Pere met saffraan

Ek was op die laaste grypie saffraandrade in my speserykas. Ek het hulle getel. 12 kosbare oranje draadjies, en as dit op was, sou dit waarskynlik die einde gewees het van my liefdesverhouding met die weelde-spesery – so duur het dit geword.

Op ‘n dag kom laai Joanita Louw van Diemersdal gelukkig ‘n kosskat by my af – Iranese saffraan uit die boonste rakke. Ek kon weer asemhaal en my romanse met die magiese krokusblom hervat. Bowenal kan ek my kombuis omtower in die Land van Melk, Heuning en Speserydrome.

So ‘n speseryskat kom met ‘n verantwoordelikheid – om elke rooigoue draadjie te benut in iets besonders. Eers was dit paella wat geseënd was met die geskenkte saffraan, daarna breyani.

Toe kry ek koorsdrome oor ‘n saffraadstroopbad wat pere se vaal wintervlees in lekkerruik heuningklokke kon omskep.

Slegs ses saffraandrade saffraan het die poort oopgesluit na ‘ n wêreld van misterie: saffraan was die antieke gemoedopkikker, die parfuum in Cleopatra se badwater; Alexander Die Grote het sy blonde krulle gode-goud gekleur met saffraan!

Dis die smaak van sonskyn, maar wat die rugbreekwerk vereis van die krokus-plukkers. Dit was die sleutelbestanddeel van die vergesogte Middeleeuse weeldevertoon van ‘n koninklike gereg bekend as Die Goue Swaan. Nie net was die swaan gestop met ander pluimvee om ‘n tipe ‘turducken’ nie, die wit vere is goudoranje gekleur met ‘n obsene hoeveelheid saffraan.

Saffraan het meer gematigde toepassing ook as die ‘posh spice’ in ‘n propperse pronk-bouillabaisse, en is net so onontbeerlik vir egte Milanese risotto.

‘n Knypie van skaars ‘n kwart-teelepel saffraan verhef creme brûlée en romerige ryspoeding van afgesaag na opwindend en gee juweelrys sy tradisionele feestelikheid en tandoori sy diepte.

Wat ek graag maak is hierdie saffraanpere. Die bedwelmende parfuum en geure van saffraan kom tot hul reg. Saffraanpere kan net so bedien word of met goeie roomys of sorbet, amandelkoek of vars mosbolletjies.

SAFFRAANPERE

Bestanddele


1 liter suikerstroop (maak dit só: Bring 750 ml water en 750 ml suiker tot kookpunt, en kook tot die suiker opgelos het – sowat 5 minute. Laat afkoel voor dit in die yskas geplaas word)
375 ml dessertwyn
50 ml lemoenbloeiselwater
3 foelieblaadjies (mace)
1 vanieljepeul, in die middel oopgesny (opsioneel)
6 saffraandrade
skil van 2 lemoene
6 pere

Metode


Bring al die bestanddele, behalwe die pere, in ‘n groot kastrol oor matige hitte tot kookpunt.
Draai die plaat laer en prut oor lae hitte vir 15 minute.


Skil (indien verkies) en halveer die pere, verwyder die stronk en voeg dit by die kookvloeistof.


Bedek die pere met ‘n vel was- of bakpapier, en hou dit bedek met vloeistof om eweredig gaar te maak en nie te verkleur nie. Prut vir 15 – 20 minute tot sag. Haal die pere versigtig uit die stroop en hou eenkant.


Verhoog die hitte en kook die saffraanvloeistof af tot ‘n stroop. Dreineer die stroop deur ‘n fyn sif. Indien gebruik, skraap die vanieljesaad uit in die stroop en giet die stroop oor die pere.

Bedien warm of teen kamertemperatuur.

Foto: Ian du Toit
Keramiekbak: Three Potters and a Painter

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.