Marmitekoek en Marmite tert-kolwyntjies

Hierdie soet-sout koek verras almal wat dit die eerste keer eet. Dit laat jou verlang na tannies in sitkamers met weelderige muurpapier, pienk tuinrose en ‘n teetafel gelaai met ‘n verskeidenheid kultuurversnaperinge. Dit was die dae van die bordjie soet en bordjie sout, warm worsrolletjies en koue koeksisters, jou Ouma se souttert en jou ma se dadelhappies.

Ek gee hier twee variasies:

– die weergawe op hierdie foto van soet sponskoek wat ‘n Marmite-bottersous oorkry wanneer die koek nog warm is.

Marmite-koek (sponskoek met ‘n Marmite-botter oorgooisous

– Die tweede resep is vir soutige Marmite-kolwyntjie-tertjies sonder suiker in die beslag. Sien laer af.

Resep 1

Marmite-Koek

(Soet sponskoek met marmite-botter bolaag en kaas)

Hier kom parmesaankaas in die koekbeslag! Mieliemeel oor die kors sorg vir ‘n knarserige tekstuur.

Maak 12-16 blokkies of 8 muffin-grootte koekies

Beslag

80 ml botter

180 ml suiker

1 eier

2 ml sout

375 ml bruismeel, gesif

250 ml melk

60 ml fyngerasperde parmesaankaas

Mieliemeel vir oorstrooi

Fyngerasperde Cheddarkaas vir oorrasper

Oorgooisous

125 ml botter

10 – 20 ml Marmite

• Smelt saam in kastrolletjie en hou eenkant.

Maak só:

• Voorverhit oond na 190°C. Smeer en voer ‘n vierkantige 20 cm koekpan met bakpapier. (Jy kan ook ‘n Pyrex-tertbord gebruik).

• Room botter en suiker saam. Voeg eier en sout by.

• Meng die gesifte meel en melk beurtelings by die geroomde mengsel in.

• Gooi mengsel in pan, strooi mieliemeel oor en bak 30 – 35 minute tot ‘n toetspen skoon uitkom. 

• Haal koek uit die oond, steek gate in en drup die warm bottersous oor. Sny in blokkies of diamantvorm en haal uit die pan. Laat afkoel. Rasper die kaas direk oor die afgekoelde blokkies fyn.

Resep 2

Marmite-tert kolwyntjies uit my boek SAAM. Foto deur Ian Du Toit en stilering deur Hannes Koegelenberg

Marmite-tertkolwyntjies

(Sonder suiker in die beslag)

Hierdie is ‘n slegs-sout weergawe van die Marmite-sponskoek.

Vir iets anders kan jy ‘n lemoenstroop oor die warm koek gooi eerder as die Marmite-bottersous. Die kaas in die beslag sorg steeds vir die sout-soetigheid.

Bak dit in ‘n tertbak of in kolwyntjiepannetjies.

LEWER 1 x 20–22 cm-tert of 9–12 kolwyntjies

BESLAG

120 g koekmeel

10 ml bakpoeier

2 ml sout

rooipeper na smaak (opsioneel)

125 g botter

250 ml gerasperde beleë cheddarkaas

1 eier, geklits

220 ml melk

mieliemeel of polenta, vir oorstrooi

Maak só:

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n tertbak met deursnee 20–22 cm of ’n kolwyntjiepannetjie.

Sif die meel, bakpoeier, sout en rooipeper, indien gebruik, saam. Vryf die botter met die vingerpunte in die meelmengsel. Roer die kaas by.

Klits die eier en melk saam en voeg by die meelmengsel, meng deur.

Skep in die voorbereide tertbak of kolwyntjiepannetjie, strooi mieliemeel oor en bak 20 minute (kolwyntjies) of 30 minute (tertbak), tot ’n toetspen skoon uitkom.

MARMITE-LAAG

15–30 ml Marmite

55 g botter

Smelt intussen die Marmite en botter saam. Wanneer die tert uit die oond kom, steek gate in met ’n vurk en drup die warm sous oor. Sny in blokke en eet warm.

Opsioneel: strooi fyngerasperde kaas liggies oor wanneer die koek afgekoel het.

VARIASIE

Vervang Marmite-sous met lemoenstroop: Verhit 100 g suiker, 125 ml vars lemoensap en gerasperde lemoenskil saam tot die suiker opgelos is, kook 3 minute en giet oor die warm koek.

Marmitetert-kolwyntjies- die perfekte bordjie-sout happie.

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.