Grondboontjiebotter het nou so grand geword, dat dit gourmet status verkry. Hierdie grondboontjiebotter-beheptheid is een van die uitvloeisels van die groot resessie wat ons almal na trooskos laat verlang.
Dis in hierdie tye nederige goed waarna ons hunker (alhoewel ‘n deftige sjef grondboontjiebotter saam met peperduur eendlewer voorsit!). Tog het grondboontjiebotter ‘n gevoel van weelde – die botterige rykheid, die neuterigheid en dan nog die kleur wat herinner aan toffie en ander karamel-lekkergoed. En, reken die kenners, grondboonbotter is ‘n gesonde vet, en beveel aan dat jy ‘n lepeltjie daarvan per dag kan inkry. Net een lepeltjie? Sjoe.
Donna Hay, ‘n Australiese kosheldin van my, het ook die groot grondboontjiebotter-koors en haar resepte vir soetgoed soos sjokolade bourbon cupcakes met grondboonbotter-versiersel; churros met grondboonbottersous; en self ‘n sjokolade fondant poeding – of te wel lawa poeding – met ‘n gesmelte sjok- en grondboonbotter hart klink knie-kantel lekker.
Ek het twee van haar resepte gekies wat beide die fynproewer en die kind in ons almal tevrede sal stel. Om dit dubbeld so lekker te maak het ek my jarelange vriendin Catherine Eybers van die blog Lemon and the Dachshund genooi om te kom saamkook. Was DIT nou ‘n lekkerte. Ons het oor skooldae gepraat, gestry oor wat die lekkerste is – gladde grondboontjiebotter of die growwe soort – en natuurlik hopeloos te veel gesmul!
Grondboontjiebotter en jêm toebroodjiepoeding
Ons onthou almal die grondboontjiebotter-en gouestroop toebroodjies van ons skooldae – toe was dit dalk nie die begeerlikste toebroodjies in die kosblik nie, maar as mens met grootmens-oë daarna kyk, was dit koningskos. Dan raak dit die simbool van sorglose kinderdae, van onskuld en van Ma se liefde. (Resep ietwat aangepas na my smaak)
Wat ek hou van hierdie weergae
Bedien 4
1/3 koppie growwe grondboonbotter
8 dik snye dag-oud witbrood
1/3 koppie frambooskonfyt
Botter, saggemaak, vir smeer
250 ml slagroom (whipping cream)
160 ml melk
3 eiers + 1 eiergeel
80 g strooisuiker
5 ml vanieljegeursel of sade van 1 vanieljepeul
Bruinsuiker (Demerera) vir sprinkel
Metode:
Voorverhit die oond tot 160 C.
Smeer twee snye met grondboontjiebotter aan die een kant en sit twee snye bo-op.
Smeer nou die ander twee snye met konfyt en plaas oorblywende twee snye bo-op.
Sny die korsies af, sny elke toebroodjie in 4 kleiner toebroodjies (dus blokkies, nie driehoeke). Botter elke mini-toebroodjie en pak in ‘n kleinerige oondvaste bak. (sowat 625 ml kapasiteit bak). Meng die room, melk, eiers en ekstra eiergeel, suiker en vanielje in ‘n bakkie en klits. Gooi dit geleidelik oor die brood en laat goed week vir 2 minute. Besprinkel die broodpoeding met die bruinsuiker.
Plaas die bak in ‘n oondpan. Vir die waterbad gooi genoeg kookwater tot halfpad van die poedingbak. Bak 40-50 minute tot net gaar. Haal uit en laat staan 10 minute voor bediening. Bedien met vla.
Huiskok-wenk:
jy kan ook grondboontjiebotter-en konfyt op elke broodjie smeer.
Vervang die frambooskonfyt met enige konfyt van jou keuse, soos appelkoos. Donker konfyt lyk net meer treffend in die gebakte poeding.
Donna se Grondboontjie fudge
As jy mal is oor grondboontjiebotter sal jy hierdie sagte fudge verslind.
Bedien 8 tot 10
Bestanddele
150 g ongesoute botter, opgekap
80 ml room (single of pouring cream)
1 ½ cups (390 g) gladde grondboonbotter
5 ml vanieljegeursel
2 ½ cups (400g) versiersuiker, gesif
Metode
Voer ‘n liggesmeerde vierkantige 20 cm bakpan met bakpapier uit. Hou eenkant.
Plaas die botter, room, grondboontjiebotter en vanielje in in medium kastrol oor matige hitte. Terwyl jy roer, laat kook tot die botter en grondboonbotter gesmelt het en die mengsel net begin opkook.
Plaas die versiersuiker in ‘n mengbak en gooi die grondboonbottermengsel bo-oor. Werk nou vinnig en meng dit goed deur en gooi dan in die voorbereide pan. Bedek met kleefvrye bakpapier, laat effe afkoel en laat in die yskas vir 2 ure tot geset. Sny in blokkies. Dit hou tot twee weke in die yskas.
Wenk: Om die fudge se bokant glad te kry, plaas kleefvrye bakpapier bo-op die fudge en druk ‘n 18 cm vierkantige koekpan bo-op om die oppervlakte mooi glad te maak.
*Foto’s deur Roxy Laker van Huiskok HQ
* Resep Bron: Donna Hay tydskrif April-Mei uitgawe. Die iPad-weergawe is sowat R35.
En was die kuier en kook in die kombuis nie net te lekker nie. So tussen al die bottels grondboontjiebotter en brood deur. En natuurlik kon ons nie weerstaan om van die orige brood ons eie weergawe van ‘n grondboontjiebotter broodjie te maak nie. Kan nie wag vir ‘n volgende kombuis kuier nie, wat gaan ons volgende optower?
dis mos wat kosmaak moet wees …. pret!