Geil geëet na die Groot Dae? Of nie juis een met ‘n soettand nie? Wanneer jy lus is vir ‘n nagereg of koek wat lig en vars proe na ‘n groot ryk ete, is hierdie jogurtkoek nommerpas. Dit het nie soseer ‘n koek-tekstuur nie en die aangename surigeit van die jogurt is verfrissend.
En by alles is appelkose nou in seisoen – en hoekom net altyd konfyt kook daarmee? Die suur-soet van die spesery-appelkose is ‘n ekstra uitvarser. As appelkose se surigheid net te bo-kant jou toleransiedrumpel is kan die koek kan met enige vrugte compote voorgesit word. Ek reken gestoofde perskes of pruime sal ook baie lekker wees.
SULTANA JOGURTKOEK MET GEROOSTERDE APPELKOSIES IN SPESERYSTROOP
Maak 8 ruim porsies of 12 tapa-happies nagereg.
60 ml sultanas of pitlose rosyntjies grofgekap
Muskadel of hanepoot (of druiwesap vir nie-alkoholiese opsie)
5 eiers, geskei (vars eiers)
80 g strooisuiker
30 ml heuning
80 g koekmeel, gesif
500 g natuurlike jogurt (volroom)
Fyngerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
15 ml goeie olyfolie
Vir bediening: geroosterde appelkosies in speserystroop
Opsioneel: mascarpone of Griekse jogurt wat effe met heuning of esdoringstroop versoet is.
Verhit die oond tot 180° C. Smeer en voer ‘n 20 cm losboompan.
Week die sultanas in muskadel of sjerrie of druiwesap vir sowat 10 minute.
Plaas die 5 eiergele, suiker en heuning in mengbak en klits tot dik en romerig. Vou die meel, en dan die sultanans, jogurt, skil, sap en olie by. Klits teen lae spoed tot alles goed deurgemeng is.
In ‘n ander mengbak (met geen sweempie van vetterigheid nie) klits eierwitte styf . Roer eers een eetlepel van die eierwit deur die meelmengsel en vou dan die res van die eierwit versigtig by. Jy wil die ligtheid en lug wat in die mengsel is behou, want lug is die rysmiddel. Gooi die beslag in die voorbereide pan en bak sowat 50 minute tot die koek pofferig bo-op is en die bokant bruin.
Haal uit die oond en laat die pan eers vir ‘n paar minute afkoel en afsak. Wanneer die koek van die kante begin wegtrek, gaan om die kante met ‘n mes om dit los te maak. Nou kan die knip van die losboompan los gemaak word en die koek in die pan afgekoel word.
Bedien met geroosterde appelkosies of nektariens en speserystroop. ‘n Skeppie mascarpone saam met dit is ook baie lekker. Ekstra heuning of esdoringstroop kan ekstra bedruip word vir ‘n laaste soetigheid saam met die aangename suur van die jogurt en die appelkose.
APPELKOSE IN SPESERYSTROOP
6 ryp appelkose, in helftes gesny
5 cm vars gemmers, geskil en fyngerasper
45 ml loperige heuning
1 teelepel groen peperkorrels, fyngedruk
5 ml kaneel
5 ml fyn komyn
5 ml wit sesamsaad
Voorverhit oond tot 200°C. In ‘n bak meng die appelkose deur die heuning, speserye en sesamsaad. Plaas op bakplaat, plaas bakplaat hoog in die oond en rooster appelkose tot net-net sag. Sekere puntjies sal begin swart-bruin word. Plaas die appelkosies in ‘n bakkie. Proe die pansouse en gooi nog heuning by indien te suur. Bedien die geroosterde appelkosie en die speserystroop saam met die jogurtkoek. (Halwe appelkosie per persoon is genoeg).
{Uit my boekrak}
Vir inspirasie het ek Silvena Rowe se ‘Orient Express – Fast food from the eastern Mediterranean’ van my rak afgehaal, tesame met boeke deur Greg en Lucy Malouf. Die resep vir die jogurtkoek is ‘n Malouf-skepping uit hul lieflike boek Turquoise, wat handel oor hul reise na Turkye.
Ai die groot eet is nog lank nie klaar nie, maar die koek lyk al te verloklik!!! hoop ek kan darem ‘n proetjie vang in die nuwe jaar!
Dis vir daai koek wat ons soet appelkosies soek, Alhoewel nektariens sal ook lekker wees.