Braai hoendertjie in ‘n vyebad

30 Mar

Prins Albert is soos ‘n juweelkissie met baie lae – elke keer kom ek op nog ‘n heerlikheid af.

Vye is een van die skatte uit hierdie kontrei en omdat ek en Francois albei in die dorp is om agter die skerms te werk aan die verfilming van die kookprogram Kokkedoor – bring ek vye en ‘n hoenderjie in die pot. En nie net dit nie: omdat dit lekker warm kan word in die Karoo word hierdie hoendertjie in ‘n vyebad afgekoel.

Die inspirasie om gaar vleis in ‘n marinade-bad te geur kom van Maggie Beer van Australië. Haar boek ‘Maggie’s Kitchen’ staan in my kombuis bankvas langs my Leipold-boeke en Kook en Geniet.

a dubbeldoor hoender en vyebad

Dis hoe die geurbad werk: as jy enige vleis wat jy oor die kole of in riffelpan gaarmaak agterna in ‘n geurbad van olyfolie, bietjie verjuice of goeie asyn, bietjie suurlemoensap en kruie laat lê, gebeur smaak-wonderwerke. Dis soos ‘n agterstevoorom marinade –  baai die vleis daarin om die sappigheid wat dit tydens die gaarmaak verlore het, weer in te drink – en hope ekstra smaak terug in die vleis te sit.

Vir die hoender:

1 groot skrophoender of 3-4 klein spithoenderstjies of  poussins

150 g sagte botter

10 ml elk: gekapte roosmaryn, tiemie en suurlemoenskil

Sout en peper

Vlinder die hoender: sit dit borskant na onder op ‘n houtplank en knip met kombuissker oop aan beide kante van die rugbeen – druk dan met die palm van jou hand die hoendertjie effe plat. Vryf ‘n mengsel van botter en gekapte roosmaryn, tiemie en suurlemoenskil onder die vel en die buitekant van die hoendertjie; sout en peper  goed en braai dan die hoender oor die kole.

(As jy spatchcock hoenders gebruik, kan jy dit op ‘n baie warm riffelpan gaarmaak – halfpad deur die gaarmaakproses bedek jy  die hoendertjies met ‘n deksel of staalbak om ‘n oondjie oor die hoender te vorm.)

Vyebad:

6 baie ryp vye (jy kan ook Smyrna vye gebruik – laat week vooraf in verjuice of water)

3 takkies roosmaryn

Breë stroke suurlemoenskil van 1 suurlemoen, sny met ‘n groenteskiller af.

½ koppie goeie olyfolie – ek gebruik Prins Albert s’n)

Sout en peper

Plaas vye, roosmaryn, suurlemoenskil en olyfolie in ‘n vlak skottel waarin die gaar hoender kan pas. As die hoender van die kole af kom, sit dit borskant in die vyebad vir 10 minute. Bedien dan die hoender met van sy vye-badsous.

Luister gerus na Errieda du Toit (Huiskok) en Francois Ferreira (Glanskok) Vrydagoggend op RSG saam met omroeper Martelize Brink. Gesels ook saam met Errieda op Twitter    @huiskok of op Facebook

17 Responses to “Braai hoendertjie in ‘n vyebad”

  1. Zirkie April 10, 2013 at 9:34 nm #

    Dit klink absoluut heerlik!

  2. My Food Memories April 4, 2013 at 7:40 nm #

    Vye soveel sydig en ek leer altyd iets nuuts by jou

  3. Ria April 1, 2013 at 2:38 nm #

    Kan nie wag om hierdie resep te probeer nie!

    • huiskok April 1, 2013 at 6:51 nm #

      Ek ook! Daar is mos nog laat vye, anders span ek gedroom te vye in.

  4. My Food Memories April 1, 2013 at 2:05 nm #

    Hierdie is ń “moet-maak”resep.

    • huiskok April 1, 2013 at 6:52 nm #

      Hi Ambalene, Dit is regtig lekker. Het jy Maggie Beer se boeke? Jy sal mal wees oor haar.

      • My Food Memories April 1, 2013 at 8:47 nm #

        Nee Errieda, is hulle vrylik beskikbaar, ek ken haar nie

      • huiskok April 1, 2013 at 9:34 nm #

        Maggie Beer is van Australiē. Sy is bekend as die persoon wat verjuice weer laat herleef het. Haar boeke (ek het 2) is by goeie boekeinkels en Ashlyn. sy het ook gereeld verskyn op die nuutste reeks van Masterchef Australia.

      • My Food Memories April 1, 2013 at 9:48 nm #

        Nou weet ek wie sy is, as ek weer stad toe gaan sal ek kyk. Dankie

      • huiskok April 1, 2013 at 9:57 nm #

        Keys om na uit te sien!

      • My Food Memories September 2, 2013 at 7:52 nm #

        Nou is ek ook n trotse eienaar van n Maggie Beer boek
        Dankie

      • huiskok September 2, 2013 at 10:42 nm #

        Jy gaan baie inspirasie daar kry!

      • My Food Memories September 2, 2013 at 7:50 nm #

        Maggie Beer pronk trots op my boekrak langs Ottolenghi se boek PLENTY

  5. flippenblog Maart 30, 2013 at 5:53 nm #

    Vye, oeeeeee, vye!

  6. maureen@haumann.co.za Maart 30, 2013 at 1:44 nm #

    Kan nie wag om die hoendertjie aan te pak. Die vye en als gereed, moet die hoender self plat….. Maureen

    Sent via my BlackBerry from Vodacom – let your email find you!

    • huiskok Maart 30, 2013 at 5:55 nm #

      Ag wat, jy kom hom net so met die plathand by!

Lewer kommentaar op Zirkie Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.