Kerrieafval, smaakbrokkies en vriendskap

28 Jun

As jy ‘n afval-liefhebber is, verbeel jou die schloep-shcloeperige geluide van fyn beentjies wat uitgesuig word. Voel die taai lymerigheid aan jou vingers. Nirvana. Val jy egter in die anti-afvalkamp sal die begeerte om verby te blaai sekerlik jou eerste impuls wees; soos ek sou, vóór my bekering tot die smulstukkies in my bord.

Daleen van der Merwe, die profetes wat my tot gastronomiese afval-inkeer gebring het, het jare-lank aan my getorring om aan te sluit by die kring van Pens en Pootjies. En harsings. En tongetjies. En ander dele wat mens maar saggies sê voor mense met afvalfiemies. Ons spreekwoordelike sewe sakke sout het begin toe ons saam Huishoudkundige geswot het. Naas die agt kookboeke met haar as my boekuitgewer by Human & Rousseau het ons bondgenootskap ook saamreis, saambak, saam konfytkook en biltongmaak ingesluit. Maar afval, nee.

Tot sy my op ‘n dag sê: ‘as jy my nou rêrig gelukkig wil maak, kook en eet saam met my afval.’ Vir vriendskapsredes het ek my ore gespits.

‘Afvalmaak begin by jou verskaffer,’ lei sy my in die nuwe smaakreligie in. ‘En weet waarvoor om te vra. Ons is stadskinders wat die skoonmaak van afval eerder vir die boer en slagter moet los. Vra dus vir ‘n skoon pens en skoon pootjies. En jy soek die kop, ook baie skoon en sonder kliere, deurgesny. Laat hulle vir jou die harsings mooi netjies in ‘n pensdeel toebind. Bestel ook ‘n lamsnek, in skywe opgesny.”

Wetende dat ek ‘n groentjie is, beveel sy ‘n drukpot aan. “Dit maak die proses net soveel vinniger.”

Met haar ervaring as kookboekuitgewer om 95 kookboektitels die lig te laat sien het, is haar resepaanwysings duidelik en volledig. “Toe, proe hoe lekker,” moedig sy my aan met ‘n lepel van die kookvloeistof. Die ou-ek sou terugdeins, maar die geure laat my weerstand verkrummel.

“Nou nog net die aartappeltjies bysit om sag te kook”, gaan sy voort met die intieme meesterklas. “Ek raai aan dat jy een van die aartappels in fyn stukkies sny om jou sous te verdik, dan hoef jy nie meel te gebruik nie. Die appelkosies kom ook nou by, maar met ‘n caveat: nie die duur Turkse appelkose nie, jy soek die surigheid van droë appelkosies uit die Klein Karoo.

Sy laat my die groot bene uithaal en die pens in fyner stukke sny. “Dis wys om nie die pens voor die tyd op te sny nie, anders brand dit te maklik aan.” Sy werk baie netjieser in ‘n kombuis as ek, maar die kerriespatsels op haar voorskoot is ‘n teken dat sy kosmaak met passie, nie net met presisie nie.

“Afval is my koesterkos,” sug sy. “Ware verlangkos.” Sy kom uit ‘n gesin waar almal mekaar heen en weer nooi vir afval-eet. Nou eet ek ook saam.

Daleen se Kerrie-afval  

1 skaappens

1 skaapkop

4 skaappootjies

50 ml asyn

10 ml sout

2 ml vars gemaalde swartpeper

4 heel naeltjies

500 g skaapnekskywe

Plaas die heel pens, kop, pootjies, sout, peper en naeltjies in ’n dikboomkastrol of drukkoker, bedek met water en kook 2 tot 3 uur lank stadig (1 uur in die drukkoker).

Voeg die nek by en kook verder tot sag. Roer af en toe sodat dit nie aanbrand nie. Haal die meeste bene uit en sny die pens in stukkies. Hou eenkant. Vir ’n vaalafval kan 3 ml neutmuskaat, 3 uie (in skywe gesny) en 6 opgesnyde aartappels nou bygevoeg word en dan gekook word tot die aartappels sag is.

Daleen verkies egter ’n kerrieafval en maak haar eie kerriemengsel:

Kerriemengsel

30 ml olyfolie

4 medium uie, in skywe gesny

1 brandrissie, fyngekap

10 ml gerasperde vars gemmerwortel

2 steranys

7 ml fyn koljander

5 ml fyn komyn

5 ml borrie

3 ml fyn kardamom

2 huisies knoffel, fyngekap

25 ml appelkooskonfyt

25 ml asyn

Ekstras

6 aartappels, geskil en gehalveer – sny een aartappel in klein blokkies

15 droë appelkose

  • Verhit die olie in ’n pan en braai die uie liggies tot sag, voeg die brandrissie, gemmer, en steranys by en roerbraai 1 minuut lank. Roer die res van die speserye, knoffel, konfyt en asyn by. Roer die kerriemengsel by die gaar afval, voeg die aartappels en appelkose by en kook tot die aartappels sag is. Verdik die sous met ’n bietjie mielieblom indien nodig. Proe en voeg nog sout en peper by indien nodig.
  • Sit voor met witrys, blatjang en ’n heerlike vars slaai.

Fotografie en stilering: Ian en Errieda du Toit.

5 Responses to “Kerrieafval, smaakbrokkies en vriendskap”

  1. Johann December 24, 2019 at 2:38 pm #

    Waar is die kerrie in hierdie mengsel

    • huiskok December 24, 2019 at 2:51 pm #

      Ho Johann, jy maak jou eie kerriemengsel met die speserye soos In die resep verskaf, ipv om dit klaargemeng te koop.

  2. Mynhardt Joubert July 1, 2019 at 4:42 pm #

    Sjoe lees en eet ek nou te lekker saam…daar is net iets onslosmaaklik deel van my betreffende afval. Ek is nog altyd ń geswore voorstaander van vaal afval maar hierdie resep het my dalk nou tot nuwe insigte gebring. Ek done navorsing vir 5 nuwe afval resepte en hierdie was nou ń heerlike toevoeging tot my studie. Groete en liefde uit die Paarl!

    • huiskok July 1, 2019 at 4:59 pm #

      Dankie Mynhardt. Hierdie kerrieafval is baie oorredend.

  3. Andre June 29, 2019 at 7:31 am #

    Smulpaap wat ek is, sit ek nie my mond aan afval nie. Nietemin bring jou skrywe soveel nostalgiese herinnering op. Kleintyd het die ‘grootmense’ altyd kerrieafval op die Sandveld-plaas geeet. Net “Ou-Betjie” kon afval reg skoonmaak en waneer die kookslag begin het ons kinders die duine in gevlug. Anders as gewoonlik sou Ma ook nie aandring dat ons moet saameet nie – wwarskynlik gemotiveer deur die wete dat daar dan meer is vir die grootmense om te geniet. Ouma Jackie se tuisgebakte brood, plaasbotter en korrelkonfyt was ieder geval vir my eerder n beloning as tweedehandse maal. Later jare, op universiteit, het vriend Stafan ook gepoog om my tot afval-bekering te bring en het ek wel uitsoekerig weer probeer. Steeds is dit nie vir my nie en steeds maak dit nie afbreek aan plesierige assosiasies van gesellige tye nie.
    Na ouma Jackie se dood het ek haar die Alfred Meakin eetstel geerf. Ook die opskepskottel (presies soos die een op Ian se mooi fotos) en dra dit by tot my herinneringe aan afval-wat-ek-nie-eet-nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: