Gemmerkoekies goed ge-gemmer

13 Jul

Al was die goue era van groot musiek- en dansflieks verby teen die tyd wat ek my tande gesny het, dink ek aan Ginger Rodgers aan Fred Astaire se sy as ek die woord ‘gemmer’hoor. Ginger het vir dans gedoen wat gemmerkoekies vir die koekblik doen.  Betowerend. Nooit skandalig en dekadent nie, maar tog vol chutzpah.

Ginger Rogers in gemmer getooi in die goue era van silwerdoeksterre

Maar eers dink ek aan my liefste gemmerkat Kerneels – tussen ons kattekroos die jong mannetjie. Kordaat. Vol vuur en altyd reg vir ‘n relletjie. Ek hou van gemmerkoekies ook so. Vol vuur en vol vlam. Nie speletjies-gemmerkoekies wat jou skaars laat proe wat sy pa en sy ma se herkoms is nie. Nee, as jy in ‘n gemmerkoekie byt, moet hy terugbyt.

Kerneels bak in die wintersonnetjie terwyl ek gemmerkoekies bak

My man hou van gemmerkoekies deurbros – krakerig met elke byt. Ek weer hou van ‘n effe gooeyrige binnekant. Donker van die molasse en baie speserye.

die lekkerte van gemmerkoekies bak is die mooigeit van die bestanddele en die lekkerte van Instagram

Daar’s natuurlik ‘n magdom lekker gemmerkoekie-resepte – party sweer by wonderpeper, ander dat daar naeltjies moet in. Jy kan selfs mosterdpoeier bysit vir nog byt. Met of sonder ingelegde gemmer.  As ek met myne klaar is lyk dit so:My gemmerkoekies vars van die afkoelrak af

2 1/4 koppies koekmeelblom

5 ml koeksoda

10 ml fyn kaneel

5 ml fyn naeltjies

2,5 ml neutmuskaat (ek rasper myne vars)

2,5 ml fyn gemmer

varsgemaalde peper

15 ml vars fyngerasperde gemmer

3/4 koppie ingelegde of gekristalliseerde gemmer in stukkies gesny

1 ml sout

250 ml bruinsuiker

62,5 ml sonneblomolie

1/3 koppie swaelvrye molasse

1 ekstra-groot eier

Gewone witsuiker, vir rol

Verhit die oond tot 180 °C. Voer 2 bakplate met bakpapier uit.

Meng die meel, koeksoda, kaneel, naeltjies, gemmer, sout en peper goed saam in ‘n mengbak. In ‘n aparte mengbak klits die bruinsuiker, olie en molasse vir sowat 5 minute. (Gebruik ‘n elektriese klitser) Verlaag die spoed en voeg die eier by. Klits nog 1 minuut. Skraap die kante van die bak skoon met ‘n spatula en klits nog ‘n minuut. Voeg nou die droë bestanddele bietjie vir bietjie by terwyl die menger loop en klits nog 2 minute. Voeg die gekristalliseerde gemmer en die vars gemmer by. Meng deur.  Gebruik ‘n roomysskepper om bolletjies deeg te skep. Vorm ronde bolletjies met die hand en druk die koekies effens plat. Rol die koekies aan albei kante in witsuiker, plaas op die bakplaat. Op hierdie punt kan jy die deeg sowat 25 minute in die yskas plaas, wat die koekies nog meer sal laat kraak as dit gebak word.

Bak  14 – 16 minute. Roteer die panne halfpad deur die baktyd. Die koekies sal krakerig bo-op lyk. Dis baie sag as dit uit die oond kom, maar die buitekant sal bros raak wanneer dit afkoel. Laat sowat 2 minute in die pan staan en plaas dan op die afkoelrak.

My behoorlik-gegemmerde gemmerkoekies duidelik tuisgemaak

*Laat die koekies behoorlik afkoel voor dit in lugdigte houer gepak word.

*As die koekies darem vir jou net te gemmerig is, los die vars gemmer en die gekristalliseerde gemmer uit.

*As jy die hitte verder wil opjaag, vermeerder die gemmer (fyn en vars) en voeg ook 2.5 ml mosterpoeier by.

*Vir ‘n heerlike grootmens-bederf, bedien die gemmerkoekies met camembert- of brie. Dis ook lekker met lemoenkonserf en ‘n glasie potketelbrandewyn.

Twitter: volg gerus my koskwetters by @huiskok en luister saam elke Vrydag op RSG om 9h15 wanneer ek en Francois op Huiskok Glanskok oor kos praat.

9 Responses to “Gemmerkoekies goed ge-gemmer”

  1. christa August 28, 2012 at 5:55 am #

    My ma het die gemmerkoekies gemaak maar dit is kliphard kan dit nie gebyt kry nie kan jy moontlik se wat die fout kan wees.

    • huiskok August 28, 2012 at 6:05 am #

      jammer om van die harde koekies te hoor. Dit is juis koekies met ‘n sagte binnekant. As die koekies te lank gebak word, kan dit sekerlik gebeur. Dalk die oond te warm.

  2. Dirkie July 13, 2012 at 12:15 pm #

    Water my mond nou – amper druppeltjie op die sleutelbord! As jy Gemmerkoekie afbyt moet hy so knarts en as hy gedoop word in koffie moet dit so slurr as jy afbyt – heerlik!

    • huiskok July 13, 2012 at 12:34 pm #

      jy beskryf dit nou so lekker dat ek onmiddellik nog ‘n gemmerkoekie gaan eet.

      • Dirkie July 13, 2012 at 1:16 pm #

        Ai jai jai…. geniet dit hoor!!

  3. Marge July 13, 2012 at 10:04 am #

    Hierdie resep klink heeeerlik, ek gaan dit definitief maak – met die skop!

    • huiskok July 13, 2012 at 12:21 pm #

      vertel hoe dit toe geproe het!

  4. N Visser July 13, 2012 at 9:31 am #

    Ek verstaan nie die meel nie Die resep noem 21/4 Is dit vier koppies of is dir 21 koppies?

    • huiskok July 13, 2012 at 12:22 pm #

      dis 2¼ koppies 2 + kwart – dankie vir die vraag.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: