Die storie loop dat die enigste verslankingsdieet wat Jackie Onassis ooit gevolg het een was waar sy elke dag kaviaar en aartappel moes eet.
Kaviaar was egter ver van my gedagtes toe ek agter ‘n baie besondere aartappel aan van vendeur na vendeur geloop het op die opelugmark in Rue Mouffetard, een van Parys se oudste strate.
Nie dat ek alleen was in my soektog na die ondergrondse lekkerny nie, want in die lente is die gesogte Île de Ré eiland-aartappel met sy babafyn skilletjies en bekbederf-tekstuur op elke gourmand se tafel in Parys.
Île de Ré is ‘n eilandjie skaars 30 km lank en 5 km breed aan die Franse weskus. Hier in die Poitou-Charente-streek word so passievol met jong aartappeltjies geboer dat dit die enigste aartappel-van-oorsprong is in Frankryk met die AOC-status ‘appellation d’origine controlee’.
Die soutige smaak, fyn skil en sagte tekstuur is die resultaat van die eiland se klimaat en sout seelug, die mineraalinhoud van die sanderige kalkgrond en die seewier waarmee die grond verryk word. Dit word onder streng voorwaardes verbou en word jonk geoes om die styselinhoud te beperk. Om die teer babavelletjies teen die son te beskerm word dit ook net vroegoggend geoes.
Die Mouffetard-markvrou se tolk verduidelik dat ek die jongelinge (goed verpak in ‘n pragtige turkoois houtboksie met ‘n groot AOC-waarmerk) in ‘n donker, koel plek moet stoor en binne ‘n paar dae moet gaarmaak.
So ‘n eenvoudige, unieke seisoenplesier soek smaakmaats met dieselfde waardes, soos die fyn grys seesout (sel gris de mer) ook van Île de Ré; en effe gesoute tradisionele botter wat ook breëbors die AOP-merk van die Charente-Poitou-streek dra.
So beskermend voel ek oor die sensitief-besnaarde aartappeltjies dat ek die gaarmaak daarvan vir een van my kospraatjies op Le Boat toevertrou aan René van Wyk, kosgeesgenoot en reismaat. Sy en haar man Koos het groot simpatie getoon met my obsessiewe jagtog agter streekprodukte aan, en gehelp dra aan my inkopies van die mark af tot op die moltrein.
Terwyl ons die soveelste stel trappe op en af klim tussen moltreinstasies (boks aartappels oor die arm), vertel sy dat haar liefde vir baba-aartappels al as kind begin het toe sy dit sommer so rou uit haar pa se groentetuin op Louis Trichardt geëet het!
Sy weet met ‘n ma se instink dat so ‘n delikate aartappel nie geskil moet word nie; en die unieke smelt-in-die-mond-tekstuur van die eilandaartappeltjies behou word deur dit in liggesoute water op te kook tot net-net sag. Om die ragfyn skilletjies ten toon te stel het sy die gaar aartappeltjies in die botter-van-oorsprong soteer, afgerond met ‘n laaste strooisel gryssout , swartpeper en ‘n motreëntjie vars pietersielie.
Sy stapel die sierade op ‘n mooi ovaalbord uit die boot se kombuislaai en sit dit nadenkend neer op wilgertakke wat sy en Koos op die oewer van die Charenterivier gepluk het. Dis nog ‘n teken van haar kunstenaarsaanvoeling en geur die aartappels met nog ‘n spesiale herinnering van Parys wat ons deel: ons besoek aan die uitstalling van Claude Monet se Waterlelies in die Musée de l Orangerie.
“Die wilgertakke laat my dink aan Monet se skilderye van sy waterlelies. Daar hang altyd wilgertakke oor die water in sy werk,” vertel sy.
Ek glo Jackie Onassis sou dit ook waardeer het, en nader gestaan het vir ‘n tweede en derde porsie van die baba-aartappels sonder om eers te wonder waar die kaviaar is.
Weetwaardig: die duurste aartappels op aarde is die geel La Bonnotte tuinaartappeltjies wat met die hand geoes word op die eiland Ile de Noirmoutier, in die noordweste van Frankryk. So begeerlik soos truffels en raar – dis slegs 10 dae per jaar beskikbaar – en word in Parys op veiling verkoop teen sowat €500/kilogram.
Die bakker se vrou se aartappels
Net die gereg om supermarkaartappels te omskep in ‘n smulgereg geïnspireer deur die eenvoud en smaak van die Franse platteland. Pommes Boulangère is die indrukwekkende naam vir ‘n onopgesmukte landelike aartappelgereg sonder die rykheid van room uit die dae wat huiskokke geregte in die bakker van die dorp se bakoond gaan gaarmaak het in die laaste hitte. Perfekte bykos. Die resep is aangepas uit Patricia Wells se Bistro Cooking.
