Daar is net daai dae wat ek nie jogurt in die yskas het vir behoorlike naanbrood nie, of te haastig is vir die ware jakob. Dan slaan ek hierdie vinnige weergawe saam.

Die lekkerte is dat die deeg net 10 minute staan voor jy dit dun uitrol. Die deeg is klewerig, maar hanteerbaar. Sorg net dat jou toonbank en rolstok met meel bestrooi is.

As jy ‘n riffelpan het span dit in, want die roosterstrepe is rêrig ‘n pluspunt. Vir ekstra geur voeg komyn by of strooi pietersielie oor. Knoffelliefhebbers kan agterna die naan met knoffelbotter ook bestryk.
Ons eet dit saam met Kaapse kerrie of met botterkerrie as afwisseling vir roti.

Japtrap knoffelnaan (sonder jogurt)
500 ml koekmeel of witbrood meel
5 ml sout
5 ml suiker
5 ml bakpoeier
10 ml olyfolie
2 gemaalde knoffelhuisies
80 ml melk
80 ml water
Botter vir oorsmeer
Maak só:
Meng die meel, sout, suiker en bakpoeier in ‘n mengbak.
Meng die gemaalde knoffel by die olie, maak ‘n holte in die meel en gooi die knoffelolie in die holte.
Voeg die melk en water en roer deur tot dit ‘n bal vorm (werk met jou hande). Die deeg moet lekker klewerig wees, maar nie loperig en nat nie.
Bedek met ‘n doek vir 10 minute.
Verdeel die deeg in 6 dele.
Strooi meel op toonbank, rol ‘n bolletjie uit met bestrooide rolstok lekker dun uit. Braai die naandeeg aan beide kante in ‘n warm riffelpan.
Bestryk die warm brood met botter.
Vir ekstra geur:
• voeg 5 ml komyn by die meel
• Strooi gekapte pietersielie oor die gaar naan
• Strooi swart sesamsaad of nigellasaad oor die warm brood.

Foto’s Ian en Errieda Du Toit