Archive | Julie, 2012

Woepsiekoekies – rooifluweel whoopie pies uit die boks

20 Jul

Vandag gaan ek en Martelize Brink -die aanbieder van Oggend op RSG – saam in die ateljee kuier om die 75ste jaar van RSG op lug te vier. Ek het nie twee keer gedink wat om saam te neem nie: Whoopie pies, of te wel woepsies soos ek dit gedoop het – spesifiek die rooifluweel whoopie pie resep van Herman Lensing wat in Augustus vanjaar in SARIE  verskyn het. Saam met ‘n glas De Grendel vonkelwyn vir die feestelikheid is dit tyd vir ‘making whoopie’.

Whoopie pies, is ongeag die ‘making whoopee’ assosiasie nie gewaagde koekies  nie; of net iets wat laatnag verorber word saam met ‘n hygroman soos 50 Shades of Grey nie. Dis eerder ‘n heel-onskuldige lekkerny, met sy oorsprong in die Amish-gemeenskap van Pennsylvania, nogal. So onskuldig dat hierdie woepsies tradisioneel met ‘n glas melk geniet word.

Herman se rooifluweel whoopie pie met my inner-spesery – pienk peperkorrels.     Roxy Laker neem fotos

Daar’s twee dinge  wat julle van my moet weet:

Eerstens: Ek’s ‘n hygroman-snob. Raak nie daaraan nie – ek kon nie eers ‘cope’ met Mills & Boon nie!

Tweedens: ek maak nie koek uit ‘n boks nie. Nooit. Nie koek nie. Nie skons nie. Nie muffins nie. Selfs nie eers ‘n ikoon soos Ina Paarman se bokskoekmengsels is nie. Ek was tot gister onbeskaamd ‘n boksis. Boks-bevooroordeeld. Anti-boks. ‘n Bokssnob. Voorbok teen bokskoeke.

In die nuutste uitgawe van Sarie Tydskrif het Herman Lensing, die kosredakteur,  se ode aan die   Amerikaanse rooifluweelkoek my oog gevang. En toe ek sien daar’s ‘n rooi fluweel-whoopie pie is my hart gesteel. Ek moes terstonds die twee Amerikaanse ikoniese koektradisies whoopie en rooi fluweel-in-een maak.

Woepsies steel my hart en ek gee sequin-afwerking met pienk peperkorrels. Roxy neem fotos

“Dié klein koekie is deesdae oral geliefd, vertel Herman. “Die beste van die resep is dat jy dit met ’n gekoopte bakmengsel kan maak.” Wat nou van my boks-fiemies?

Maar as Herman sê die boksroete is OK, dan’s ek al halfpad oorreed. As daar ‘n kortpad te vat is in die kombuis, dan vat Herman hom en ek weet sy resultate is altyd daar. As ek dan swig voor ‘n bokskoek, laat dit dan onder die jonge heer Herman se hand wees.

{Van gob, na whoopie na woepsie}

Whoopie-pies raak Woepsies in my boek. Hierdie half-kolwyntjie-half-soetkoekie gier het ‘n jaar of wat gelede van Amerika af oorgewaai. . En as jyself nog nie ge-woopie het nie: Whoopie-pies is as’t ware twee koekies opmekaargeplak met ‘n vulsel. Beskuitjiebros buite en ten volle koek-se-kind binnekant.

Ek en Roxy pak die woepsies op ‘n kunswerkie van Theo Kleynhans en sit op Design Team se mooi lap. Maak nie eers saak dat hulle gekraak het nie

Die oorspronklik Amish Whoopie pie het ‘n marshmellow-vulsel gehad saam met sjokolade-gegeurde koekies.

So gepraat van ek wat whoopie-pies nou woepsies gedoop het. Dis ook maar goed dat whoopie-pies hul oorspronklike benaming ‘gobs’ verruil het. Dit is veral destyds in die mynwerkers se kosmandjie gepak – en omdat steenkool-hope as gobs bekend gestaan het, het die hopies koekies ook met die naam opgesaal geword. Neem nou ook in ag dat hulle gobs nie die ‘dainty’, pragtig-versierde een-happie whoopies is wat ons nou maak nie, maar amper so groot soos hamburgers. Ek oordryf nie!

