Herfs is ‘n baie bedagsame seisoen – die matige dae en onhitsige nagte berei my voor vir die geniepsige koue maande wag kom. Dis asof die somerklere hulself wegpak en die winterkomberse op eie stoom op die bed beland – ‘for in case’. Ek kom ook agter dat die tamaai dikboomkastrolle en die kasserolbakke hulself na die voorkant van die kas maneuver met die woorde … “toe, toe slaaibakke – dis julle beurt om in die donker hoekies te gaan staan”.

Dis mos die lewe. Nora, 'n Italiaans-mal blogger se pragtige foto van vincisgrassi laat my sommer nou die kospotte nader trek. Besoek haar blog by enchantingitaly.blogspot.com
In hierdie dae raak ek belustig vir gesellige kos. Dalk nog nie die dik potte ertjiesop en ander ribbekas-vetmakers nie, maar kos wat die belofte inhou van troos teen komende triestigheid. Daarom maak ek my reg om hierdie naweek iets pastarig, iets souserig, iets gesmelte kaserig te maak. Dis eintlik jammer dat lasagne, daai liefling van die 70’s huispartytjie, te alledaags geword vir die seremonie om as my eerste amptelike ‘winterskos’ op my tafel te verskyn.
Gelukkig is daar ‘n ander Italiaanse gelaagde pastagereg wat my opgewonde maak – ‘n verlangse nefie van lasagne uit die Marche streek – ook met lae pasta, witsous en kaas, maar in plaas van die maalvleis-ragu word sampioene (vars en gedroogtes), asook hoenderlewertjies en spek gebruik.

'n Weergawe van Vincisgrassi op die Italiaanse blog Rosemarie & Thyme. Geen elke-dag se maalvleismengsel in sig nie maar wel proscuitto. Ons maak dit met hoenderlewers en spek.
Hierdie troonopvolger van lasagne word ‘Vincisgrassi’ genoem.Die pastagereg en sy naam het ‘n interessante herkoms. Dis blykbaar deur die Italianers vernoem na ‘n Oostenrykse Prins Windisch-Graetz wat doerie tyd in die gebied gebly het om die Oostenrykse troepe te lei. Of die Italianers voetjie gesleep het by hom weet ek nie, maar iemand dra toe ‘n gereg aan hom op en mettertyd veritaliaans Windisch-Graetz toe na vincisgrassi. Amper iets soos ‘wintersgrassie’, maar kom ons noem dit sommer Prins Watsenaam se lasagne.
Dis ryk en romerig en ek sou reken vir ‘n spesiale bederf op ‘n koue naweeksaand – en nie vir elke dag nie; anders pak die wintervetjies te gou aan. En moenie skrik vir die droë porcini nie – mens kry dit deesdae by al wat deli of plaasmark is. Dis ook nie doodsake as jy nie die duurder parmasaan regdeur wil gebruik nie – vervang dit met ‘n ander lekker geurige kaas (veral wit cheddar werk goed), maar strooi liefs steeds parmasaan op die boonste laag.
- Het jy truffle-olie? Gooi ‘n paar druppels oor net voor opdiening. As jy nie het nie is dit heeltemal oukei. Ons het nie almal die bankbalans van ‘n Prins Watsenaam nie.
Resep vir Vincisgrassi – herdoop deur Huiskok na Prinse Watsenaam se sampioen-lasagne
4 tot 6 porsies
Bestanddele
25 g gedroogte porcini sampioene
500 g lasagne velle
½ k botter
¾ k meelblom
1 liter melk
400g gemengde vars sampioene
Olyfolie vir braai
1 pak ontbytspek, opgekap (as jy in die pound seats is kan jy pancetta of prosciutto gebruik)
500 g hoenderlewertjies, opgesny
2 fyngekapte knoffelhuisies
½ t neutmuskaat
Stewige knippie kaneel
1 E tamatiesmeer
¼ koppie halfdroog sjerrie (opsioneel, maar darem maar so lekker – die Italianers gebruin vin santo)
200 ml room
3 E gekapte pietersielie
Sout en swart peper
150 g gerasperde parmesaankaas (of pecorino, grana padano wat ligter op die beursie is, of selfs ‘n mengsel van mozzarella en lekker verouderde cheddar)
Metode
Plaas gedroogte porcini in ‘n bak en bedek met kokende water. Laat staan vir ‘n uur.
Voorverhit die oond tot 200ºC.
Maak ‘n béchamel of te wel witsous: Smelt botter en voeg meelblom by, kook vir 2 minute terwyl jy roer. Voeg nou 1 l baie warm melk bietjie vir bietjie by terwyl jy dit fluks roer of klits. (Wenk: om die witsous geuriger te maak kan jy ‘n lourierblaar by die melk gooi terwyl jy dit kook.)
Verhit ‘n bietjie olie in ‘n pan en braai vars sampioene saam met knoffel, neutmuskaat en kaneel tot gaar. Voeg die gekapte ontbytspek en opgekapte hoenderlewertjies by en braai liggies. Roer tamatiesmeer en sjerrie by.
Voeg die witsous by, roer die geweekte porcini sampioene ook by saam met ‘n bietjie van die weekvloeistof. Nou volg die room en gekapte pietersielie. Laat weer opkook. Geur met sout en peper.
Berei die lasagne-velle voor: as dit vars gemaak is hoef jy dit nie nie kook nie, maar die klaargekoopte droë pastavelle kook jy in soutwater tot net-gaar voor dit in die bak gepak word, anders word dit nie gaar in die relatief kort baktyd nie.
Nou begin die laagpakkery: Gebruik eerder ‘n kleiner oondbak sodat jou lae nie te vlak is nie. Bedek die boom van gesmeerde oondvaste bak met ‘n laag van die pastavelle. Smeer ‘n laag van die geurige hoenderlewer-witsous oor die pasta, stip met botter en strooi ‘n lagie parmesaankaas oor. Herhaal die proses en eindig met ‘n laag sous en parmesaan.
Bak vir 20-25 minute tot lekker borrelend en deurgaar.