Archive | April, 2020

Little Miss Sunshine suurlemoen-geelrys-hoender in een pot

23 Apr

As ek ‘n bord kos vir iemand kon kook vandag om die gevoel van melancholie te vedryf In hierdie tyd van sosiale afsondering sou dit iets sonnig wees – ‘n gereg wat jou so gelukkig maak soos om die sonskyn op jou skouers te voel.

het my gesin gevra om hulle gunsteling-hoendergereg te kies van die aandetes wat ek tot dusver in die afsonderingstyd op die tafel gesit het. My man Ian sê hy sal baie gelukkig wees as hy al om die ander dag suurlemoen-en-rys-hoender te ete kry.

My sonnige weergawe van die klassieke Griekse hoendergereg word met geelrys gemaak vir ‘n stukkie Kaapse nostalgie, mosterdsade vir warmte en kerrieblare uit my tuin vir geur. Almal wat my goed ken weet dat suurlemoene my innervrug is; en dat geel my happy kleur is. So sal my man eerder vir my ‘n  sak  suurlemoene van die winkel af bring  as ‘n bos  rooi rose.

Die kwistige gebruik van suurlemoen is ‘n aangename kontras met die rykheid van die  hoender en rys. Goudbruin-gebraaide suurlemoenskyfies rond die eenpotgereg mooi af. As jy pitlose suurlemoene soos LemonGold gebruik, hoef jy nie bang te wees om op ‘n bitter pit te byt nie, andersins delf maar eers die pitte uit.

Ek het gelukkig ‘n kerrieboom in die tuin, maar los dit uit of vervang met suurlemoen of lourierblare. Dis mosterdsade is ook opsioneel. As jou borrie op is, vervang dit met ‘n opgehoople teelepel matige kerriepoeier.

As jou yskas fetakaas en ‘n paar groen olywe oplewer, bedien dit saam vir ‘n sout noot. Onthou net om die olywe se pitte uit te haal om die tandartsstoel te vermy.

Little Miss Sunshine suurlemoen-en-rys-hoender

4 porsies

8 hoenderstukke (dye en boudjies, met vel aan)

Sout en peper

15ml elk botter en olyfolie vir braai

1 suurlemoen in skywe gesny

1-2 suurlemoene se sap en gerasperde skil

1 groot ui, fyngekap

2 knoffelhuisies, gekap

10 ml mosterdsade (as jou speseryrak dit oplewer, andersins opsioneel)

500ml witrys

5 ml borrie

8 kerrieblare of 3 suurlemoen- of lourierblare (opsioneel)

750ml of meer warm hoenderaftreksel

Vir opdiening: gekapte kruie

Opsioneel: gekrummelde fetakaas, ontpitte groen olywe as jou spens dit oplewer

Maak so:

  1. Voorverhit oond tot 180˚C. Geur hoenderstukke goed met sout en peper. Verhit die botter en olie in ‘n diep oondvaste pan en braai die hoender tot goudbruin, 5 – 8 minute. Skep uit en hou eenkant. Braai die suurlemoenskywe tot verbruin en hou eenkant om later vir opdiening te gebruik.
  2. Braai die uie tot sag en deurskynend, roer die knoffel en mosterdsade by en braai nog ‘n minuut. Stoot die uie-mengsel na die kant van die pan, voeg die rou rys by en braai goudbruin terwyl jy roer. Hier en daar sal korrels selfs begin pof. Strooi borrie oor en roer deur die uie en rys. Voeg kerrieblare (indien gebruik ), warm hoenderaftreksel, suurlemoensap en-skil by.
  3. Pak die hoenderstukke bo-op die rys, plaas deksel op en bak tot die rys gaar en donsig is en die hoender gaar is, sowat 25 minute. (Indien nodig, voeg tydens die kookproses nog aftreksel by). Haal deksel af en bak nog 5 – 8 minute.
  4. Druk die verbruinde suurlemoenskyfies hier en daar tussen die hoenderstukke en strooi gekapte vars kruie oor.

Lekker eet,

Errieda

Foto’s en stilering: Ian en Errieda Du Toit

 

Appel gebak: lui huisvrou se warm appeltert + sharlotka appelkoek

22 Apr

As dit by appel kom, is jy ‘n koek of ‘n tert? 

Appels is gewoonlik die deugdelike dienskneg van die soettafel: onskuldige gebakte appeltjies met ‘n rosyntjievulsel, appelfrummel met vla of appeltert (darem met ‘n skep room vir bietjie weelde) of dit kom amper as nagedagte  in vrugteslaai. Dit sal jou selde in die nag blosend laat opstaan vir ‘n skelm skeppie.

Maar gee ‘n appeltert- of koek iets stroperig, ‘n mooi naam en ‘n lekker storie, en jy’t ‘n soet ding van ‘n ander kaliber.

Die lui huisvrouappeltert, ook bekend as warm appeltert of karamel-appeltert val in hierdie kategorie. Sedert dit in die tagtigerjare op die kostoneel gekom het, verskyn dit bykans in elke gemeenskapsboekie ingesamelde resepte wat ek deurgegaan het vir my nuwe boek. ‘Saam’. De maklike apptertt was so gewild dat drie resepte destyds hiervoor in Keurig en Geurig van die Sustersvereniging Gemeente, Pretoria-Oos opgeneem is.

My ma het haar appeltert in ‘n Pyrex-bak gemaak, maar die mooi handgemaakte keramiekbak van Three Potters and a Painter op my rak inspireer my om iets sondig vir teetyd of die poedingtafel te maak, gegeur met kardemom, koningin van speserye.

Vir diegene wat nie erg het aan stroperigheid nie, maar te vinde is vir ‘n storie, is sharlotka – die soetding vir jou. Die sharlotka is ‘n ‘almal-in-Rusland-se-oumas-maak-dit-appelkoek, ‘n eenvoudige skepping van snytjies vars appel wat gebak word met ‘n speserygegeurde sponskoekbeslag bo-oor. Die bokant is bros en krakerig, wat jou laat dink aan ladyfingers, die binnekant ene sponskoek met ‘n lieflike klam krummel en fyn tekstuur.

Sharlotka het haar lewe in die 19de eeu begin as Charlotte Russe, ‘n elegante poedingskepping van die supersjef Caremme. Tydens die Soviet-era met sy skaarshede het sy van haar troon getuimel. Radelose Russiese huisvroue wat ure in kostoue moes deurbring vir die mees karige items het ‘n raap-en-skraap  weergawe daarvan gemaak. So geliefd was die appelkoek dat dit die troetelnaam  ‘sharlotka’ gekry het.

Lui huisvrou se warm appeltert (met kardamom as jy het)

45 ml sagte margarien of botter, nie gesmelt nie

250 ml suiker

3 eiers

250 ml koekmeel

5 ml bakpoeier

knippie sout

125 ml melk

1 blikkie (400 g) tertappels

kaneelsuiker

 

Sous

125 g botter

1 blikkie ingedampte melk (of 250 ml melk of room)

180—250 ml bruinsuiker of strooisuiker

knippie sout

5 ml karamelgeursel of 3 gekraakte kardemompeule

• Voorverhit oond tot 180 °C. Smeer ’n 1,5 liter-vuurvaste poedingbak of tertbord.

• Verroom die botter en suiker saam, voeg die eiers een vir een by en klits goed na elke byvoeging.

• Sif die meel, bakpoeier en sout saam en meng dit om die beurt met die melk by die bottermengsel. Skep die beslag in die voorbereide bak of tertbord, pak appels bo-op en strooi kaneelsuiker oor. Bak 30—35 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom.

• Maak intussen die sous:  Kook al die bestanddele vir die sous 7—10 minute saam in ’n medium kastrol. Prik die poeding en giet die warm sous oor die warm poeding. Sit voor met vla, room of crème fraiche.

Wenke:

• Vervang die geblikte appel met 6 vars appels, geskil en opgesny.

• Sny die gaar tert in blokke of skywe voor die sous oorgegooi word, sodat die sous beter intrek.

Sharlotka appelkoek (met Soviet-spaarsamigheid)

4 Granny Smith appels, geskil, stronk uit, in kwarte en dan in dun skyfies gesny

15 ml vars suurlemoensap

4 eiers

2,5 ml amandel- of vanieljegeursel

250 ml suiker,

250 ml koekmeel

2,5 ml fyn kaneel

2 ml neutmuskaat

Knippie sout

Versiersuiker, vir oorsif

• Voorverhit die oond na 180°C. Smeer ‘n 22 cm-losboomkoekpan, en bestrooi liggies met meel. Meng die suurlemoensap deur die appelstukkies.

• Sif die meel, kaneel, neutmuskaat en sout saam in ‘n bakkie.

• In ‘n mengbak, klits die eiers, amandelgeursel en suiker met ‘n elektriese klitser vir 10 minute tot dik en liggeel. Vou die droë bestanddele liggies in 4 sarsies in tot net gemeng.

• Versprei die appels egalig oor die pan se bodem, giet die beslag eweredig oor en bak 1 uur. Dis reg as die bokant bros en goudbruin is en ‘n toetspen skoon uitkom, Laat staan vir 15 minute op ‘n afkoelrakkie en maak die pan los. Sif versiersuiker oor en bedien warm met suurroom.

Foto’s Ian Du Toit

 

Piesangbrood – Bakterapie in die tyd van pandemie

7 Apr

 

Kan mens ooit genoeg piesangbroodresepte hê! Resepte wat vinnig en ongekompliseerd is,  met ‘n ‘gebruik-wat-jy-het-uitkyk’.

Die geur van piesangbrood in die oond is een van die gerusstellende dinge van ‘n doodgewone lewe. Wie sou voorsien dat hierdie alledaagse gebak in die herfs van 2020 deel sal word van ‘n bak-fenomeen waarmee mense ontvlugting en geborgenheid sou soek in die Corona-pandemie,  asof die houtlepel ‘n towerstok is met magiese kragte en die ritueel van piesang fyndruk, panne smeer en meel sif ons sal pantser teen die onsigbare vyand.

Piesangbrood is ons talisman teen vrees en onsekerheid, ’n soet gerusstelling  in ‘n wêreld wat oornag sy bekendheid verloor het.

Piesangbrood eintlikn nuwigheid: 

Piesangbrood is nie iets wat ons oumagrootjies sou maak nie. Die koekbrood soos ons dit vandag ken het eers in die 1930’s werklik gewild begin raak, deel van ‘n genre van vinnige meelmengsels wat deur die kommersiele beskikbaarheid van rysmiddels soos bakpoeier aangegryp is deur huisvrouens.

Skielik was dit nie meer nodig om in te suur nie – vandaar die term vinnige broodjies. (Quick breads). Ek spoor wel ‘n resep vir Piesangkoek op in Mev van Tulleken se kookboek van 1923, wat met die roommetode gemaak word en versuikerde skil inkry. Ook nie Hildagonda Duckitt se boeke het ‘n resep vir ‘n piesangbrood nie. Vroeg in die 20ste eeu is piesangs ook merendeels net gebruik om bo-op koeke te sit. (Ek gee In my volgende blogskrywe  ‘n resep vir ‘n onderstebo-piesangkoek.)

Sonder piesang om self te bak raak hierdie blogskrywe ‘n herlewing van al die piesangbrode wat ek in die sorgvryer jare gebak het. Al kan ek nie nou vriende oornooi om dit te geniet nie,  bak en aflewer nie, kan ek my wenke en resepte deel:

*soos om bruinsuiker of streusel oor te strooi voor dit gebak word vir  ekstra tekstuur en bakkersfinesse;

*en om een van die piesang net op te sny, eerder as om alles fyn te druk.

*en om ryp piesangs in die skil te vries vir die dag wanneer jy die piesangbroodkoors kry.

Maak piesangs so gouer ryp:

Hoe gemaak as die lus jou oorval en die piesangs in die vrugtebak loer vir jou met hul jong, groengeel skille aan – nie ‘n bruin kol in sig nie? Alhoewel almal dit maak met oorryp piesangs, is dit eintlik ‘n gebruik wat uit spaarsamigheid ontstaan het om vermorsing te voorkom. Dit is nie noodsaaklik vir piesangs om so ryp te wees nie. Dis wel makliker om fyn te maak, maar solank die piesang nie groen is nie, behoort jy goeie resultate met ‘n geelskil piesang te kry. As jy wel verkies, kan jy die piesangs op hierdie maniere vinniger ryp maak.:

  •  Plaas piesangs in ‘n bruinpapier- of plastieksak saam met ‘n ongeskilde tamatie, appel of peer. Die gasse wat vrygestel word laat die piesangs gouer ryp raak – dit sal 24 uur neem.
  • Kan nie eers 24 uur wag nie? Pak die onryp piesangs op ‘n gevoerde bakplaat uit met genoeg spasie tussenin. Bak sowat 40 minute teen 150°C. Die skille sal heeltemal verkleur, maar die binnekant sal lekker sag en geurig wees.

Ekstra smaakskop en streusel:

  • As jy wil kan jy ekstra geur aan piesangbrood gee met smaakmiddels soos kaneel, gemmer, vanielje- of amandelgeursel; okkerneute of pekanneute en selfs sultanas. Ek hou van die smaak van donker sjokolade en espresso saam met die piesang.
  • ‘n Ander nuutjie is om piesangbrood ‘n streusel bo-kors te gee: ¼ koppie meel, 1/3 koppie ligte bruinsuiker (saamgedruk), 30 ml koue botter in blokkies, 1/3 koppie fyngekapte neute, 5 ml kaneel. Maak dan so: meng die meel en die bruinsuiker, Sny die botter in by die meel tot dit soos growwe broodkrummels lyk. Roer die neute en kaneel by en strooi oor die beslag in die pan voor dit gebak word.

Pronto-pronto piesangbrood met sjokolade-brokkies 

Die mengmetode is die vinnigste en maklikste van enige wat ek al gemaak het (en min skottelgoed).

  •  100 g sagte botter
  • 175g strooisuiker
  • 2 groot eiers
  • 2-3 ryp piesangs (fyngemaak)
  • 225 g bruismeel
  • 5 ml bakpoeier
  • 2 E melk
  • 100 g donkersjokolade, grofgekap
  • Bruinsuiker om oor te strooi.

Metode

  •  Voorverhit die oond tot 180C. Smeer ‘n broodpannetjie liggies uit en voer uit met bakpapier.
  •  Meet al die bestanddele af direk in die mengbak (buiten die sjokoladeblokkies) en klits vir 2 minute tot goed gemeng. Vou die sjokolade stukkies in.
  •  Skep in die voorbereide pan, maak die bokant van die beslag gelyk, strooi bruinsuiker oor en bak in die voorverhitte oond vir 1 uur tot goed uitgerys, gaar en goudbruin. Die beslag sal ‘n kraak bo-op maak, wat deel van die karakter van piesangbrood is.
  • Laat 5 minute in die pan afkoel, lig uit en plaas op afkoelrak. Sit die ketel aan en geniet snye ongebotter met kof