Cupcakes is ook nie meer sy seker van sy plek op die koekie-troon nie, want met soveel geur- en smaakmoontlikhede, versieringsmoontlikhede en speelse natuur gaan woepsies hul beslis opdraand gee. So behep is die New Englanders met whoopie pie dat daar selfs in Whoopie Pie Fees gehou word in Strasburg, Pensylvannia – met sy eie Whoopie Queen! Met sowat 130 smake en nuwe variasies elke jaar by die fees is making whoopee‘n groot ding! Dit is ook die staat Maine se offisiële nagereg.

twee woepsies making whoopee. Roxy neem fotos

My woepsie-wenke: goeie idee om dit te lees voor jy die maklike resep aanpak

 *Om die koekies my eie stempel te gee- en nog meer grootmens te maak, het ek die versierselrand wat tussen die twee opgeplakte koekies uitpeul in pienk peperkorrels gerol. Dit gee ‘n krakerigheid, pikante smaak en lyk soos sequins so saam met die rooi fluweelkoekie.

*moenie jou doodskrik as jy sien daar kom ‘n volle botteltjie rooi kleursel in nie. Die resep is korrek en dit werk. Om die fluweelkleur te kry, kan jy nie wil sukkel met ‘n paar ou druppeltjies nie – dit gaan nie die regte rooi effek gee nie.

*skaf gerus ‘n spesiale whoopie-koekpannetjie aan as jy kan – twee nog beter.

*’n Spuitsak werk baie goed om die deeg in die pannetjies te skep. Wees presies dat jy dieselfde hoeveelheid in elke pannetjie skep, om dit makliker te maak om die koekies in pare opmekaar te plak – anders is dit ‘n gesukkel om vir elke pot ‘n spreekwoordelike deksel te kry!

*Die koekies moenie oor die rand rys nie met die bakkery nie, so spuit eerder minder as meer in.

*Herman beveel aan dat die koekies met versiersuiker besprinkel word. Ek het dit nie gedoen nie, suiwer omdat ek gedink het dit gaan bietjie over the top wees saam met die sequin-peperkorrels.

*My oond was te warm – en het die koekies bo-op laat kraak. Jy ken jou oond – so liefs nie te warm nie.

*Verklaarde belange: beveel Simonsberg se tradisionele roomkaas vir die vulsel aan – nie net omdat ek hul skakelkonsultant is nie, maar spesifiek omdat die ‘fluffy’ aard van hul roomkaas die inklits by die botter en versiersuiker soveel makliker maak.

*Die resep maak heelwat roomkaas-vulsel – so moenie suinig wees met die vulsel nie. Plak ‘n behoorlike, groothartige hoeveelheid op. As daar oorbly, eet jy die res van die versiering die volgende oggend vir brekfis!

Skaf die Aug. uitgawe van Sarie aan en maak elke maand ‘n ander rooi-fluweel skepping.

HERMAN LENSING SE ROOI FLUWEEL-WHOOPIEPIES

Of soos ek nou amptelik herdoop: Sarie se rooi fluweel-woepsies. My gebruik van pienk peperkorrels is natuurlik heeltemal opsioneel, maar feestelik.

sowat 24 koekies

1 x Ina Paarman- sjokoladekoekmengsel

250 ml karringmelk

250 ml kanola-olie

3 groot eiers

1 x 30 ml-botteltjie rooi koskleursel

ROOMKAAS-VULSEL

120 g sagte botter

240 g versiersuiker, gesif

230 g roomkaas (my wenk: gebruik Simonsberg tradisionele roomkaas / kyk uit dat ander handelsname se verpakking dalk 180g en nie 230 g is nie)

*Pienk peperkorrels vir rol: dis opsioneel en my eie toevoeging tot die oorspronklike Sarie-resep.

Verhit oond tot 180 °C. Plaas koek- mengsel, karringmelk, olie, eiers en kleursel in groot mengbak. Roer met draadklitser tot gladde mengsel en vul’n spuitsak met ’n 1 cm-tuit. Vul whoopie-panholtes met die mengselof spuit 2,5 cm-sirkels op ’n bakplaat wat met kleefwerende kossproeigespuit is. Bak vir 8 – 12 minute of tot gaar. Laat afkoel.

Roomkaas-vulsel Plaas botter in elektriese menger en klits tot romerig, sowat 5 – 8 minute. Voeg versiersuiker en roomkaas by. Meng goed. Skep ’n bietjie van die versiersel op die helfte van die gaar koekies. Plak elkeen toe met een sonder versiersel. Sif versiersuiker oor en sit voor.

*Die resep verskyn in die Augustus-uitgawe van Sarie Tydskrif. DAnk aan Sarie vir die vergunning om die resep te plaas.

*Ek het die koekies gemaak en Roxy Laker het die foto’s geneem.

