My ma se hoenderpastei

Ons het almal al gehoor van Meraai se hoenderpaai. Tannie SJA van Kook en Geniet het ‘n heerlike hoenderpastei, en deesdae kraai Nigella, Gordon en wie weet  nog se paais koning op ons werf. Nie.een.kom.naby.my.ma.se.hoenderpaai.nie. Hare is die lekkerste in die ganse wêreld. Ja, ek hoor al hoe sê jy jou familie se hoenderpastei is die beste. Ek verstaan. Dit hoort so.

aa Ma hoenderpastei NAWEEK  resized

Ma se hoenderpastei was my hele lewe lank die middelpunt van Sondae en spesiale dae. Dit was eers na haar 84ste verjaardag dat sy die maak van die hoenderpastei gedelegeer het en ’n ‘inkommer’-pastei na die tafel gebring het. Dié het nie gelyk of geproe soos hare nie en nie getroos soos hare nie.

Ek het net geweet die tyd het gekom dat ek haar vir die resep moet vra om dit self te begin maak. Self het sy dit nooit neergeskryf nie. “Ek weet mos hoe om dit te maak,” hoor ek haar sê.

Die betrokkenheid by Kokkedoor, die reeks oor onthoukos, het my diep bewus gemaak hoe belangrik die draers van familieresepte is. Seuns het die plaas of die draaibank gekry, dogters die resepte vir die  pastei, die melktert, die brood, konfyt en sagopoeding.

Nie net wou ek elke jota en tittel van Ma Inez se Hoenderpastei leer maak nie, maar dit as familie-nalatingskap aanteken.  So begin ons die afstandsonderrig. “Bel as jy vashaak, my kind.”

Die tyd het gekom om Ma Inez te vra hoe om haar hoenderpastei te maak.
Die tyd het gekom om Ma Inez te vra hoe om haar hoenderpastei te maak.

Nat King Cole sorg vir ma-musiek. Die hoender is in die pot. Heel. Ek vaar die speserykas in met my neus en herinneringe as kompas. Ma sou nooit aan ‘n hoender vat sonder om die naeltjies nader te trek nie. Minstens vyf. Paar korrels wonderpeper, vyf of ses koljanderkorrels, dieselfde met die peperkorrels. Genoeg sout.  Drie  lourierblare.

Jy kan nog die wonderpeper uitlos, maar nooit die asyn nie; twee eetlepels bruin asyn, wit asyn, wat ookal. Ma sou nie weet van gekruide of balsamiese asyn nie.  Als is saam met die hoender die pot in, saam met een groot ui, twee wortels – gekrap en bonkig gesny. Twee koppies water.

Uit pure gewoonte beland die laaste dreksels van ‘n bottel witwyn ook in die pot. Ma bevestig dis reg so, want die oumense het ook graag met wyn gekook. Nou’s dit die nuwe familietradisie, regverdig ek my inkleur buite die lyne, deur tiemie uit my tuin aan die pot te skenk.  ‘n Paar blokkies gerookte spek kom ook by, alhoewel Ma het  nou en dan ham bygesit as daar ‘n stukkie oor was wat nie in haar souttert beland het nie.

aa hoender in pot resize vir blog IMG_1283

Die hoender vra vir s-a-g kook. Ons hoor skaars die prut, prut, prut, maar die geur van Ma Inez se pastei-in-wording weergalm deur die huis.  Die hoender kondig aan hy’s reg vir die pluis deur sommer vanself uitmekaar uit te begin val. Nou pluis jy. (Ek onthou ma se ‘sjoe, sjoe’ soos sy die nog-vuurwarm hoender pluis van haastigheid).  Beentjies eenkant, die pluisvleise in  die gechipte erdeskottel.

aa gevlokte hoender resize vir blog  IMG_1321

Ek bel vir Ma. “Wat van die hoendervelle?” “Dit kom in, mooi fyngemaak. En wees goed op die uitkyk vir klein beentjies en die naeltjies.” (Om op ’n naeltjie te byt  laat selfs die vroomstes onder ons innerlik swets aan die Sondagtafel.)

