Ek sê vanjaar tot siens vir gammon aan my Kerstafel – nie dat ek heeltemal van die vark afsien nie. Ek beplan om my familie te verras met gerafelde varkblad.
Wat? Gerafelde varkblad? Of jy wil praat van rafeltjievark, flentervark, gepluiste vark of pulled pork, hierdie manier van varkblad gaarmaak hou net lekker dinge in vir die vakansiekok. Hierdie gerafelde varkblad is my uitkyk op ‘pulled pork’ wat deesdae groot modenuus onder die foodies is. Dis baie tradisioneel in Noord-Carolina in die VSA, en ook gewild by die Italianers en in lande soos Thailand en Korea.
Nie dat die konsep van ‘pulled’ vleis iets uitlands nie – ons het rafeltjievleise in ons eie koskultuur , soos wildsvleis of ander beentjievleis wat stadig sag gekook word tot dit van die been afval. Ek maak ook graag skaapblad gaar dat ek dit met twee vurke uitmekaar uit kan pluis. Ons dink egter selde daaraan dat varkblad hiervoor ingespan kan word nie.
Dis ideale warm-weer, buite-op-die-stoep-eet tipe kos. Kersdag-kos.
Ek sal vir ‘n informele Kersete die gepluiste vark buffetstyl voorsit met ‘n fabelagtige tuisgemaakte taaivinger BBQ-sous, sprietuie-pannekoekies en ‘n verskeidenheid vulsels: cole slaw (koolslaai met mayonnaise), komkommer, tamatieskywe, slaaiblare, vars koljander, gerasperde wit cheddar. Selfs bietjie suurroom. Sagte broodrolletjies is my nommer een broodkeuse daarby, maar roosterkoeke, tacos of selfs pita is ook goeie keuse.

Buffet bo-aansig: ‘n lekker gesig. Hier bedien ek dit ook saam met avokado, radysies pleks van piekels, kruie- en slaaiblare, asook oondgeroosterde blomkool. Die BBQ-sous is natuurlik daar, asook ‘n Vietnamese doopsousie van soja en gemmer.
Dis min werk en jy kan die vleis al die vorige dag gaarmaak en pluis. Die varkblad (met die been aan vir ekstra geur) word met ‘n droë speserymengsel ingevryf en langsaam in die oond gaargemaak. Wat bydra tot die lekker is dat die vleissous deur die gerafelde vleis geroer word om dit verder klam te maak en elke stukkie geur te behou.

Soms sit ek dit met pannekoekies voor; ander kere weer met sagte broodrolletjies, kaas, radysie en ALTYD met die BBQ-sous.
Al het jy nie vanjaar baie mense aan jou Kerstafel nie, maak dit steeds, want dan het jy die heerlikste, veelsydige oorskiet wat tot ‘n week in die yskas hou. Maar belowe my jy sal die taaivinger BBQ-sousie maak om saam daarmee te eet. Die sous is so lekker dat ek dit altyd in die yskas het, want dit kikker enigiets op – van roereiers tot roerbraai.
.HUISKOK SE RAFELTJIE VARKBLAD MET BBQ-SOUS EN SPRIETUI-PANNEKOEKIES
Pulled pork’ is nou die groot kosnuus. Gebruik die ekonomiese varkblad wat met die lang, stadige klam hitte letterlik uitmekaar rafel. Bedien dit met die BBQ-sous.
Genoeg vir 10 ruim porsies
Bestanddele
1 Varkblad, met been in, vel en vetlaag afgesny (sowat 2,2 kg)
Invryfmengsel: meng saam
15 ml bruinsuiker
10 ml fyn komyn
10 ml paprika
7.5 ml droë mosterdpoeier
7.5 ml sout
5 ml peper
Vir braai: 15 ml olyfolie
Kook-vloeistof
2 wortels, geskil en grofgekap
2-3 uie, geskil en grofgekap
4 knoffeltoonjies, geskil en gekneus
1 blikkie bier, soos lager
1 blikkie gekapte tamatie
3 lourierblare (opsioneel)
Metode
Vryf die varkblad oral oor in met ‘n invryfmengsel van die suiker, komyn, paprika, mosterd, sout en peper. Laat rus 30 minute. Verhit olie in oondskottel oor medium-hoë hitte en verbruin die vleis sowat 3 minute per kant.
Haal vleis uit die skottel en hou eenkant. Voeg die wortels, uie, knoffel, bier, tamatie en lourierblare by. Kook liggies op en krap bruin stukkies kos van die bodem.
Plaas vleis terug, sit deksel op en stowe vir 3 ½ -4 uur by 160°C tot die vleis baie sag is en maklik van die been afkom. Haal vleis uit ( behou sous) en flenter met 2 vurke of met die hand. Die vleis rafel makliker terwyl dit nog warm is. Intussen kook die pansous af tot 2 koppies vloeistof oor is. Meng die vleissous deur die gepluiste vark. Hou in yskas indien volgende dag bedien word.