Gemmerkoekies goed ge-gemmer

13 Jul

Al was die goue era van groot musiek- en dansflieks verby teen die tyd wat ek my tande gesny het, dink ek aan Ginger Rodgers aan Fred Astaire se sy as ek die woord ‘gemmer’hoor. Ginger het vir dans gedoen wat gemmerkoekies vir die koekblik doen.  Betowerend. Nooit skandalig en dekadent nie, maar tog vol chutzpah.

Ginger Rogers in gemmer getooi in die goue era van silwerdoeksterre

Maar eers dink ek aan my liefste gemmerkat Kerneels – tussen ons kattekroos die jong mannetjie. Kordaat. Vol vuur en altyd reg vir ‘n relletjie. Ek hou van gemmerkoekies ook so. Vol vuur en vol vlam. Nie speletjies-gemmerkoekies wat jou skaars laat proe wat sy pa en sy ma se herkoms is nie. Nee, as jy in ‘n gemmerkoekie byt, moet hy terugbyt.

Kerneels bak in die wintersonnetjie terwyl ek gemmerkoekies bak

My man hou van gemmerkoekies deurbros – krakerig met elke byt. Ek weer hou van ‘n effe gooeyrige binnekant. Donker van die molasse en baie speserye.

die lekkerte van gemmerkoekies bak is die mooigeit van die bestanddele en die lekkerte van Instagram

Daar’s natuurlik ‘n magdom lekker gemmerkoekie-resepte – party sweer by wonderpeper, ander dat daar naeltjies moet in. Jy kan selfs mosterdpoeier bysit vir nog byt. Met of sonder ingelegde gemmer.  As ek met myne klaar is lyk dit so:My gemmerkoekies vars van die afkoelrak af

2 1/4 koppies koekmeelblom

5 ml koeksoda

10 ml fyn kaneel

5 ml fyn naeltjies

2,5 ml neutmuskaat (ek rasper myne vars)

2,5 ml fyn gemmer

varsgemaalde peper

15 ml vars fyngerasperde gemmer

3/4 koppie ingelegde of gekristalliseerde gemmer in stukkies gesny

1 ml sout

250 ml bruinsuiker

62,5 ml sonneblomolie

1/3 koppie swaelvrye molasse

1 ekstra-groot eier

Gewone witsuiker, vir rol

Verhit die oond tot 180 °C. Voer 2 bakplate met bakpapier uit.

Meng die meel, koeksoda, kaneel, naeltjies, gemmer, sout en peper goed saam in ‘n mengbak. In ‘n aparte mengbak klits die bruinsuiker, olie en molasse vir sowat 5 minute. (Gebruik ‘n elektriese klitser) Verlaag die spoed en voeg die eier by. Klits nog 1 minuut. Skraap die kante van die bak skoon met ‘n spatula en klits nog ‘n minuut. Voeg nou die droë bestanddele bietjie vir bietjie by terwyl die menger loop en klits nog 2 minute. Voeg die gekristalliseerde gemmer en die vars gemmer by. Meng deur.  Gebruik ‘n roomysskepper om bolletjies deeg te skep. Vorm ronde bolletjies met die hand en druk die koekies effens plat. Rol die koekies aan albei kante in witsuiker, plaas op die bakplaat. Op hierdie punt kan jy die deeg sowat 25 minute in die yskas plaas, wat die koekies nog meer sal laat kraak as dit gebak word.

Bak  14 – 16 minute. Roteer die panne halfpad deur die baktyd. Die koekies sal krakerig bo-op lyk. Dis baie sag as dit uit die oond kom, maar die buitekant sal bros raak wanneer dit afkoel. Laat sowat 2 minute in die pan staan en plaas dan op die afkoelrak.

My behoorlik-gegemmerde gemmerkoekies duidelik tuisgemaak

*Laat die koekies behoorlik afkoel voor dit in lugdigte houer gepak word.

*As die koekies darem vir jou net te gemmerig is, los die vars gemmer en die gekristalliseerde gemmer uit.

*As jy die hitte verder wil opjaag, vermeerder die gemmer (fyn en vars) en voeg ook 2.5 ml mosterpoeier by.

*Vir ‘n heerlike grootmens-bederf, bedien die gemmerkoekies met camembert- of brie. Dis ook lekker met lemoenkonserf en ‘n glasie potketelbrandewyn.

Twitter: volg gerus my koskwetters by @huiskok en luister saam elke Vrydag op RSG om 9h15 wanneer ek en Francois op Huiskok Glanskok oor kos praat.