Meringuekoek met gedroogte vye, neute en gemmerstukkies (met sjokolade ook as jy wil)

Vandag is een van daai dae wat ek die soet terapie van my kombuis en koekpanne opsoek. Sommer in die middel van die werkdag.

Roxane pout haar pad deur die soet meringuekoek
Roxane pout haar pad deur die soet meringuekoek

Ek trek ‘n vertroude, maklike resep vir meringuekoek nader.  Saam met die gekonsentreerde soet van die blinkbruin gedroogte Smyrna vye en die knars-stroperigheid van die ingelegde gemmer breek ek ‘n hele plak donkersjokolade by die meringuemengsel ook nog in. Nog soeter gaan mos nog beter wees, dink ek.

Die koek was nog nie koud nie, toe sny ons hom. My kollega Roxy staan nader en vat ‘n groot hap. Sy pout haar lippe en eet ewe dapper voort aan die suikerbom. Sy glimlag, praat nie eintlik nie. Die bordjie kom leeg terug. My man Ian sny  ‘n allermintige stuk af wat in warm brokke sjokolade, stroop, neute, gemmerstukke, meringueflardes op die koekbord neerplatz.  Hy kou en ek vra wat hy dink. ‘Sjoe, oorweldigend.’

Meringuekoek om voor te swig
Meringuekoek om voor te swig

Ek stem saam. Om wat reeds lekker genoeg is, nog lekkerder te wil maak, laat ons dikwels die pad byster raak. Ek gee die resep dus soos hy MOET wees, en nie soos ek dit opgefoeter het nie. Maar as jy ook in soet waansin WIL wegsak, vou gerus die 100 g grofgekapte donkersjokolade blokkies by die meringue in. Dis soet troos op ‘n oorweldigende weeksdag.

Soet goed word ingevou by 'n wolk van soet meringue.
Soet goed word ingevou by ‘n wolk van soet meringue.

GEMMER, NEUTE EN DROË-VY-MERINGUEKOEK

110 g heel, gepelde amandels of pekanneute of okkerneute, vir 10 minute gerooster by 190C  en dan grofgekap

4 eierwitte, kamertemperatuur

225 g strooisuiker

150 g droë vye, grofgekap

70 g ingelegde gemmer stukke in stroop, grofgekap

(100g donker sjokolade in groot stukke gekap – as jy so voel – maar wees gewaarsku, dis oorweldigend dekadent en net vir geswore suikerbekke)

Voorverhit oond tot 170C. Maak meringue: klits eierwitte tot stywe punte vorm. Roer die strooisuiker geleidelik by en klits na elke byvoeging goed. Vou die neute,  vye en gemmerstukkies by en skep mengsel in ‘n gesmeerde 20 cm losboom-koekpan. Bak 35 minute. Sny los van die kante met ‘n mes en laat afkoel. Bedien  met vanielje- of sjokoladeroomys.  Lekker saam met sterk koffie (verkieslik bitter na dese).

Resepbron: Annie Bell se Baking Bible.

6 thoughts on “Meringuekoek met gedroogte vye, neute en gemmerstukkies (met sjokolade ook as jy wil)

  1. Errieda ek is nie so vinnig by die “bak” nie – maar in my lewe is daar 2 of 3 goedjies wat ek maklik maklik bak; een van hulle is Huisgenoot Wenresepte nr 1 se Meringue koek op bl. 198 – myne het al geel kolle op. Ek het altyd pere goed gedreineer en in die room ingevou. Dit was ons “Glorious Peerkoek” waarvoor ek soms kuiergatse op n Sondagmiddag oorgenooi het, as ek nou rerig “fensie” wou wees. Jy laat my weer n keer terugverlang na dae toe ek nog jonk-in-jare was! Jy is ‘n inspirasie!

  2. Klink ongelooflik lekker ek gaan dit defnitief probeer met my gedroogte vye van weltevrede lovies
    Sent via my BlackBerry from Vodacom – let your email find you!

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.