Blatjanghoender (met harissa as jy wil)

Groot opwinding in die huis met ons dogter wat die eerste keer ons nuwe rescuehondjie Lulu kom ontmoet.

Ons Prinses Lulu

Dis ook ‘n Wimbledon-Sondag, ‘n ideale dag vir ‘n kaggelvuur en retrokos om op die skoot te eet… wens eintlik ons het tv-skinkborde gehad.

Ek was lus vir ‘n vleisgereg wat sommer net in die oond gedruk en vergeet kan word. So word Errida Jnr se hartsbegeerte waar: Blatjanghoender, met die allerbegeerlike klewerige soetsuursout-sous waarby ek ‘n lepeltjie harissa ingeroer het. Dis op ‘n heuweltjie goedgegeurde kapokaartappel geskep met broccoli en geskroeide kersietamatie as bygroente.

Blatjanghoender is ‘n golden oldie uit die 1970’s en 80’s, ‘n huiskosgereg waarvoor jy instinktief lus kry as jy die naam hoor, of jy honger is of nie.

Torring gerus aan die resep om die kombinasie van soet, suur en sout na smaak te kry. Onthou ook groot lapservette.

BLATJANGHOENDER (MET HARISSA AS JY WIL)
Lewer 4–6 porsies

8 hoenderstukke
sout en peper of hoenderspeserye
1 ui, gerasper
250 ml appelkoosblatjang (of helfte blatjang, helfte appelkooskonfyt)
125 ml mayonnaise
125 ml tamatiesous (opsioneel)
125 ml witwyn of hoenderaftreksel
30 ml worcestersous
20 ml harissa (opsioneel)

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Geur die hoender met sout en peper of hoenderspeserye en pak dit in ’n oondskottel. Meng die res van die bestanddele saam en giet oor die hoender.

Bedek met foelie. Plaas dit in die oond en vergeet daarvan vir 60 minute, haal die foelie af en bak tot die sous borrelend en taai is, en die hoender plek-plek lekker swart stukkies wys.

NS. As jy ‘n volslae retro-entoesiasies is, meng ‘n halwe pakkie bruinuiesoppoeier by die blatjangmengsel in voor dit oor die hoenderstukke gegiet word.

Foto’s Ian en Errieda Du Toit

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.