1 kg melerige aartappels, geskil
80 g botter
2 uie, geskil en fyngekerf
3 – 4 preie, slegs die wit deel, afgewas en fyngekerf
10 ml vars tiemie of 5 ml gedroog
1 lourierblaar
2 knoffelhuisies, geskil en gekap
30 ml fyngekapte pietersielie
500 ml warm hoenderaftreksel (of helfte aftreksel, helfte droëwitwyn)
- Voorverhit die oond tot 190°C. Sny die aartappels in 3 mm dun skyfies met ‘n skerp mes of mandoelien. Moenie in water sit nie, want jy wil nie die stysel afwas nie, bedek eerder met ‘n klam doek.
- In ‘n pan, smelt die helfte van die botter en sweet die uie, preie, tiemie, lourierblaar en knoffel met die deksel op tot sag en goudkleurig, sowat 10 minute. (Voeg die aartappels en pietersielie by, giet die aftreksel en wyn oor, bedek en prut 15 minute oor matige hitte (sien variasie om hierdie stap uit te sny).
- Skep dit uit in ‘n vlak 2 l erdebak of kasserol, stip met die orige botter en bak tot die aartappels sag is, die bolaag goed bruin en die meeste vog geabsorbeer is, sowat 1 uur.
Variasie:
As jy ‘n netjieser aartappelgebak verkies met die imposante sirkelpatroon van mooi uitgepakte aartappels, varieer die resep soos volg:
Pak 1/3de van die aartappels in sirkels (oorvleuel) op die bodem, smeer die helfte van die gaar uie-preimengsel oor, pak ‘n 1/3de van die aartappelringe bo-op, gevolg deur die oorblywende uie-preimengsel en eindig met ‘n mooi-gepakte aartappellaag. Voeg die fyn pietersielie by die aftreksel en wyn, giet versigtig oor die aartappels. Stip met die orige botter en bak sonder deksel in die oond tot die aartappels sag is, die bolaag goed bruin en die meeste vog geabsorbeer is, sowat 1 uur.
Aartappel- en uie-galette met eendvet
Eendvet gee swierigheid aan die andersins eenvoudige aartappelgereg.
1,2 kg aartappel, geskil en in dun skywe gesny met mandoelien of skerp mes
60 ml gesmelte eendvet
Sout en varsgemaalde swartpeper
2 uie, dun gesny met mandoelien of skerp mes
Bediening: Crème fraiche (opsioneel)
- Voorverhit die oond tot 200°C. Smeer ‘n 18cm- kleefvrye oondvaste pan liggies en voer die basis uit met bakpapier.
- Plaas die aartappels, eendvet, sout en peper in ‘n groot mengbak en meng deur om die aartappels goed te bedek.
- Pak 1/3 van die aartappels ietwat oorvleuelend in ‘n laag op die bodem, bedek met die helfte van die uie, pak nog ‘n 1/3 van die aartappels op, bedek met die orige uie en pak die laaste 1/3 van die aartappelskywe uit.
- Bak sowat 50 minute of tot die aartappel deurgaar is en goudbruin bo-op. Laat staan 15 minute en keer dit versigtig uit op ‘n warm bord en besprinkel met sout en peper. Bedien met ‘n skeppie crème fraiche of suurroom as bykos vir hoender of skaapboud.
Donna se Aartappeltert met roosmaryn en mascarpone
Herinneringe aan my vakansie-fling met aartappels laat my hierdie bykosresep uit ‘n Donna Hay-tydskrif opgrawe. Ietsie moois en anders om met ‘n doodgewone aartappel te doen. Eet dit as bykos of bedien dit met flertse swartwoudham, jambon, terrien of rafeltjievark (rillette) vir ‘n supersmaaklike ligte ete.
1 vel (375 g) skilferkorsdeeg, ontdooi
75 g fyngerasperde beleë wit cheddar of gruyere
125 ml (120 g) mascarpone of roomkaas
350 – 400 g aartappels, geskil of ongeskil, in baie dun skyfies gesny
15 ml olyfolie
Sout en varsgemaalde peper
1 ml varsgerasperde neutmuskaat
4 takkies vars roosmaryn, gekap
- Voorverhit die oond tot 200°C. Voer ‘n groot oondrak met bakpapier uit en plaas die skilferkorsdeeg bo-op. Merk (score) liggies ‘n 2 cm breë strook om die rand van die pasteideeg met ‘n skerp messie. Prik die deel binne die strook met ‘n vurk en verkoel.
- Meng die gerasperde kaas, mascarpone en neutmuskaat in ‘n bakkie. In ‘n ander bak meng die aartappel, olie, sout en peper en neutmuskaat goed deur. Smeer die kaasmengsel bo-oor die skilferkors, pak die aartappelmengsel bo-op (laat die gemerkte strook oop), rasper neutmuskaat oor en bak 25 – 30 minute. Strooi die roosmaryn oor en bak nog ‘n paar minute tot die deeg gaar en goudbruin is. Bedien warm.
