Jy kan 87 jaar oud word, maar dieselfde jaar net oor en oor leef. Hierdie stelling herinner my om nuwe dinge te beproef en uit die groef uit te bly, selfs al is dit om anders te kyk na Sondae se rys, vleis en aartappels.
My ma Inez Espost, wat hierdie week 87 jaar oud raak, beur saam met my die groef uit. Laas Sondag het ons juis weer saam met ander kosnuuskieriges op bont tafeldoeke ‘n smaakreis onderneem. Korea toe. Halfpad deur die eksotiese maaltyd pomp Ma my liefderyk in die ribbes met die woorde: ‘hierdie rooi sssam-sous is ssso lekker’.
Ek’s my ma se kind. Ons deel ‘n liefde vir woorde en vir avontuur. Hoe kan ‘n woordmens geregte met name soos bibimbap, bantsjan, boelgogi en ssäm weerstaan.
As jou eerste hap boelgogi ( Koreaanse braaivleis en ‘n strepie ssäm toegerol in ‘n slaaiblaar) jou nie oorrompel nie, sal die eerste bakkie bibimbap met gebakte eier bo-op dit wel doen. Aan hierdie kleurvolle tafel eet die groente-eter eet net so lekker as die vleiseter. Die kos is lig en die smake van soet, sout, suur en spesery kom als bymekaar in een dis.
Dis ‘n smaakavontuur wat jou van Seoul se straatkosstalletjies tot die Korea Towns van New York en Los Angeles neem waar jong Amerikaans-Koreaanse sjefs soos David Chang van Momofuko-faam en Roy Choi, vader van die kostrokkie-beweging met die kosmantra ‘food that isn’t fancy’ gourmet-torings laat tuimel. Onder hulle invloed en die verleiding van Kimchi burgers het die smeulende kole van hierdie migrant-cuisine behoorlik vlam gevat.
Dis gourmet sonder obskure bestanddele verg. Sesamsaad, sesamolie, sojasous, gemmer, knoffel, slaaiuie en jy is so te sê in Seoul. Ware Koreaanse nirvana word egter aangevuur deur rooisous gemaak van gochujang/gotsjoejang (rooirissiepasta) of doenjang (gefermenteerde sojapasta) – die einste rooisous waaroor my ma my in die ribbes gepomp het.
Wenk: Die soektog na bestanddele soos gotsjoejang en kimchi neem mens weg van die supermark en trendy oggendmarkies op wynplase na Koreaanse winkeltjies soos die Korea Mart in Premier Sentrum 451, Hoofweg, Observatory. Tel 021 448 3420
SLEUTELWOORDE
Bulgogi/Boelgogi (Koreaanse BBQ-biefstuk): Losweg vertaal as ‘vuurvleis’. Dun snytjies gemarineerde beesvleis word baie vinnig oor kole gaargemaak of in ‘n baie warm riffelpan. Skep dit in ‘n bakkie saam met die bibumbap of draai dit in slaaiblare toe saam met rys, groente en ‘n skeppie ssam-sous.
Bibimbap: Losweg vertaal beteken dit ‘gemengde rys’. Wit rys word in ‘n bakkie bedien saam met ‘n verskeidenheid groente, kimchi of piekels, met of sonder snytjies beesvleis. ‘n Skeppie rooi sous gochujang of doenjang kom by en ‘n gebakte eier rond dit af. Besprinkel met ‘n strooisel van sesamsade en sout.

Bykosse soos sampioene met mirin en aartappeltjies met sojasous-en sesamekaramel dra by tot opwindende geure met alledaagse bestanddele
Banchan/Bantsjan: Dis die bykosse wat in klein bakkies bedien word, soos die komkommer-en appelpiekel, gamja jorim (aartappels in sojasous en heuning geglaseer); sigeumchi namul (geblansjeerde spinasie met sesamolie, sesamsaad en ‘n skeppie rooirissiepasta); boonspruite, geelwortel-repies vars of geroerbraai, roerbraai-sampioene met mirin.
Ssämjang-sous: Jy gaan hierdie sous op alles wil eet, van boerewors en ‘n skaaptjoppie tot jou hamburger. Dis onontbeerlik saam met die Koreaanse bief en bibimbup. Meng die volgende saam: 2 fyngekapte slaaiuie, 2 gerasperde knoffelhuisies, 125 ml Koreaanse gefermenteerde sojaboonpasta (doenjang), 60 ml Koreaanse rissiepasta (gotsjoejang), 60 ml mirin en 15 ml geroosterde sesamolie.
