Kaserige slappap, sampioene en gebarste baba-tamaties

My vriendin Tessa het my bederf met ‘n lamsblad uit Somerset-Oos se wêreld. Ek het die blad goed ingevryf met botter, komyn, koljander en tiemie; en goed toegewikkel vir ure in die oond laat deurbring tot dit met ‘n vurk van die been af gerafel kon word.

Vir iets só uitsonderlik moet die bykosse ook hul kant bring; iets tradisioneel of nostalgies met iets verrassend daarby.

Hierdie keer is dit die ou bekende slappap wat ek soos Italiaanse polenta hanteer, ‘n ideale smaakmaat vir die vleis en sy bruinsous. Die wintersmake van die sampioene wat bo-op geskep word, word opgehelder met geroosterde baba-tamaties en vars kruie.

My dogter Errida het vir die slaai gesorg: gerasperde reënboogwortels met snytjies nartjie en geskeurde kruisement. Die ander skotteltjie was gevul met outydse groenbone, saggekook met ui en aartappel en eenvoudig gegeur met gestampte witpeper.

Vir nagereg soek mens niks verder as Japie se Gunsteling om met sy sonnige, zesty geaardheid deur die rykheid van die vleis, pap en sous te sny. Met sy souffle bolaag en sitrus-vlasous wat die gebakte poeding vanself vorm, is die tradisionele soetigheid so welkom soos ‘n familielid aan my tafel.

Kaserige slappap, sampioene en gebarste baba-tamaties

Bolaag:

350 g baba-roma tamaties (of kersietamaties)

Olyfolie

350 g gemengde sampioene, gekap

2 knoffelhuisies, gekap

1 roosmaryn-tak, blare gestroop

1/2 bossie sprietuie (chives)

Stewige handvol pietersielie

Slappap:

750 ml volroommelk

500 ml hoender- of groenteaftreksel

200 g mieliemeel (kitspap werk goed)

100 g gerasperde kaas of roomkaas

80 g fyngerasperde parmesaan vir oorstrooi

Maak die bolaag: Braai die heel tamatjies in ‘n bietjie olie tot dit net begin skroei en bars – jy kan dit ook in ‘n lugbraaier rooster of in ‘n warm oond. Hou eenkant.

Braai die sampioene in twee sarsies en geur, hou eenkant.

Kap die kruie en knoffel fyn. Net voor opdiening kombineer die gaar tamaties, sampioene en gekapte kruie en knoffel in die pan en verhit tot deurwarm.

Maak die pap:

Verhit die melk en aftreksel oor medium-hoë hitte. Voeg die mieliemeel in ‘n straaltjie by terwyl jy flink roer. Verlaag die hitte en hou aan roer tot dit glad en klontvry is, sowat 8 minute. Plaas die deksel op en laat dit oor baie lae hitte prut tot gaar. Roer die kaas by.

Bediening: skep die slappap in opdienskottel, skep sampioenmengsel bo-oor en strooi parmesaan oor.

Bord kos: lamsblad, slappap met sampioene, peper oo Thies en wortel-en-naartjieslaai.

Foto’s en stilering: Ian en Errieda Du Toit

One thought on “Kaserige slappap, sampioene en gebarste baba-tamaties

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.