Pesto-, bokmelk en aartappeltert
‘n Baie lekker gereg uit Olive Magazine wat my laat verlang na die Charente-streek se wonderlike bokmelkkase. Ek het ook ‘n heerlike herinnering van bokmelkkaas wat ek by die fromager Alleosse op die Poncelet-mark in Parys gekoop het. Die kaas mothais sur feuille beteken ‘kaas op ‘n blaar’ en word tradisioneel op kastaiingblare neergesit. Ek was so opgewonde oor die markvonds dat ek dit soos ‘n baba vertroetel het tydens verskeie oorklimme op die moltrein,en toe in ‘n koelsak op die 5 ure busrit tot by Jarnac waar ons Le Boat riviervaart begin het.
400 g baba-aartappeltjies, baie dun gesny
1 vel klaargerolde broskors deeg (shortcrust), ontdooi
60 ml pesto
45 ml fynggerasperde grana padano
1 eier, liggies geklits vir verglansing
100 g bokmelkkaas
- Kook die aartappelskyfies vir 2-3 minute in vinnig-kokende, gesoute water en dreineer baie goed.
- Voorverhit die oond tot 190°C. Berei ‘n bakplaat voor met kossproei of voer met bakpapier uit, rol die broskorsdeeg daarop op. Maak ‘n klein diagonale snit in elke hoe ken vou elke sy om om ‘n randjie te vorm.
- Smeer die helfte van die pesto oor die basis en strooi die kaas oor. Pak die aartappelsnytjies mooitjies effe oorvleuelend bo-op uit, geur met sout en peper. Bak vir 30-35 minute tot die pasteideeg goud en bros is en die aartappels gaar. Krummel die bokmelkkaas oor, drup die orige pesto oor en bedien. Dis ook lekker louwarm.
Konsertina-aartappel Dauphinoise
Die geure van ‘n klassieke Dauphinoise aartappelgebak – goudbruin en borrelende gesmelte kaas, neutmuskaat en kruie-room – waarborg dat die eters met die eerste skep al ‘n tweede een beplan.
Hoewel niks by die oorspronklike Pomme Dauphinoise kom nie is ek altyd op die uitkyk vir ‘n variasie, soos die resep hieronder wat ek gemaak het vir ‘n familie-ete om my ma se ronde tafel. Die weergawe van Serious Eats bring die beste van twee wêrelde bymekaar – hasselback-aartappel (konsertinaaartappels soos dit in kerkboekies genoem word) se brosbruin super-krakerige bo-laag en die sagte hart van die klassieke Dauphinoise. Dis bietjie meer moeite om die papierdun skyfies aartappel regop te stapel, maar die beloning is groot.
*Die grootte en vorm van aartappels gaan bepaal hoeveel jy nodig het – langwerpige aartappels sal ‘n bak vinniger volmaak as korter, ronde aartappels. Koop ‘n paar ekstra aartappels vir ingeval jy nog nodig het.
85 g fyngerasperde gruyere
60 g fyngerasperde parmesaan of grana padano
500 ml dikroom (of helfte room, helfte volroommelk)
2 knoffelhuisies, fyngerasper
15 ml vars tiemie, grofgekap
Sout, peper en neutmuskaat
6 medium/1,6 kg aartappels, (of meer*), geskil en in 3 mm skywe gesny (moenie afwas nie)
30 ml botter
- Voorverhit die oond na 200° C en plaas die oondrak in die middel.
- Meng die kase in ‘n groot bak, skep 1/3de uit en eenkant tot later.
- Voeg die room, knoffel, tiemie en neutmuskaat in die groot bak by die kaasmengsel, geur kwistig met sout en peper. Voeg die aartappelsnytjies by en meng met jou hande deur om elke skyfie te bedek met die roommengsel en te sorg dat die snytjies loskom van mekaar.
- Smeer ‘n 2,5 l kasserolbak, skep ‘n handvol van die aartappels op ‘n keer en rangskik die skywe om die rand regop en baie styf teen mekaar, nie plat soos dit gewoonlik gedoen word nie.Gaan aan om die skywe reg rondom die rand en na die middel toe tot al die aartappels mooi geplaas is. Indien die aartappels te min is, sny nog ‘n paar aartappels, trek deur die roommengsel en pak regop. Giet die orige room- en kaasmengsel eweredig oor die aartappels tot die mengsel sowat halfpad teen die rand op is (daar kan van die roommengsel oorbly.
- Bedek met foelie (seël goed) en bak eers vir 30 minute, verwyder die foelie en bak tot die bokant strooibruin is, sowat 30 minute. Haal uit die oond, sprinkel die orige 1/3 van die kaas oor en bak nog 30 minute tot die bokant diep goudbruin en bros is. Laat staan 10 minute en bedien.
My onvergeetlike Franse ervaring en Le Boat riviervaart op die Charente is gereel deur Marius Du Plooy Toere.
Ek is sommer nou al lus om die resepte te probeer!