Die hemele sal jubel oor die prutsous wat in die pot agter gebly het. Ek gooi dit deur ‘n sif om die korrels speserye uit te vis. Die uie en wortelstukkies word gered en by die fyn hoender gesit. Die aftreksel hou ek eers eenkant, want ‘n soort-van witsous moet in die pot gemaak word. (Geen pakkie-soppoeier is welkom in hierdie heiligspot nie) Smelt  2 lepels  botter tot dit sis en roer dieselfde hoeveelheid koekmeel by en hou aan’t roer tot die storie glad en klontvry is. ’n Koppie en ‘n  half warm hoenderaftreksel kom by en word deurgekook tot die meel nie meer geproe kan word nie. Seker 3 minute.

Nou proe jy daai sous. Hy moet sy asyngeurtjie hê  en sout-en-peper is al afronding wat nou nodig is. Die naeltjies,  koljander en wonderpeper het klaar sy ding gedoen. Roer sous deur die gepluiste hoender, skep in die gesmeerde oondbak en troos jou, Pastei Paradys is nou skaars  ’n halfuur weg.

As jy die terapie van  skilferkors wil benut, is jy nou op jou eie. Ek koop myne. Met die gesousde fynvleis in die gesmeerde pasteibak, word die lig uitgerolde deeg bo-oor gesit (sonder om die deeg te rek) en die oorhang-stukke afgesny.

Ma Inez
Ma Inez

Ek versier die rand van my pastei met pennie-grootte deeg polkadots. Ma het net die deeg liggies met die vinger gedruk. Smeer bietjie water om die buiterand en pak die deegpolkas om die rand, effe oormekaar.  Die nuwe generasie se ander twist is om individuele pasteie in kleiner bakkies te maak as dit net ek en Ian aansit vir ete; anders maak ek dit in die familie-grootte oondbak soos ma. Die kleiner bakkies is prakties, maar het nie dieselfde gees van groothartigheid nie – om vir almal uit een bak te skep het ‘n dieper betekenis van deel.

IMG_7197 Small

(Van die orige deeg maak ek hartjies of ander versierings om apart te bak.)

Ek maak genoeg hoender om klein pasteitjies te maak.
Ek maak genoeg hoender om klein pasteitjies te maak.

Prik die deeg sodat die stoom kan ontsnap. Verf geklitse eier bo-oor vir mooi bruin glans.  Oond toe.

Die eerste 15 minute bak dit in ’n baie warm oond vir die deeg se onthalwe. Vir die hoender se onthalwe verminder ek die hitte na 180°C en bak nog 15 minute tot deurgebak en goudbruin.

Ma se pastei het altyd die tafel gedeel met ’n oordaad ander opskepskottels. Vir my is rys, ertjies en tamatieslaai met fyngekerfde uie en asynsousie genoeg.  Net een ding bly oor, om dit Ma Inez se Hoenderpastei te maak: om die seën daarop te vra. 

  • Dankie dat jy ingeloer het. Jy kan ook my kostwiets volg @huiskok of saamluister op RSG – Huiskok Glanskok op Vrydagoggend net na 9.15 vm, my kosstories in Beeld en Burger NAWEEK volg of laat sommer net ‘n boodskap op hierdie storie dan gesels ons so.

50 thoughts on “My ma se hoenderpastei

  1. Dit was die beste pastei wat ek in jare geëet het. My aan my ouma wat al 32 oorlede is se pastei herinner. Niks snaakse goed nie. Regtig heerlik!

  2. Waar is die outydse resep waar sago n rol speel om die hoender bymekaar te hou ?
    Ek kan onthou my ma., wat te vroeg oorlede is, het geweekte sago ipv meel gebruik om hoender te bind.
    Ek hou van jou ma se resep, maar gaan n kans waag om die veranderinkie te maak.
    Ek het n lekker organic hoender in die yskas.
    👍

    1. Hi Dit is Annette van Sondela, Bela Bela, Dankie vir die resep Was soveel fun om dit te lees, never mind te maak. Daar is net mooi niks soos die nostalgie nie. En ook hoe ons almal dopgehou het sonder om eintlik te weet ons het. Liefde

  3. Ek het eers so 3 jaar terug begim kos maak. Soek toe ‘n resep vir hoenderpastei en kom op jou resep af. die lekkerste hoenderpastei wat ek nog geët het. kry baie komplimente van my vriende. die resep is ‘n wenner!

    1. Hi Dirk, dankie hiervoor. Jou kompliment is ekstra spesiaal omdat my liewe Ma Inez onlangs oorlede is en ons met groot liefde haar hoenderpastei maak. Geniet die kosmaak – en om jou skeppings met ander te deel.

