Ek sal die dag onthou toe ons nasionale gereg Bobotie vir tien minute die oond gedeel het met ‘n baksel ‘kan jy glo’ grondboontjiebotterkoekies uit VSA se TV-land. (Thanks Cyril, this one’s for you!)
Nou en dan kom daar ‘n resep oor jou pad wat mens laat sê: “Kan dit waar wees? Rêrig? Net dit? So maklik? Moet daar nie bakpoeier bykom nie? Of ten minste meel?” Ongelowige Thomas-resepte noem ek sulkes.
Sulke geregte het seker aanleiding gegee tot die spreekwoord: “the proof of the pudding is in the eating.” Die liggelowiges laat te maklik sulke resepte verbygaan, of wag eers vir ander om hul vingers te verbrand met die flopse. Nie ek nie; ‘n resep wat lyk of dit te goed is om te kan waar wees laat my onmiddellik die panne, klitsers of koekrollers nader trek. Wie nie waag nie, wen nie.
So gebeur dit Sondag (gewoonlik die dag wat ek die Groot Kook-Koors oor my het) dat ek tussen my bobotie-maak deur na Twitter loer en sien Cyril Naicker twiet oor ‘n grondboontjiekoekie-resep met net drie bestanddele.
Terwyl die ander twieters hul ongeloof uitspreek en uitvra oor ander bestanddele wat dalk nog skort, toe het ek al die drie bestanddele afgemeet en tot ‘n deeg gemeng:
1 koppie grondboontjiebotter (glad of grof)
1 koppie witsuiker
1 eier, geklits
Ja dis al.
Al wat toe nodig is is om die koekiedeeg in bolletjies te skep (ek het somme ’n spanspekbolletjie-skepper gebruik) en in 24 bolletjies te rol, op ‘n kleefvrye-sprei-gespuite bakplaat te pak en liggies met ‘n vurk plat te druk.
En daar kry ek die gier om bietjie Malden soutvlokkies op koekies te strooi. (Dit plaas natuurlik die koekies nou in ‘n 4-bestanddeel-kategorie, maar wat. Ek het daai koekiedeeg so geproe en geweet ‘n knippie sout het niemand nog ooit skade gedoen nie …. En in elk geval dis baie trendy om sout op als wat soet is te strooi.
Die oond was reeds op 180°C vir die bobotie wat ek aan die maak was. En daar raak ons nasionale dis en die Amerikaanse grondboontjiebotterkoekies wat almal gaande het t vir 10 minute maats in die oond.
Die koekies voel sag as as dit uit die oond uit kom, so laat dit ‘n rukkie staan en verwyder dan baie versigtig met ‘n platlemmes (die koekies is baie bros.)
Ek maan almal in die kombuis om hul vingers van die grondboontjiebotterkoekies af te hou (dis vullend, ryk en ware Eatsomemores) tot ons klaar ons bobotie en geelrys geëet het. Daar het wel ‘n paar verdwyn, met krummels as stille getuie dat my man skelm iets in die kies gedruk het. Ek twiet fotos van my koekies en sien in my geestesoog hoe ongelowige Thomasse die peanutbotter, suiker en eier nader trek om dit tog maar ook te probeer.
Na ete gaan haal ek ‘n kosbare antieke bordjie uit waaroor my ma baie heilig was, pak die 1-2-3- met drie bestanddele grondboonbotterkoekies daarop, en nooi die ongeloweige Thomasse oor vir ‘n koekie en ‘n koppie tee.
Die volgende dag sit ek twee flessies grondboontjiebotter op die inkopielys en dink spottenderwys dat dit dalk ook ‘n goeie tyd is om Black Cat Peanut Butter se aandeleprys dop te hou. Hierdie koekies kan ‘n stormloop ontketen.
Nasrif: My google-soektog na die oorsprong van die resep kom uit by Paula Deen, daardie botter-behepte tannie met die ‘big hair’ en die Southern twang op die Food Kanaal. Honderde bloggers het dit daarna gemaak – sommige met ‘n twist. Ek dink tog my Khoisan soutvlokkie-twist maak my weergawe dus heel inheems – en trots om saam met ‘n bobotie in die oond te paradeer.
die beste resep uit!!!! amazingly lekker
makliker kan dit darem nie!
Ai tog! Daar gaan my dieet!!
Bak dit en eet net tweetjies; deel die ander uit, dan is dit nie so sondig nie.
Baie lekker ! ! !
Dis net moeilikheid vir my om matigheid voor oë te Hou met dae koekies.
Vir iemand wat altyd ‘n draai om die koek-bakkery loop, gaan ek verseker hierdie koekies probeer. Dis een van daai wat jy selfs die resep kan onthou wanneer die laptop of resepboek nie byderhand is nie.
ja, ek en jy moet nog ons bakvrese besweer. Vir elke maklike resep soos hierdie moet ons nou eintlik iets meer uitdagend ook aanpak. Wat stel jy voor? En as dit flop dan het ons nog steeds hierdie maklike 3-bestanddeel koekies om op terug te val. Lekker naweek tot ons weer gesels. Terloops – ek was mal oor die inskrywing op jou blog oor die kappertjie-pesto.
More Errieda,ek sit juis met n hele paar klein koekboksies en gewonder hoe kan ek dit dekor as geskenkboksies of wat sal ek daarin sit,of selfs bere as kinders n geskenk boksie benodig.Sowaar hier kom jou grondboontjie koekies en spring denkbeeldig by my boksies in.Ek sal dan resep vat en bo-op plak en as opbeur en energie en lekr voel geskenk aan my vriende en familie gee.Sommer so ook mos Vroue en manne bemagtig met die bak van n eenvoudige koekie.Ek glo dis wat jy aan ons wil deurgee!
Wat ‘n wonderlike idee Louise – ek wens jy kan vir my ‘n foto neem as jy so ‘n boksie gemaak het dan deel ek dit met ander weer. The cookies that keep on giving! En dankie vir jou kuier op huiskokblog – ek waardeer regtig jou kommentaar.
Thanks Nina!