Bakplaathoender, wintergroente, gochujang mayo

Ek hoor maar so van die Marry Me Chicken wat skynbaar #FoodTok aan die kwyl het. Dis nie dié hoender nie. Ek vernoem die eenplaatwonder na Ian omdat hy soveel jare gelede met my getrou het, en steeds my maat is. En dat hy kan kook. KOOK. Nie net help nie, hy kook self en roep my net as hy opskep.

Soos vanaand weer, want ek is op sperdatum met werkdinge, gestress én honger . ‘Happy wife happy home’ is sy motto.
Hy is vol trieks, soos om die bakplaat saam met die oond te voorverhit en dan eers die groente by te voeg. Slim, want dan begin dit dadelik rooster eerder as om te stoom.
En as jy nou stress omdat jy nie die gochujang In die kas het nie, ontspan. Sit dit op die into lysie vir die dag wat jy by die deli kon uitkom. Dan maak jy die eenpotwonder – anders gaan jy nie verstaan hoekom ek dink my man is so wonderlik nie.
Bestanddele
Vir die Hoender en groente (Ps Ian het die Gochu mengsel een en ‘n half keer aangemaak, volg sy raad)
30 ml gochujang
15 ml ongesoute rysasyn
5 ml gemaalde gemmer
2.5 ml seesout

Goeie draai varsgemaalde swartpeper
45 ml canola
Een of twee patats (sowat 450g), geskil, middeldeur gesny in skywe gesny
4 murgpampoentjies bo-en onderpunte afgesny en in die lengte gesny en gehalveer
3 medium uie, geskil en in die lengte in kwarte gesny
4 wortels, geskil en in bonkige batons
8 hoenderdye met vel aan.
15ml geroosterde sesamsaad
Vir die Gochujang-Mayo -sous
60 ml mayonnaise (lae olie mayo perfek)
15 mj gochujang
15 ml ryswynasyn, anders appelasyn
varsgemaalde swartpeper
Knippie seesout
Metode
Vir die hoender en groente: Plaas die oondrak op die boonste helfte van die oond. Sit ‘n leë bakplaat op die oondrak en voorverhit die oond tot 230 ° C.
Klits die gochujang, asyn, gemmer, sout, peper en 2 eetlepels olie in ‘n bakkie tot glad en hou eenkant.
Meng deur die patats, murgpampoentjies, uie en wortels met helfte van die voorbereide gochujang-mengsel en nog 15ml olie, in ‘n groot bak tot regom bedek.
Versprei die groente op voorverhitte bakplaat. Rooster tot ligbruin aan die onderkant en dit net begin sag word, sowat 15 minute.
Druk solank die hoenderdye droog en bevryf oral met die orige gochujang-mengsel.
Draai groente liggies om, wikkel hoenderdye met die velkant na bo, tussen groente in. Maak seker dat hoender en groente direk kontak met die bakplaat het en eweredig versprei is.
Verlaag die oondhitte tot 205 °C. Bak tot die hoender gaar is (jy kan toets met ‘n termometer in die dikste deel van die hoender – dis reg as dit 79 ° C registreer,). Die vel moet bros wees en die groente sag, 25 tot 30 minute.
Vir die Mayo Gochujang-sous: Terwyl die hoender rooster, klits mayonnaise, gochujang, rysasyn, peper en sout in ‘n klein bakkie tot glad. Bedek en verkoel totdat dit gereed is om te gebruik.
Sprinkel hoender en groente met sesamsaad. Bedien met mayo-gochujang-sous.

Dankie Serious Eats, dat Ian by julle kon snuffel vir die resep.