  4. Wonderful to see something from my country. Where are the recipes im not on facebook. Ek wil ma se hoenderpastei maak!!!! Dankie

  5. Gaan die pastei maak vir my eie verjaardag (70) ste… ipv uiteet… spesiaal vir my dogter wat die 3de nov uit die Kaap kom kuier… Dit klink na fees hoenderpastei.. dankie en groetnis Betsi Truter

  6. Goeie dag
    Kan ek asb jou ma Inez se resep kry ek wil dit baie graag die naweek vir my familie maak. Ek het n baie lang ruk terug met jou ma deur briewe gesels maar het kontak verloor met haar. Ek weet nie of sy my nog gaan onthou nie.

  7. Sooo bly ek het vanoggend op jou resep afgekom. Ek wil hoenderpastei maak vir my man se verjaardag vir ons gaste en is maar skrikkerig vir die pasteimakery. Nou is ek so vol inspirasie nadat ek die ‘storieresep’ gelees het. So baie dankie dat jy dit so mooi gedeel het. Verlang nou sommer na my ou 83jarige moeder.
    Groete
    Lida

  8. My ma Millie se pasteie was ook legendaries…. Sy moes duisende gemaak het en haar ma was net so bekend vir die hoenderpasteie wat sy gebak het. Daar was n sagotjie by en regtig jy het met jou mamma se storie my nart geroer. Dankie vir al jou lekker kos dinge!

  9. Ek bly in Tapei en het tot ons vriendekring se vreugde jou hoenderpastei gemaak vir kersfees.
    Ek is ‘n illustreerder en het vol inspirasie sommer die resep geïlustreer. Ek sal graag dit vir jou wil wys kan ek dit vir jou e-pos? Vriendelike groete

  10. Gister gemaak en dit was heerlik! My eerste tuisgemaakte hoenderpastei en ek sal dit defnitief weer wil maak, maar dan vir gaste – dis voorwaar `n uithang gereg!

    Baie dankie dat jy dit gedeel het.

    Naomi

  11. Toevallig het ek en my man op verskillende plekke na jou vertelling en resep op RSG geluister, en het saam besluit ons gaan jou ma se hoenderpastei Sondag maak. Jy is geseënd, ek het te laat besef ek het nog nie alles gevra nie.

    Liefde Salomie

  12. Errieda..nog lekkerder as die vooruitsig om die paai te maak is hóe lekker ek gelees het aan die stuk vanoggend by Haas met my decaf. Toe voel ek sommer welwillend teenoor die mensdom en die gevoel bly my die heeldag by. dankie !

  13. Dis beslis een van die hoenderpastei resepte wat gemaak gaan word. Baie dankie vir die
    vergunning om te kan deel in die resep.

    Mienie

  14. Baie dankie! Ek wag al so lank vir ‘n lekker ” outydse” hoederpastei- resep. En dis maklik en “back to basics”! Ek dink ‘n hele paar gesinne gaan Sondag hoederpastei eet!!
    Baie dankie en groete,
    Riana

      1. Vanoggend het jy my ook geinspireer om nou werk te maak van my ma se resepte. Sy was bekend vir lekker kos en gebak. My kinders vra gedurig: Waar is Ouma se resep!!
        Dankie vir jou pretensielose voorstelling – dit gee ‘n mens waardering vir die resepte waarmee ons groot geword het.
        Groete
        Rita Wessels

  15. Trane oor my wange toe ek ouma Inez se foto sien. Het my ma verloor in 2012. Het te laat besef om al haar resepte te kry. Haar brood, haar veerligte skons en veral haar vrugtekoek. Het egter haar notatjies vir die vrugtekoek en gaan dit nou probeer. Dankie vir jou inspirasie. Betsie van Uitenhage

    1. Betsie, nou is ek ook betraand. Baie dankie vir jou skryf. Ek is jammer om te hoor jou ma is nie meer by jou nie. Maak daai vrugtekoek met oorgawe en skryf jou eie familiegunstelinge neer!

      1. Jy en Betsie het my vanoggend so na my Ma laat verlang!
        Dankie vir die inspirasie – ek gaan werk maak van haar resepte.
        Rita

  16. Dankie dat jy Ma Inez se Resep met ons deel, ek kan nie wag om dit te probeer nie

    Groete

    Elsie

    Sent from my iPad

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.