BOELGOGI (KOREAANSE BBQ BEESVLEIS)
Dis die ideale gereg vir ‘n eerste ontmoeting met die Koreaanse kookkuns. Hoe langer die vleis marineer, hoe geuriger en sagter is dit. Sit voor saam met bantsjan (bykosse) en ssam jang sous.
(genoeg vir 4 mense as deel van Koreaanse ete, of twee as hoofdis )
500 g biefstuk, soos lendestuk of riboog in dun repe gesny.
Marinade vir 500 g steak:
- 60 ml mirin (soet Japanese ryswyn), of vervang met medium-soet sjerrie
- 1 geskilde peer of Granny Smith appel, fyn gerasper
- 60 ml sojasous
- 60 ml bruinsuiker
- 4 slaaiuie , wit en groen dele, fyngekap
- 15 ml Koreaanse rissiepasta (gotsjoejang) of sambal oelek
- 15 ml fyngerasperde vars gemmer
- 2-3 knoffelhuisies, fyngerasper
- 30 ml sesamolie
- 7,5 ml ryswynasyn of appelasyn
- Swartgemaalde peper
*Vries die vleis net tot dit styf genoeg is om makliker te sny.
- Meng marinade-bestanddele saam en voeg vleisrepies by. Plaas minstens 2 uur of oornag in die yskas om te marineer.
- Druk vleis droog met kombuispapier. Braai hoogstens ‘n minuut oor warm kole of in ‘n baie warm swaarboompan met ‘n bietjie canolaolie in, niks meer as 60 sekondes nie.
HOTTEOK ROOMYSTOEBROODJIES
Hierdie gewilde straatkos word gereken as Korea se antwoord op donuts. Die deegbolletjes kry ‘n vulsels van bruinsuiker en word in ‘n pan tot bros gaargemaak, nie in diepvet nie. Bedien met koffie-kondensmelkroomys.
- 7 g kitsgis
- 10 ml strooisuiker
- 125 ml louwarm melk
- 335 g koekmeel
- 40 ml bruinsuiker, gemeng met 40 ml gekapte neute
- Sonneblom- of canolie olie vir vlakbraai
- Plaas die gis, suiker en melk in ‘n bakkie en laat staan sowat 10 minute tot skuimerig.
- Plaas meel in die bak van die elektriese menger met die deeghak aan. Maak ‘n holte in die deeg en voeg die gismengsel en 125 ml louwater by. Knie sowat 7 minute tot glad en elasties. Bedek die bak en laat in warm plek rys tot verdubbel in volume (omtrent 1 uur).
- Knie die deeg af op ‘n oppervlak liggies met meel bestrooi. Verdeel die deeg in 8 stukke, vorm elke stuk in ‘n 8 cm skyf en skep van de suiker-neutmengsel in die middel van elke porsie. Vou kante na mekaar toe en seël. Druk in 1.5 cm sirkels met jou handpalm.
- Verhit 30 ml olie in ‘n groot pan oor medium-lae hitte. Maak 4 op ‘n slag gaar, minstens 4 minute aan elke kant tot goudbruin terwyl jy dit liggies met ‘n spaan platdruk.
VINNIGE KOMKOMMER-APPELPIEKEL
- 6-8 piekel-komkommers of een medium Engelse komkommer
- 7,5 ml sout
- 1 Granny Smith appel, skil aan, gehalveer en pitte uitgehaal
- 500 ml water
- 100 ml ryswynasyn of appelasyn
- 5 cm-stuk geskilde vars gemmer, in baie dun stokkies gesny
- 60 ml suiker
- 2,5 ml droë rissievlokkies
Metode
- Sny die komkommer in ringetjies, sowat 5 mm dik (makliker met ‘n mandolien). Bedek met sout en laat 30 minute staan. Spoel af en druk soveel van die vloeistof uit as wat jy kan.
- Sny die appel in 5 mm dun skywe. Plaas die appel, komkommer en res van die bestanddele in ‘n glasbakkie en marineer vir 30-6- min.
MATANG (TOFFIE-SOETPATAT)
Pottebakker Diana Ferreira het hierdie besondere bykos saamgebring vir ons Korea-smaakreis. Dit kan as bykos of nagereg geniet word. Dis die vonds van die ete.
