Archive | Julie, 2023

Pampoen- en okkerneutpoeding met toffiesous oor

30 Jul

Hierdie poedingkoek het sy oorsprong in die Diep-Suide van Amerika. Variasies is daar baie, maar ek hou van Dish Magazine uit Nieu Zeeland se vertolking, meer koekerig as pampoenterterig.

Die pampoen en speserye sorg vir diepte; die okkerneute is sulke klein ontdekkings met elke hap. Dit kry só ‘n dieplekker butterscotch toffierige sous oor wat selfs lekker kan wees as jy bietjie bourbon, rum of brandewyn by gooi.

En dis maklik: my bak-onervare man Ian het dit gebak sonder veel toesig!

Wenk: Ek gooi nooit pampoenpitte weg nie, nie eers in die komposgat nie. Span jou lugbraaier in om dit te rooster. Jy strooi die pitte direk in die bak, spuit met kombuissproei. Lugbraai paar minute tot bros en goudbruin – hou maar dop, jy sal dit hoor skiet. Dan kan jy dit geur met speserye van jou keuse of net liggies sout. Lekker ook vir peusel.

Pampoen- en okkerneutpoeding met toffiesous (en lugbraai-pampoenpitte as jy wil)

Beslag

500 g pampoen, geskil en in blokkies gesny (*sien wenk vir geroosterde pampoenpitte)

125 g baie sagte botter (nie gesmelt nie)

250 ml ligte bruinsuiker

5 ml vanielje-ekstrak

2 groot eiers

250 ml melk

400 ml (210g) bruismeel

5 ml bakpoeier

7.5 ml fyn gemmer

7.5 ml fyn kaneel

3 ml fyn kardamom of gemengde speserye

125 ml gekapte geroosterde okkerneute plus ekstra vir versiering

Opsioneel vir versiering: geroosterde pampoenpitte

Toffiesous

250 ml room

250 ml bruinsuiker

30 ml botter

30 ml goue stroop of heuning

5 ml vanielje ekstrak

2 ml sout

Poeding bak: 1 tot 1 1/4 liter poeding bak

Stoom die pampoenblokkies sag en druk goed fyn. Jy het 1 koppie (250 ml) pampoenmoes nodig.

Voorverhit die oond tot 180 C (160 C waaier). Smeer die poedingbak.

Room die botter, suiker en vanielje saam tot donsig.

Klop die eiers en 30 ml meel by die bottermengsel in.

Klop nou die melk en die pampoen by. Sif die orige meel, bakpoeier en speserye in, en vou saam met die okkerneut in.

Giet die beslag in die bak. Bak in die oond vir 30-40 minute, tot ‘n toetspen skoon uitkom.

Maak intussen die toffiesous so:

Plaas al die sousbestanddele in ‘n medium kastrol en roer om die suiker op te los. Verminder die hitte en prut vir 5 minute terwyl jy nou en dan roer.

Wanneer die koek gaar is, steek dit oral gate in met die toetspen. Giet 3/4 van die warm sous oor. Laat staan om in te trek. Strooi orige neute oor die poeding.

Bedien met roomys en drup van die sousie oor.

Foto’s en stilering: Ian en Errieda Du Toit

Donkersjokolade bruintjies met Turkse lekker

25 Jul

Sjokolade bruintjies is een van daai name wat net nie met dieselfde soet verleiding gelaai is as sy doopnaam chocolate brownies nie. Cupcake is nog so ‘n een, waar die woord kolwyntjie meer aan kleuterpartytjie. (Ons het ook ons eie Afrikaanse soetgoed wat homself net nie laat vertaal nie, soos ‘Hertzoggies’, koeksister en soetkoekies om ‘n paar te noem.

Bruintjies of brownies – wie het met hierdie schmoetserige, fudgerige, sjokoladebom koeklekkerte vorendag gekom?  Die eer kom ene Fanny Farmer van die VSA toe wat in 1905 haar sjokoladekoekie-resep omskep in ‘n stafie. Dis in 1906 opgeneem in The Boston Cooking School Cookbook.  Dit was met net een eier en ‘n karige paar blokkies sjokolade  veel minder dekadent as die ryk sjokolade en kakao-gegeurde bruintjies van vandag.

Volgens  kosgeskiedkundiges was dit ene Me. Maria Willet Howard, ‘n protégé van Fanny wat met ‘n ekstra eier en EKSTRA  sjokolade die deugsame soetgebak tot die anderkant van sonde laat draai het.

Fanny sou ook nie kon droom dat haar All American koekstafie later jare later ‘n hart van Turkse lekker sou kry nie! Dis die bydrae van my vriend Hannes Koegelenberg, grafiese kunstenaar en super-stilis.

DONKERSJOKOLADE ‘BROWNIES’
MET TURKSE LEKKERS

bestanddele

• 150g botter, plus ekstra vir smeer

• 200g goeie gehalte donkersjokolade, gekap

• 3 eiers

• 225g strooisuiker

• 5ml vanieljegeursel

• 75g koekmeel

• 30g kakaopoeier

• 5ml kits koffiepoeier

• 2,5ml soutvlokkies

• 150g grof gekapte Turkse lekkers

Opsioneel: frambose vir opdiening

metode

1. Voer ‘n vierkantige brownie-koekpan met bakpapier uit en smeer met botter. Voorverhit oond tot 180 °C.

2. Mikrogolf die botter en sjokolade 30 sekondes en roer deur, herhaal in sarsies tot gesmelt. Laat afkoel.

3. Klits eiers, strooisuiker en vanieljegeursel met elektriese menger tot lintstadium. Roer die gesmelte sjokolade- en bottermengsel geleidelik by met ‘n spatel.

4. Sif koekmeel, kakaopoeier en sout oor, voeg koffiepoeier en Turkse lekkers by en meng liggies by met ‘n spatel.

5. Giet die beslag in die voorbereide brownie-pan. Bak sowat 30-35 minute tot gestol en gaar, maar steeds klam. Laat oornag in die pan in die yskas afkoel. Sny in blokkies.

6. As jy wil bedien met vars frambose.