Archive | September, 2019

Gevulde soetrissies

5 Sep

‘Life’s too short to stuff a mushroom’ het Shirley Conran, in die sewentigs in haar boek Superwoman geskryf oor die lot van vroue wat buite die huis ook werk. My werk as inhoudsvaardiger en teksskrywer vir Kokkedoor lewer gelukkig baie kosvreugdes op, sodat ek geen probleem het om groente vol geur te vul nie.

SPENS-TERAPIE

Ek word nie net geinspireer deur wat die onthoukokke en kinkelkokke optower nie, maar ook deur die spens waaruit hul kook. Dis ‘n beeldskone gesig dié Kokkedoor-spens met sy mandjies en kratte vol van die begeerlikste, varsste, kleurvolste vrugte en groente en rakke wat kreun onder staple – en spesialisprodukte. Die volpak (en volhou) van die Kokkedoor Spens is die verantwoordelikheid van kombuishoof Toitnette Du Toit en haar span. (Toitnette het destyds in die semi-finaal gekook van Kokkedoor 1 wat in Prins Albert geskiet was).

Die Kokkedoor-stel is soos ons eie klein planeet, bewoon deur die deelnemers en die crew van 60, elkeen met ‘n spesifieke taak. Die skiet is ‘n geweldige intense proses, met dae wat begin voor die son opkom, en aanhou lank na die son sak. Maar een dag ‘n week – gewoonlik ‘n Maandag – was ons rusdag en dan was die stel stil … behalwe dalk vir die kunsspan wat iets aanmekaar sweis of Toitnette en haar kombuisspan wat spens volmaak en blinkpoets vir die volgende episode se kookuitdaging. Daarom dra ek hierdie resep op aan Toitnette, Desire, Elsarie, Anita, Chloe en Gilionelle en almal wat nie eers op ‘n rusdag rus nie.

TE OPGEVUUR OM AF TE SKAKEL:

Teen die tyd wat die rusdag gekom het, was ek so vol kreatiewe energie dat al manier om daarvan ontslae te raak was om in my eie kombuis aan die kook te raak. Dan het ek van my eie Huiskok-resepte nader getrek en my arme man Ian ook inkatrol om saam te kook, ten spyte daarvan dat hy as stilfotograaf op die Kokkedoorstel ‘n ruskans verdien het! Dit was juis sy foto’s van kratte vol soetrissies wat my vingers laat jik het om hul holtes met heerlikhede te vul, elke kleur rissie met ‘n ander vulsel – ‘n resep uit my eerste kookboek Huiskok Glanskok. Die rissies kry hul deksels terug en word in ‘n warm oond gebak tot die lekkerte begin uitborrel.

 

  • Die rooi soetrissies verdien ‘n vulsel van gaar bruinrys met bros, bruingebraaide uie, basielblare en parmesaankaas as die smaakmakers.. bietjie volksvreemd vir ‘n Turkse dis, maar dit werk).
  • Die groenes vul ek met gemaalde lamsvleis gemeng met bruinrys of stampkoring, baie kruisement, knoffel en dennepitte. Gerasperde suurlemoenskil, kaneel en komyn gee ekstra geur.

SOETRISSIES GEVUL MET RYS, KORENTE EN DENNEPITTE VIR ‘N RUSDAG

Die smaakmakers is bruingebraaide uie, basielblare, suurlemoenskil, kaneel en komyn! Span jou huismense almal in en maak saam hierdie rusdag-soetrissie. Die lekker van die vleislose weergawe is dat dit teen kamertemperatuur geniet word, so niemand hoef tafel toe te jaag nie. Ek maak dit graag as bykos vir gevlinderde lamsboud oor die kole en bedien natuurlike jogurt daarby.

Maak 6 porsies

  • 1 groot ui fyngekap
  • 90 ml fyn olyfolie
  • 250 g rou rys (enige Spekko rys, veral bruinrys)
  • sout en peper
  • 5 – 10 ml suiker
  • 45 ml dennepitte of amandelsplinters
  • 45 ml korente of sultanas
  • 1 groot tamatie, afgeskil (as jy wil), gekap
  • 5 ml fyn kaneel
  • 2,5 ml gemaalde wonderpeper
  • ‘n handvol elk gekapte kruisement, dille en pietersielie
  • Sap van 1 suurlemoen
  • 6 mediumgrootte rooi soetrissies (of groen of geel)
  • Natuurlike jogurt vir opdiening

Vulsel: braai ui in 45 ml van die olie tot sag. Voeg rys by en roer sodat dit goed bedek is met die olie en deurskynend word. Voeg 450 ml water by asook sout, peper en suiker. Roer goed deur en kook vir 15 minute tot al die water geabsorbeer en rys halfgaar is. Roer dennepitte, korente of rosyntjies, tamatie, kaneel, wonderpeper, kruisement, dille, pietersielie, suurlemoensap en die res van die olyfolie by.

Soetrissie: Sny ‘n sirkel om die stingel om as deksel te gebruik. Hou die stingeltjie aan. Verwyder die wit dele en pitte met ‘n lepel en vul met rysmengsel. Plaas dekseltjies bo-op.

Rangskik soetrissies in ‘n vlak oondvaste bak. Gooi water tot omtrent 1 cm hoog in die bak en bak in ‘n voorverhitte oond van 190ºC vir 45 -55 minute of tot die soetrissies sag is. Wees versigtig dat die soetrissies nie uitmekaar val nie. Laat afkoel en sit voor met jogurt.

 WENK: As ‘n gevulde soetrissie nie vleis bevat nie, word dit gewoonlik teen kamertemperatuur voorgesit. Wanneer vleis wel gebruik word, bedien dit warm – en soos Turkse gebruik – altyd met jogurt.

  • Kyk Donderdagaande Kokkedoor 3 op Kyknet Kanaal 144 om 20h00. Die spanne word nou min en die kookopdragte al hoe meer uitdagend. Dankie aan borge soos #Spekko wat ons ondersteun om so ‘n eg-Suid-Afrikaanse program na kykers te kan bring.

Foto’s: Ian du Toit en Samarie Smith

Nota: Errieda du Toit is inhoudsvervaardiger vir Kyknet-programme soos Kokkedoor, Koekedoor en die kinderreekse daarop geskoei. Haar twee nuwe kookboeke SAAM (‘SHARE’) en SUIDOOSTER KOMBUIS verskyn binnekort op die rak en bring die boeke uit haar pen op 10 te staan. Volg haar op Twitter @Huiskok en haar kosrubriek AAN TAFEL in Die Burger Versnit.