My liefde vir ‘n ou ‘flame’ van my het hier in Prins Albert weer opgevlam met die koop van ‘n baie ou neutmuskaat rasper wat ek in ‘n antieke winkeltjie opgespoor het. Dis ‘n handige nommertjie – met bêreplek bo vir die neutmuskaat sodat jy geen rede het om ooit neutmuskaat in poeiervorm te koop nie.
Neutmuskaat staan dalk in die skadu van die ander speserye wat ons ma’s en oumas gebruik het kwistig gebruik het soos kaneel, naeltjies en koljander. Maar ai, dis daardie kosherinneringe van my ma wat wat vars neutmuskaat oor ons skorsies en ons kool gerasper het wat ek so goed onthou. Sy kon ons ook omkoop met witsous gegeur met neutmuskaat wat selfs gewraakte kindertydgroente spinasie heerlik gemaak het- vandag nog is geroomde spinasie een van my gunstelinge.
Neutmuskaat bring sy deel in klein hoeveelhede – ‘n resep sal nie sommer vra vir ‘n teelepel neutmuskaat nie – net ‘n rasperveeg of twee. Die hemelse aroma wat oor my huis hang as ek aartappels dauphinoise maak is klaar beloning genoeg – daar gebeur iets hemels in die oondbak as die lae aartappels met room en kaas sy warm geure loslaat van sagte, amper soet knoffel en neutmuskaat.
Mens het skaars ‘n resep nodig vir hierdie skottel aartappel-genot: Hou in gedagte dat die verhouding sowat 1 kg aartappel vir 600 ml room en 25g botter is. Ek skil nie eers my aartappels nie – sny dit muntstuk dun en kook dit in ‘n mengsel van melk en room (sowat 1 liter volroommelk saam met 600 ml room), wat goed gegeur word met klont botter, 1 gekneusde knoffelhuisie, sout peper en ‘n paar energieke rasperhale van die neutmuskaat. Wanneer die aartappels amper gaar is, pak ek die aartappels en gerasperde gryere kaas in lae in ‘n vlak oondskottel, goed met botter gesmeer. Jy eindig natuurlik met ‘n laag kaas, wat ook ge-neutmuskaat word en bak vir 40 minute tot die kaas borrelend diepbruin is.
Dis dan wat hierdie antieke spesery van die Myristica Fragrans-boom sy betowerende kant in groot maat wys.
Leave a Reply