Daar’s soveel resepte vir frikadelle soos wat daar huiskokke is – Deense frikadeller, Spaanse albondigas, Italiaanse polpette … maar die beste bly maar die vaal frikadel uit my Ma se kombuis.

Gewoonlik eet ons dit net só uit die oond uit op ‘n dubbelbed van kapokaartappels om die sous op te vang. Ander dae maak ek haar epiese kerriepiesangsous daarby.

Dan: koolfrikkadelle! Die grootste eer wat ‘n koolkop kan ontvang. Dis eintlik waarvoor ‘n onderstebo-dag soos vandag vra.
Ek is egter onkant gevang met te min kool, dit sal moet oorstaan. So vandag trek ek my ma se frikadelle ‘n rooirok aan.
Die Hongare maak hierdie heerlike soet-suur stroperige paprika-tamatiesous met sultanas wat hulle by hul tradisionele koolrolletjies ‘holishkes’ eet. Dis mos net die opkikker vir Blou Maandag.
Die rooiroksous maak ek terwyl die frikadelle bak.
Die resep het ek afgeskryf terwyl my Ma Inez dikteer het:
MA SE VAALFRIKADELLE
Vir 1 kg gemaalde beesvleis het jy meer sout nodig as wat jy dink (5 teelepels), neutmuskaat (baie), fyn koljander (genoeg), naeltjies (net genoeg) en peper na smaak. Altyd asyn, 2 eetlepels. ‘n Paar behoorlike skudsels Worcestersous. ‘n Fyngekapte ui, jy kan dit rasper of kap.
Week ‘n dik sny ou witbrood in die melk, korsies hou jy aan. (Hawermout sal werk pleks van brood.) Druk die melk uit, vlok die brood en gooi saam met ‘n geklitste eier by die vleis. Meng liggies deur met die vurk net genoeg om dit te meng, jy wil nie sit met vleiskluitjies nie.
Maak 12 ronde frikkadelle, pak dit in een laag in ‘n gesmeerde Pyrex-bak en stip elkeen met botter. Gooi bietjie water in die bak, dan oond toe sonder deksel vir 40-50 minute. 160°C sal doen.
‘ROOIROK’ PAPRIKA, SULTANA EN TAMATIESOUS
2 E Canola of sonneblomolie
2 medium uie, fyngekap
1 T vinkelsade, fyngemaal
1 Opgehoopte eetlepel goeie soet paprika (nie die gerookte tipe nie)
Sout en peper
1 klein blikkie tamatiepasta
1-2 E heuning
1 Blik gekapte tamaties
½ koppie sultanas (rosyne kan ook gebruik word)
Sap van 1 suurlemoen
Beesvleisaftreksel – net genoeg om die sous te verdun indien dit te dik kook.
Metode
- Verhit die olie en braai die uie tot goudbruin en sag, voeg vinkelsade, tamatiepasta en paprika by en prut 2 tot 3 minute – dit moet effe karamelliseer.
- Voeg die blikkie tamaties, sultanas, heuning en suurlemoensap by. Prut oor medium-lae hitte met die deksel halfpad op vir sowat 30 minute tot lekker dik. Die sous moet amper soos ‘n loperige blatjang wees. Bedien die sous oor gaar frikadelle.
Wenk: Ek giet die sous oor die gaar frikadelle en steek dit dan weer in die oond vir 10 minute.
Foto’s Ian du Toit