Opdiening: Bedien warm met tuisgemaakte BBQ-sous en sprietuie-pannekoek, roosterkoeke, sagte broodrolletjies, tacos, koolslaai, mayonnaise, piekels, komkommer, slaaiblare, vars koljander en gerasperde wit cheddar.
BBQ-sous (onmisbaar by ‘pulled pork’)
Bestanddele
300 ml tamatiesous (soos All Gold)
80 ml donker bruinsuiker
30 ml molasse
2 knoffeltoonjies, fyngemaal
60 ml appelasyn
30 ml Worcestershire sous
10 ml paprika
5 ml peper
5 ml mosterdpoeier
mespunt rooipeper
Skud of twee Tabasco
Maak so: Plaas die sousbestanddele in medium kastrol, roer deur en prut oor matige hitte vir sowat 12 minute tot dik en donker. Bedien in ‘n aparte bakke saam met die rafel-varkblad.
BYVOEGING TOT DIE ARTIKEL – RESEP VIR DIE SPRIETUI-PANNEKOEKIES
Daar was soveel navrae vir die resep van die sprietui-pannekoekies dat ek dit nou ook byvoeg. Ek gebruik die resep van Liam Tomlin uit sy boek TAPAS. Hou die pannekoekies klein, dan kan jy sowat 40 pannekoekies uitkry. Vir die doeleinde van ‘n Engelse leser wat ook die resep gevra het, gee ek dit in Engels:
Whisk 2 eggs, 375 ml milk, 40 g melted butter till foamy. In separate bowl sift together 125 g plain flour, 10 ml baking powder and 2.5 ml salt; form a hole in the centre of bowl and gradually add the egg mixture – stir just till lumpfree and smooth. Let the batter rest for 30 – 60 minutes. Tim and finely slice 3 spring onions and keep aside. Heat little bit of oil in smallish pan, add about 2 tablespoons of batter and tilt the pan (batter should form a thin layer – you don’t want think pancakes for this!). Cook the pancake till golden brown, sprinkle some spring onion over the uncooked side before turning over and cooking the other side for 30 seconds.
Baie dankie vir hierdie heerlike resep.Manlief lyk regtig beïndruk, hy is die waaghals in die kombuis, maar die sousmaker is ekke. ń Feestelike Kerstyd jul toegewens, en ń vryfie vir tjoklit 🙂
Julle sal nie spyt wees om Dit te maak nie, Wilna. Geniet die Kerstyd.
Hi Erieda, I’m in distant Calitzdorp, have bought the pork should for Christmas lunch and would love to make the spring onion pancakes – could you guide on basic recipe please?
Thanks for the wonderful show and scintillating food ideas.
Nita
Hi Nita, Whisk 2 eggs, 375 ml milk, 40 g melted butter till foamy. In separate bowl sift together 125 g plain flour, 10 ml baking powder and 2.5 ml salt; form a hole in the centre of bowl and gradually add the egg mixture – stir just till lumpfree and smooth. Let the batter rest for 30 – 60 minutes. Tim and finely slice 3 spring onions and keep aside. Heat little bit of oil in smallish pan, add about 2 tablespoons of batter and tilt the pan (batter should form a thin layer – you don’t want think pancakes for this!). Cook the pancake till golden brown, sprinkle some spring onion over the uncooked side before turning over and cooking the other side for 25-30 seconds.
Hi Errieda – huge thanks of sal ek maar liefs sê bitter groot dankie vir die besonderse ete wat ons so liplekker geniet het. This was such a special break from tradition but still with the traditional meat. Sien uit na vele resepte verder om ons ‘n nuwe kinkel in kosmaak te gee. Warm wishes for a Bountiful 2015 filled with peace and happinges.
Kind regards – Nita
Baie dankie Nita. Hoop Ons kan vorentoe nog baie lekker nuwighede proe.
Daai pannekoekies is perfeksie self. En, liewe Errieda- as mens die vleis in n biersous gaarmaak dan MAG jy dit maar “getrekte vark” noem…
Liewe Johan! Daai pannekoekies het ek gemaak uit Liam se nuwe boek Tapas! Die boek wat JY vir my present gegee het. Alhoewel baie lekker met sagte broodrolletjies, neem die pannekoekies mens na ander eksotiese plekke toe! ‘Getrekte vark’… I couldn’t have said it better myself!
hello Erieda, wil graag weet jou bbq sous….kan dit vooraf gemaak word en hoe lank kan dit in die yskas gehou word?
debbie
Dit sal ‘n week in die yskas hou.
Ek wonder wat kan mens gebruik i p v worcestershire sous? My seun is op n glutenvrye dieet.
Estelle, Lea & Perrins se tradisionele Worcestershire sous is glo glutenvry. Groete, Errieda
Wonderlik!!! Baie dankie
Erieda, jy het jouself weer oortref!
Baie dankie vir die deel van hierdie heerlike goed voel vakansiekos.
Ek gaan dit verseker probeer en deel met my kosvrinne!
Mag jy en jou gesin baie seen ervaar oor hierdie dae.
Groete
Francois Carstens
Baie dankie Francois. Maak dit gewis en laat weet my! Geniet die Kersseisoen.