Elke somervakansie het sy kroongeregte. Hierdie ongewone aarbei-nagereg maak ek tot vervelens toe, en steeds kry my kuiermense nie genoeg daarvan nie. “Maak weer daai speserye-aarbeie,” smeek hulle. Ek gee nie om nie want ek’s ook mal daaroor. Daar is nie nog ‘n vruggie wat vir my so na somer smaak soos aarbeie nie, en ek’s altyd op soek na iets anders as room of roomys om dit mee voor te sit. Ja, ons almal ken die triek om aarbeie op te kikker met bietjie swartpeper en balsamiekasyn. In hierdie variasie word die aarbeie gegeur met spesery-suiker van kaneel en peper; en bedien met ‘n skeppie ricottakaas. Om dit feestelik vir Kersfees te maak word likeur by die aarbeie gesprinkel. Jy’t nodig 400 g ryp aarbeie, in halwes gesny 250 g vars ricottakaas 15 ml Amaretto likeur (dis ‘n soet Italiaanse amandel-gegeurde likeur) Spatsel balsamiekasyn Vir die speserysuiker: ½ kaneelstokkie 6 peperkorrels, gestamp 6 E suiker Strook suurlemoenskil Maak eerstens die speserysuiker deur die kaneelstokkie, peperkorrels, suiker en suurlemoenskil in ‘n koffiemaler of klein speserymaler saam te maal tot ‘n fynerige poeier. Jy gooi die helfte van die speserysuiker oor die aarbeie en roer dit goed deur sodat die aarbeie so sapperig raak. Laat staan die aarbeie dat die speserysuiker se geure hulle werk kan doen. Die orige speserysuiker word gemeng met die ricotta. ‘n Wenk is om die ricotta met die agterkant van ‘n lepel deur ‘n sif te druk. Meng die amaretto likeur en die balsamiekasyn ook by die ricotta. Skep die amaretto gegeurde ricotta in mooi glasies of glas poedingbakkies, en lepels vol van die aarbeie bo-oor. Rond dit af met ‘n paar ekstra druppels amaretto likeur.
Leave a Reply