos

Net jammer my winkel om die hoek het nie broccolini gehad nie; dis soortgelyk aan broccoli, maar het lang dun stele en kleiner blomkoppies. Met die groot stuk vleis op die bord, kan mens doen met ‘n elegante groenigheid op die bord. (dink Beauty and the Beast).   Verder hou ek dit eenvoudig met groot, vet skywe vars tamatie, besprinkel met Maldon soutvlokkies, wit peper en titsel olyfolie.

brocc chillir resize IMG_9768

Drom Petrol vir Poeding

Na almal ‘n blanskans gehad het en in diep leunstoele neersyg na die bisteccas aanslag, haal ek my Buenos Aires-truuk uit met ‘n Don Pedro*.

Blog Don Pedro mooi 049

Dom Pedro? Drom Petrol? As hierdie grootmens poeding-drink jou te veel laat dink aan etes by die Dros, dan het jy nog nie die geluk gesmaak om die ware jakob in ‘n Argentynse parrilla te proe nie. Dit was my stylvolle vriend David Strauss wat my bekend gestel het aan die Spaans-Latynse manier van omgaan met die adelike Don.  Goeie roomys en whiskey, asook handevol okkerneute; niks room nie.

*Die Spanjaard Don Pedro de Mendoya – waarna Don Pedro vernoem is – het in 1536 die stad Buenos Aires op die Rio de la Plata gevestig.

Terloops: onthou om vir die designated drivers iets sonder skop oor die roomys te gooi.

Bistecca fiorentina met ansjovisbotter

(nota: maak die ansjovisbotter voor die braaivuur kole aangesteek word) 

450 g T-been  per persoon (jy kan ook 2 mense aan ‘n groot 800 steak laat eet)

Olyfolie, om steak mee te bestryk

Sout en peper

Broccolini of broccoli

Bring die steak tot kamertemperatuur.  Vee met ‘n skoon lap af, bestryk met olyfolie en geur met sout en peper. Braai oor medium kole tot gewenste graad van gaarheid.

Ian die Braaier se wenk: Braai eerste aan die beenkant van die steak. Hou die steak met die braaitang vas op sy sy en laat die vetkant goed bruin braai, alvorens jy dit aan beide kante verder braai.  van die vuur af, bedek liggies met foelie en laat rus vir 5 minute.

Bedien met skyfies botter bo-op – die botter sal smelt en die heerlikste sous vorm. Sit voor met broccolini (of broccoli afhangende van jou lot in die groentewinkel), ekstra Dijon mosterd indien verkies en ‘n baie eenvoudige slaai, soos skywe ryp, ferm tamaties.

Ansjovis- en kappertjiebotter

Dis verslawend. Onthou om die botter betyds uit die yskas te haal voor jy met die resep begin. Dis dan soveel vinniger en makliker om die geurmiddels met die sagte botter te meng.

ansjoevisbotter resize IMG_9753

180 g ongesoute botter

4-6 ansjovis, baie fyn gekap

15 ml kappertjies, gedreineer

40 ml pietersielie, fyngekap

20 t Dijon mosterd

15 ml rooi ui of salotte, baie fyn gekap

Seesout en swart peper na smaak

Klop die botter ligweg met ‘n houtlepel, voeg die res van die bestanddele by en geur met sout en peper (die vissies en kappertjies is reeds sout, so geur met ‘n ligte hand). Plaas die botter op ‘n vel kleefplastiek, rol op in ‘n worsvorm en draai die punte om dit goed te vorm. Sit in die yskas tot benodig.

Wenk: as jy verkies kan die steak net met olyfolie en suurlemoenskywe voorgesit word, eerder as die gegeurde botter.

In jou glas: Die Italianers drink graag Chianti Classico saam met die steak. Ons het Altydgedacht Barbera saam met dit gedrink met Diemersdal Pinotage in reserwe.

Buenos Aires se Dom Pedro

Maak so: Per persoon: In ‘n bonkige waterglas skep ‘n paar groot scoops goeie vanieljeroomys (die wat met regte melk en room gemaak word; nie met ‘vegetable fats’ nie), strooi  ‘n klomp okkerneute oor en giet ‘n tot of twee whiskey oor (25 ml is respektabel).

Blog Don Pedro Yoga 062

Dom Pedro soos jy nie in die Dros sal kry nie

Bedien met ‘n lang lepel sodat jou gas dit self kan deurmekaar roer of net so skep-slurp eet.

My vriendin Daleen dring aan op brandewyn saam met haar Don Pedro, eerder as whiskey – en ek dink sy’t ‘n punt beet.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: