Sosaties vir braaidag is erfenis op ’n stokkie

21 Sep

Ryg ‘n stukkie van ons kos-erfporsie op ‘n stokkie vir Erfenisdag. Maar jy sal nou al moet begin, want die erfhappies moet ‘n paar dae in die kerriesous lê wat die onderskei van ander ingerygde vleis van ander koskulture.

As dit die heerlik soetsuur GEKOOKTE marinade is, kry dit die sosatie-erftitel. ‘n Ander tipe? Dan’s dit kebabs of kabobs.

(Ek het al voorheen geblog oor sosaties, maar deel graag weer ‘n paar nuwighede en raad.)

 Sosaties met stampkoring en pampoenpiekel

Interessanthede oor sosatie se herkoms

Sosaties kom al so ‘n lang pad met ons koskultuur – en is nogals eksoties vir ons ou volkie. Eeue gelede al in die Ou Kaap het herberge bekend gestaan as “sosatie-en-ryshuise”. Dis onseker presies waar die term sosatie oorspronklik vandaan kom. Mens mag dalk dink dit kom van die Indonesiese satay, maar tog nie, want die soet gekookte kerriemarinade van sosaties onderskei ‘n sosatie van satay. Dit is moontlik afgelei van die Maleise woord sesatie (vleis-op-’n-stokkie), of ’n aanpassing van die Indonesiese term vir maalvleis, sasati.

Die pikante soeterige sous van ons tradisionele sosatie het dalk ook ‘n  voorouer in die Persiese kebab, wat die Arabiere aan die Midde-Ooste en Noord-Afrika bekend gestel het voordat dit destyds in Europa en ook Holland gewild geraak het.  Die Hollanders was so obsessief oor goeie kos en lief vir speserye dat ek wonder of ‘n resep vir sosaties nie al saam met die Reyger, die Drommedaris en Goeie Hoop hier aangeland het nie!

In die 17de eeu het ’n pond skaapvleis 3 stuiwers gekos.  En vanjaar vir Erfenisdag – al kos lamsvleis veel meer as 3 stuiwers ‘n pond, maak ek hierdie maklike, eg tradisionele sosaties. Vir variasie torring ek bietjie met die speserye.

Lamsosaties (met gekookte kerriemarinade)

Ek het hierdie resep gekry by Ladine Louw van Diemersdal. Ons is mos almal dol oor ‘n resep met ‘n storie. Sy vertel die  resep kom oorspronklik van Elrita, ‘n gesoute huisvrou op Kaaimanskloof plaas net buite Durbanville. Op hierdie plaas word geboer met koring, melk en vee, Elrita het ook haar eie lêhoenders wat vir haar daaglikse organiese eiers lê.

“Ek en Thys was een Saterdag middag genooi vir ‘n braai en daar eet ons toe die heerlikste Kerrie sosaties! Met my kombuis tee, die tradisionele soort waar elke gas ‘n skoonmaak-, kos- en huweliks ‘tip’ gee, het Elrita vir my die resep gegee,” vertel Ladine.

(die sous is genoeg vir  2 skaapboude in blokkies gesny – en maak 16 ruim sosaties)

  • 2 skaapboude in blokkies gesny (sowat 2-2.5 kg vleis)
  • knoffelsout
  • Maak die marinade so:
  • 375 ml asyn
  • 125 mℓ water + 125 ml water
  • 2 groot uie in ringe
  • 20 mℓ kerriepoeier*
  • 5 ml borrie
  • 250 ml suiker
  • 15 mℓ  meel

*Huiskok-raad: ekstra speserye wat jy kan bysit:

  • 35 mℓ fyn koljander
  • 5 mℓ fyn wonderpeper (all spice)
  • 2 mℓ fyn kaneel
  • 2 mℓ fyn komyn
  • 10 mℓ sout en gemaalde swartpeper
  • 1 mℓ fyn kardemom
  • Dun snye vars gemmer.
  • Metode

Kook uie in asyn en 125 ml water stadig vir 10min.

  1. Maak al die droë bestanddele aan met die ander halwe koppie water
  2. Gooi nou asyn en uie by koue bestanddele en plaas mengsel terug in die kastrol. Kook weer vir 10min.
  3. Sit die vleisblokkies in ‘n nie-reagerende bak, verkieslik plastiek. Geur die vleis met knoffelsout.
  4. Laat sous afkoel, gooi oor vleis en laat lê vir minstens een dag, verkieslik 3 dae. Draai gereeld om.
  5. Ryg die vleis, (en appelkosies as jy wil) op stokkies.Draai hier en daar van die uie ringe om. Sit die sosaties terug in die marinade tot dit tyd is vir braai.
  6.  Braai oor warm kole, bestryk ’n paar keer met die marinade (sowat 15 minute). Die vleis moet nog pienk in die middel wees.

Huiskok se sosatie-wenke:

*My ma het suurlemoenblare by die sosatiemarinade gevoeg; ek maak steeds so.

*Onthou om jou sosatiestokkies vooraf in water  te week.

*Om dit sappiger te maak kan skaapvet of swoerdlose ontbytspek tussen-ingeryg word

*Laat 125 g droë appelkose uitdy in ’n bakkie  kookwater vir ‘n uur of twee en ryg dit saam met die sosaties.

*ryg die vleis lossies op die stokkie, wat dit makliker laat gaar braai.

*Moenie te lank braai nie, want die marinade “kook” as’t ware die vleis halfpad gaar in die tyd wat dit inlê. Niks meer as 15 minute nie, dit moet nog pienkerig wees binne.

*as jy nie vuurmaak nie, kan die sosaties ook met sukses in ‘n riffelpan gebraai word of in die oond gerooster word (4 minute aan ‘n kant).

*die rou sosaties kan ook gevries word in die sous.

