Die koue oorlog het losgetrek, war beteken die bredie- en stoweresepte word afgestof. Beesvleis, droëbone en ‘n blikkie bier sorg vir ‘n sta-a-a-dige stowegereg wat ek graag oor ‘n naweek maak.
Kry dit vroegmiddag aan die gang, steek die kaggel aan en lees ‘n boek – en vat dit ‘n slaggie stadig.
KORTRIB EN BONE IN BIER MET AMASI-BONEKAPOK

Die bone-tema word na die bykos deurgetrek met bone-mash ( fyngestampte bone wat romerig gemaak is met amasi.)
- 500 g nierboontjies, geweek
- 500 g – 750 g kortrib, in korter stukkies gesny of ander biefstowevleis
- Sout en peper
- Olie vir braai
- 2 groot uie, grofgekap
- 3 knoffelhuisies, gekap
- 4 wortels, opgesny
- 2 steranys
- 500 ml biefaftreksel + ekstra soos nodig
- 1 x 330 ml blikkie bier (of vervang met aftreksel)
- 30 ml asyn
- Tiemie, vars of droog
- 125 ml amasi
- 60 ml botter
Spoel die bone af, plaas in groot kastrol, bedek met koue water, bring tot kookpunt en kook 5 minute. Verwyder van die hitte, bedek en week 1 uur.
Dreineer bone en plaas terug in die kastrol, voeg genoeg kookwater by om te bedek, bring tot kookpunt en prut met die deksel gekantel vir 60 minute (bone nou halfgaar.) Skep die helfte van die bone met ‘n gaatjieslepel uit en hou eenkant om later by vleis te voeg. Kook die orige bone vir nog 30 – 40 minute tot sag (dit word vir die boonkapok gebruik).
Verhit die oond na 160°C. Geur vleis goed met sout en peper. Verhit olie in oondvaste pot oor stoofplaat en verbruin vleis in sarsies. Skuif vleis na die kant, soteer uie vir 5 minute, voeg wortels en knoffel by en braai liggies vir nog 5 minute. Roer die vleis en groente deur, voeg vloeistof by, bedek en stowe 90 minute in die oond.
Voeg halfgaar bone, tiemie, asyn en nog biefafstrek by indien nodig (die bone soek vog om sag te word). Bedek en bak nog 90 minute tot die bone sag is en vleis van die bene afval. Druk van die bone fyn om die sous te verdik. Geur.
Boon-mash: verhit die orige gaar bone met 60 ml amasi, vars of droë tiemie en botter. Maak dit fyn en voeg nog amasi by. Geur.
Foto en stilering: Ian en Errieda Du Toit