- 500 g soetpatat
- 4 k Sonneblom- of canolaolie vir diepbraai
Toffie:
- 15 ml sonneblomolie
- 62,5 ml suiker
- Swart sesamsaad, vir sprinkel
Metode
- Skil soetpatat, sny in stukke, spoel af onder koue water en droog goed af. Sny in stukke sowat 5 cm x 1 cm. Verhit olie in ‘n wok of braaipan en braai 6-8 minute oor medium-hoë hitte tot goudbruin.
- Om toffie te maak: Verhit 15 ml olie in ‘n swaarboompan en kantel die pan om die bodem te bedek. Sprinkel suiker eweredig oor die olie en verhit ‘n paar minute oor matige hitte. Sodra die suiker begin smelt, draai laer en prut stadig tot ‘n goudbruin stroop vorm, 7 minute of langer. Moet glad nie tydens die proses roer nie, kantel die pan om dit te versprei.
- Om saam te stel: Plaas ‘n vel bakpapier op ‘n skinkbord of bakplaat. Voeg die gebraaide soetpatats in die pan en roer versigtig deur om met die stroop te bedek. Sprinkel swart sesamsade oor. Plaas die toffiepatats op die bakpapier sonder dat dit aanmekaar raak. Los tot die stroop hard raak en plaas dan in opskepbak.
Hierdie artikel is ‘n verwerking van my artikel wat in Die Burger Versnit verskyn het op Woensdag 4 November.

Ek dra die storie op aan my ma Inez Espost wat op 87 niks van haar avontuurlustigheid verloor het nie. Langs haar is Annamie wat met haar liefdevolle versorging van ons Ma vir my ‘n suster geword het.
Dankie aan Fritz Brand en Ian wat help foto’s neem het.
Hi Elrieda, dankie vir wonderlike inspirasie en idees, ek ‘drool’ altyd as ek na jou ‘tuiste’ op die web kyk, die koffie kondesnmelk roomys klink fasinerend, het jy moontlik die resep van Fritz ? Ek het ongelukking nie ‘n dure roomysmaker nie maar altyd keen om nuwe dinge uit te prober. ek glo ook as mens iets wil he moet jy bereid wees om te deel, die volgende roomys weet ek nie hoe naby dit aan Fritz sin is nie maar dis altyd ‘n wenner, ek sit sommer ‘n hele blikkie kondensmelk in en aangesien ons nie double cream hier kry klits ek ook nie die room regtig styf nie, dit laat ‘n vettirige lagie in jou mond agter, ek klits alles net saam en vries. Dis baie soet en ryk en smelt maklik maar dis heerlik…http://www.nigella.com/recipes/view/ONE-STEP-NO-CHURN-COFFEE-ICE-CREAM-5550
Groete
Johan
dankie vir die wonderlike resep. En jammer ek antwoord nou eers – ek was maande in my skrywersgrot met ‘n kookboek besig.
Dit is nou n vars boek en met soveel oulike afrikaans nou verlang ek sommer na my mense en laat my weer na die lewe met nuwe oë kyk!
Ek het met Duitse kos en Italiaanse kos groot geword maar ken sommige van die kos wel. Suid Afrika het van die beste kos en kos stories in die wêreld en hul kan met woorde kleur!
Ek glo jy is n baie interessante mens wat n tafel laat bewe van lekker kos en sommer klets.
Alles van die beste vir jou en jou familie en die mense wat bygedra het tot die kos en stories.
Groete
Adriaan Büys
Adriaan, watter heerlike kommentaar. Baie Dankie.
Hi Adriaan, eerstens – baie jammer dat ek nou eers antwoord. Ek was vir maande in my skrywersgrot met die manuskripte vir 2 boeke en daarna die fotonemery. Maar nou is ek terug by my blog. Dankie vir jou pragtige kommentaar en vir jou waardering van ons kos en tafelstories. Groete, Errieda
Dankie baie.
Tessa
Sent from my iPad
>
Aarde hoe verlang ek nou na my dogter wat in Ulsan, Korea bly. Ons het nuwejaarsdag in minus 15 grade in Seoul staan en hottek eet en ek wou doodneerslaan van daai smaak. Hottek is vrek moeilik om vir iemand te verduidelik wat dit nog nie beleef het nie.
ek beny jou so vir die voorreg om dit eerstehands te kon proe!
Kannie wag om veral daai sous te probeer nie!
beslis die wag werd.