 Bykos

Karin de Villiers, wynmaker van Klein Roosboom ryg halfgaar blokkies botterskorsie en feta op roosmaryntakkies, besmeer met olyfolie en strooi growwe sout oor en braai oor die kole – goeie pêl vir  sosaties.

 Foto’s: Roxy Laker; Ian Du Toit

16 Responses to “Sosaties vir braaidag is erfenis op ’n stokkie”

  1. Martina Bieker June 21, 2015 at 9:04 pm #

    Ek woon in Engeland en het na ‘n sosatie resep gesoek – ek het hierdie resep gemaak en my Engelse gaste was baie beindruk en so was ek! ‘n heerlike Suid Afrikaanse smaak!

    • huiskok June 21, 2015 at 9:05 pm #

      Hi Martina, dankie vir die terugvoering. Dit laat my hart warm klop.

  2. huiskok October 15, 2012 at 9:08 am #

    Hi Snets, hier is ‘n sosatie resep uit ‘n vorige blog post van my wat wonderlik is – dit het ek gekry destyds gekry by Lannice Snyman – ‘n sosatie-diva!

    Lannice se Sosaties

    1 groot lamsboud (2-2,5 kg), ontbeen en in blokkies gesny.

    125 g droë appelkose

    skaapvet of swoerdlose ontbytspek om tussen-in te ryg

    Marinade:

    2 groot uie, geskil en in kwarte gesny

    125 mℓ witwynasyn

    375 mℓ droë rooiwyn

    12 suurlemoenblare, gekneus

    3-4 dun snye gemmer

    15 mℓ bruinsuiker

    45 mℓ kerriepoeier

    35 mℓ fyn koljander

    5 mℓ fyn wonderpeper (all spice)

    2 mℓ fyn kaneel

    2 mℓ fyn komyn

    10 mℓ sout en gemaalde swartpeper

    1 mℓ fyn kardemom

    *Onthou om jou sosatiestokkies vooraf in water te week.

    Plaas die lamsblokkies in ‘n nie-metaalbak. Kombineer die marinade-bestanddele in ’n kastrol, bedek en kook vir 5 minute. Laat afkoel en gooi oor die vleis en werk die sous goed deur. Bedek die sosaties, plaas in yskas en laat dit marineer vir 3 tot 5 dae. Roer die vleis ‘n paar keer per dag om.

    Laat die droë appelkose uitdy in ’n bakkie kookwater vir ‘n uur of twee.

    Sny die skaapvet in baie dun repies, of die ontbytspek in blokkies. Ryg die vleis, appelkosies en uie (uit die marinade) op stokkies. Sit die sosaties terug in die marinade tot dit tyd is vir braai. Braai oor warm kole, bestryk ’n paar keer met die marinade (sowat 15 minute). Die vleis moet nog pienk in die middel wees.

    Genoeg vir 16 sosaties.

  3. huiskok October 15, 2012 at 9:00 am #

    Jammer dat jy ‘n bloutjie geloop het met die resep. Daar moet ‘n ekstra half koppie water wees wat jy saam met die uie en die asyn kook. Die ander halwe koppie is om die speserye, ens. te meng.
    Ek het dit weer gemaak en vind dat meer asyn beslis werk gebruik dus 375 ml asyn. Ek maak aanpassing aan die resep. Dankie hiervoor.

  4. Dirkie September 21, 2012 at 11:04 am #

    Reblogged this on dirkiedupl and commented:
    Hierdie blog spesiaal vir mense wat lief is vir lekker eet !!! Beslis nie vir die wat wil afmaer nie.

    • huiskok September 21, 2012 at 11:17 am #

      Ek stem saam, alhoewel die maer-gesindes kan maar kleiner porsies eet en toesien dat die vetjies van die vleis afgesny is. Ek glo dat mens op feesdae nie terughou nie, maar die ander dae bietjie die rieme intrek, sonder om jou totaal te ontneem van lekkerte. Matigheid voor oe het die oumense mos geglo! Lekker eet.

      • Dirkie September 21, 2012 at 11:19 am #

        Hmmm ! My ou hele sleutelbordjie het kwyldruppeltjies ….Amen op die kommentaar.

    • Toortsie September 28, 2012 at 9:18 am #

      ‘n Sosatie het nie SOVEEL vleis aan nie, ek dink die afmaerdes kan wel 1 met ‘n rein gewete eet. Lyk HEERLIK!!

      • huiskok September 28, 2012 at 9:22 am #

        Ja, en dis mos darem net per geleentheid.

      • Toortsie September 28, 2012 at 9:23 am #

        Iemand het vir my volstruissosaties gemaak. Op presies dieselfde manier as lamsvleis. Heerlik!!

      • huiskok September 28, 2012 at 8:39 pm #

        Uitstekende idee; en laer vet.

      • Toortsie September 29, 2012 at 8:46 am #

        Dit moet net nie te gaar gebraai word nie, nog pienk en moet dadelik geëet word. Die volgende dag is dit droog.

      • huiskok October 3, 2012 at 10:00 pm #

        Jy is so reg. wat wonderlik is van die Tarentaal pattie is die gekarameliseerde uie wat daar inkom. Dit Hou die vleis klam. Ek maak nou bees leis of lam burgers ook met die sagte uie in.

      • Dirkie September 28, 2012 at 10:55 am #

        Oe ek’s gek oor sosaties…veral hoender.!! Gevind dit is ‘n kuns om sosatie vleisie so te kry dat jy dit kan eet sonder dat ouderdomtande knaag ..

      • huiskok September 28, 2012 at 8:38 pm #

        Ha ha! Dis waar die marineer inkom!

      • Dirkie September 29, 2012 at 6:16 am #

        Moet wees… ek sal maar by Huiskok moet kersopsteek !

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: