Archive | September, 2012

Appel-olyfoliekoek of te wel quatre quarts aux pommes

28 Sep

Jy gaan dalk wonder hoe ek van appels en ‘n koekbakkery tot by ‘n storie oor olyfolie uitkom.

Die koekbakkery het begin met ‘n groot boks (G-R-O-O-T) appels wat ‘n week gelede by my afgelewer is. Vriend Brian Berkman en Tru-Cape se mooi gebaar het my oor ‘n lang-naweek aan die kook gehou, eerder as wat ek met ‘n boek op die rusbank deurbring!

Na ek al wat appelgereg gemaak het (van ‘n appelomelet met dulche de leche tot petite skilferkors-oopgesig 3-spesery appeltertjies met pistasieneute; van ‘n appel, cheddar en tiemie-pizza tot tuisgemaakte appelsous vir die ‘pork belly’) onthou ek van ‘n appel-quatre quarts aux pommes wat al maande op my ‘wil-nog-eendag-maak’ voornemenslysie is. Iets wat gesond proe, wat lig en maklik is – en veral – wat ongewoon is.

Dit verklaar die appels, maar wat van die olyfolie?

Ek het onlangs die jaarlikse toekenningsaand bygewoon van die Suid-Afrikaanse Olyfvereniging. Daar sit ek aan tafel met die aantreklike olyfmanne van Tokara (wat ‘n hele paar keer podium toe gestap het) aan my een kant, maar wat my heeltemal ‘starstruck’ gehad het was die adellike, gesalfde grootheer van Suid-Afrikaanse olyfolie, Giulio Bertrand wat saam met my en Ian aan tafel gesit het. Mnr. Bertrand is die eienaar van die historiese Morgenster Landgoed in Somerset-Wes.

Dit het gevoel of ek aan die bruidstafel sit, want hy ontvang die betrokke aand ‘n erkenning vir sy bydrae tot die Suid-Afrikaanse olyfbedryf. (90% van die olyfkultivars waarmee in Suid-Afrika geboer word is deur sy toedoen aan die land bekend gestel!)

Hierdie Franse olyfolie- en appelkoek durf jy net maak as jy gehalte-olyfolie gebruik – en appels uit Kaapse boorde natuurlik.

Oor quatre quarts koek

Quatre quarts koek noem die Franse hierdie tipe koek – wat vertaal word as ‘vier kwarte’ en uit die Franssprekende Brittany sy oorsprong het. Dis amper soos die Britte se pound cake, want jy vat die gewig van drie eiers as basis en skoei dan die res van die bestanddele daarvolgens.  Gewoonlik word botter gebruik, maar die olyfolie gee dit ’n klammer tekstuur en tog ’n ietsie anders op die geur.

Terwyl ek die afgeweegde olyfolie bietjie vir bietjie by die suiker inklits, ruik ek die peperige vrug van die olyf. “So ruik goud,” dink ek. ‘n Nuwe goue rykdom uit Suid-Afrikaanse grond. En terwyl ek die appels sny, wat uit Suid-Afrikaanse appelboorde kom, swel my bors van trots.

Quatre quarts olyfolie-appelkoek

Die koek is heerlik klam en geurig, sonder om oorsoet te wees. Dis ‘n plat koek wat geen versiersuiker nodig het nie. Jy sal ’n kombuisskaal nodig hê en ’n losboompan. En as jy wil deftig wees, noem dit quatre quarts aux pommes!

2 tot 3 koppies opgekapte Granny Smith appels, ontpit en geskil (kan ook pere, perskes of pruime gebruik) Ek het appels gebruik van Tru-Cape.

3 groot eiers sowat 160-170 g (die gewig bepaal die meel, suiker en olie s’n)

Meel (omtrent 1 ¼ koppie)

Suiker (3/4 koppie tot 1 koppie)

¾ koppie plaaslike ekstra fyn olyfolie (kyk uit vir SA Olive seël van gehalte)

5 mℓ kaneel

2 mℓ neutmuskaat

Knippie sout

5 mℓ vanielje-ekstrak

Glasuur:

60 mℓ appeljellie of kweperjellie of appelkooskonfyt, gesmelt

Fyngerasperde skil van 2 lemoene ingeroer by konfyt of gebruik om oor te strooi

50 g geroosterde dennepitte en of okkerneute.

Bediening: Crème fraiche  of geklitste room (opsioneel gegeur met kaneel)

Metode

Voorverhit die oond tot 170°C. Smeer ‘n 9 duim losboomkoekpan en bestrooi met meel.

Weeg die drie eiers in die dop met ‘n akkurate skaal (ek beveel ‘’n elektroniese skaal aan). Die gewig van die eiers bepaal nou die res se gewig. Skei die eiergele en eierwitte, hou eenkant. Weeg dieselfde hoeveelheid strooisuiker af en hou sowat 45 mℓ suiker eenkant om later by die eierwit te klits. Weeg dieselfde hoeveelheid koekmeel af en plaas eenkant in klein bakkie. Weeg die fyn olyfolie af.

Klits die olyfolie in ’n mengbak bietjie vir bietjie by die strooisuiker tot al die olie ingewerk is. Klits sowat 3 minute teen hoë spoed tot die mengsel lig en skuimerig raak. Klits eiergele by en hou aan klits, terwyl die meel geleidelik bygevoeg word, sowat ’n kwart van die meel op ’n keer. Klits deeglik na elke byvoeging. Klits kaneel, neutmuskaat en vanieljegeursel by.

Gooi knippie sout by die eierwitte en klits met ’n baie skoon klitser tot sagte punte vorm. Gooi die orige suiker by en klits tot stywe-punt stadium. Roer ’n lepel van die eierwit by die beslag en vou dan die res versigtig met ’n spatula by die beslag.

Skep die helfte van die beslag in die voorbereide koekpan. Strooi driekwart van die appelstukke oor die beslag en bedek met die oorblywende beslag. Gooi die laaste bietjie appelstukke bo-oor. Bak vir 45 minute tot die koek goudbruin is en begin om langs die kante los te trek van die pan. Steek ’n metaalpen in om te kyk of dit skoon uitkom.

Plaas op afkoelrak, smeer met gesmelte konfyt. Laat afkoel en haal uit koekpan. Bestrooi met neute en sit voor met crème fraiche of room. Besprinkel met lemoenskil indien verkies.

SA Olyfolie patriot        

Enkele olyfmakers waarvoor jy gerus kan uitkyk is vanjaar se goudbekroondes:Marbrin, Bakenshoogte, Gabrielskloof, Kleinood, Lettas Kraal, Waterfall River, Rio Largo Buck’s Ridge Olyflandgoed, Indigo Ridge, Kleinveld Flora, L’Olivier, McGreggor Olives – Olivi, Prins Albert Olives. Vesuvio Estates.  Ook Olyvenbosch, Tokara en die pragtig-genaamde Muiskraal.

Ek gebruik gewoonlik Hillcrest se wonderlike olyfolie, nie net omdat dit in my kontrei gemaak word nie, maar ook omdat ek mal is oor die spesifieke delikate aard van hul olyfolies. Om plaaslik te koop is nie ‘n kwessie van misplaaste patriotism nie: as jy weet watter ‘drivel’ as olyfolie aan ons ou volkie opgedis word, sal jy jou klere skeur en jou hare uitpluk.

Ek kyk uit vir plaaslike olyfolie met ‘n waarmerk  wat bevestig dat die produk die SA Olive gedragskode en vereistes van produkegtheid nakom. Jy koop dan nie ‘n wolf in skaapsklere nie; ook nie sonneblomolie wat gekleur en gemanupileer is om olyfolie na te aap nie. Betaal ‘n bietjie ekstra, ja, maar salig in die wete dis nie vir ‘n verbasterde, kamma-rein ‘wannebe’ olie van die verkeerde kant van die spoorlyn nie.

       Huiskok Glanskok word Vrydae om 9.15 vm op RSG uitgesaai. Dan gesels ek en Francois Ferreira met Martelize Brink. Volg my gerus op Twitter @huiskok 

 

 

 

 

Sosaties vir braaidag is erfenis op ’n stokkie

21 Sep

Ryg ‘n stukkie van ons kos-erfporsie op ‘n stokkie vir Erfenisdag. Maar jy sal nou al moet begin, want die erfhappies moet ‘n paar dae in die kerriesous lê wat die onderskei van ander ingerygde vleis van ander koskulture.

As dit die heerlik soetsuur GEKOOKTE marinade is, kry dit die sosatie-erftitel. ‘n Ander tipe? Dan’s dit kebabs of kabobs.

(Ek het al voorheen geblog oor sosaties, maar deel graag weer ‘n paar nuwighede en raad.)

 Sosaties met stampkoring en pampoenpiekel

Interessanthede oor sosatie se herkoms

Sosaties kom al so ‘n lang pad met ons koskultuur – en is nogals eksoties vir ons ou volkie. Eeue gelede al in die Ou Kaap het herberge bekend gestaan as “sosatie-en-ryshuise”. Dis onseker presies waar die term sosatie oorspronklik vandaan kom. Mens mag dalk dink dit kom van die Indonesiese satay, maar tog nie, want die soet gekookte kerriemarinade van sosaties onderskei ‘n sosatie van satay. Dit is moontlik afgelei van die Maleise woord sesatie (vleis-op-’n-stokkie), of ’n aanpassing van die Indonesiese term vir maalvleis, sasati.

Die pikante soeterige sous van ons tradisionele sosatie het dalk ook ‘n  voorouer in die Persiese kebab, wat die Arabiere aan die Midde-Ooste en Noord-Afrika bekend gestel het voordat dit destyds in Europa en ook Holland gewild geraak het.  Die Hollanders was so obsessief oor goeie kos en lief vir speserye dat ek wonder of ‘n resep vir sosaties nie al saam met die Reyger, die Drommedaris en Goeie Hoop hier aangeland het nie!

In die 17de eeu het ’n pond skaapvleis 3 stuiwers gekos.  En vanjaar vir Erfenisdag – al kos lamsvleis veel meer as 3 stuiwers ‘n pond, maak ek hierdie maklike, eg tradisionele sosaties. Vir variasie torring ek bietjie met die speserye.

Lamsosaties (met gekookte kerriemarinade)

Ek het hierdie resep gekry by Ladine Louw van Diemersdal. Ons is mos almal dol oor ‘n resep met ‘n storie. Sy vertel die  resep kom oorspronklik van Elrita, ‘n gesoute huisvrou op Kaaimanskloof plaas net buite Durbanville. Op hierdie plaas word geboer met koring, melk en vee, Elrita het ook haar eie lêhoenders wat vir haar daaglikse organiese eiers lê.

“Ek en Thys was een Saterdag middag genooi vir ‘n braai en daar eet ons toe die heerlikste Kerrie sosaties! Met my kombuis tee, die tradisionele soort waar elke gas ‘n skoonmaak-, kos- en huweliks ‘tip’ gee, het Elrita vir my die resep gegee,” vertel Ladine.

(die sous is genoeg vir  2 skaapboude in blokkies gesny – en maak 16 ruim sosaties)

  • 2 skaapboude in blokkies gesny (sowat 2-2.5 kg vleis)
  • knoffelsout
  • Maak die marinade so:
  • 375 ml asyn
  • 125 mℓ water + 125 ml water
  • 2 groot uie in ringe
  • 20 mℓ kerriepoeier*
  • 5 ml borrie
  • 250 ml suiker
  • 15 mℓ  meel

*Huiskok-raad: ekstra speserye wat jy kan bysit:

  • 35 mℓ fyn koljander
  • 5 mℓ fyn wonderpeper (all spice)
  • 2 mℓ fyn kaneel
  • 2 mℓ fyn komyn
  • 10 mℓ sout en gemaalde swartpeper
  • 1 mℓ fyn kardemom
  • Dun snye vars gemmer.
  • Metode

Kook uie in asyn en 125 ml water stadig vir 10min.

  1. Maak al die droë bestanddele aan met die ander halwe koppie water
  2. Gooi nou asyn en uie by koue bestanddele en plaas mengsel terug in die kastrol. Kook weer vir 10min.
  3. Sit die vleisblokkies in ‘n nie-reagerende bak, verkieslik plastiek. Geur die vleis met knoffelsout.
  4. Laat sous afkoel, gooi oor vleis en laat lê vir minstens een dag, verkieslik 3 dae. Draai gereeld om.
  5. Ryg die vleis, (en appelkosies as jy wil) op stokkies.Draai hier en daar van die uie ringe om. Sit die sosaties terug in die marinade tot dit tyd is vir braai.
  6.  Braai oor warm kole, bestryk ’n paar keer met die marinade (sowat 15 minute). Die vleis moet nog pienk in die middel wees.

Huiskok se sosatie-wenke:

*My ma het suurlemoenblare by die sosatiemarinade gevoeg; ek maak steeds so.

*Onthou om jou sosatiestokkies vooraf in water  te week.

*Om dit sappiger te maak kan skaapvet of swoerdlose ontbytspek tussen-ingeryg word

*Laat 125 g droë appelkose uitdy in ’n bakkie  kookwater vir ‘n uur of twee en ryg dit saam met die sosaties.

*ryg die vleis lossies op die stokkie, wat dit makliker laat gaar braai.

*Moenie te lank braai nie, want die marinade “kook” as’t ware die vleis halfpad gaar in die tyd wat dit inlê. Niks meer as 15 minute nie, dit moet nog pienkerig wees binne.

*as jy nie vuurmaak nie, kan die sosaties ook met sukses in ‘n riffelpan gebraai word of in die oond gerooster word (4 minute aan ‘n kant).

*die rou sosaties kan ook gevries word in die sous.

 Bykos

Karin de Villiers, wynmaker van Klein Roosboom ryg halfgaar blokkies botterskorsie en feta op roosmaryntakkies, besmeer met olyfolie en strooi growwe sout oor en braai oor die kole – goeie pêl vir  sosaties.

 Foto’s: Roxy Laker; Ian Du Toit

Grondboontjiebotterkoekies vir Ongelowige Thomas

13 Sep

Ek sal die dag onthou toe ons nasionale gereg Bobotie vir tien minute die oond gedeel het met ‘n baksel ‘kan jy glo’ grondboontjiebotterkoekies uit VSA se TV-land. (Thanks Cyril, this one’s for you!)

Nou en dan kom daar ‘n resep oor jou pad wat mens laat sê: “Kan dit waar wees? Rêrig? Net dit? So maklik? Moet daar nie bakpoeier  bykom nie? Of ten minste meel?” Ongelowige Thomas-resepte noem ek sulkes.

Sulke geregte het seker aanleiding gegee tot die spreekwoord: “the proof of the pudding is in the eating.”  Die liggelowiges laat te maklik sulke resepte verbygaan, of wag eers vir ander om hul vingers te verbrand met die flopse. Nie ek nie;  ‘n resep wat lyk of dit te goed is om te kan waar wees laat my onmiddellik die panne, klitsers of koekrollers nader  trek. Wie nie waag nie, wen nie.

So gebeur dit Sondag (gewoonlik die dag wat ek die Groot Kook-Koors oor my het) dat ek tussen my bobotie-maak deur na Twitter loer en sien Cyril Naicker  twiet oor ‘n grondboontjiekoekie-resep met net drie bestanddele.

Terwyl die ander twieters hul ongeloof uitspreek en uitvra oor ander bestanddele wat dalk nog skort, toe het ek al die drie bestanddele afgemeet en tot ‘n deeg gemeng:

1 koppie grondboontjiebotter (glad of grof)

1 koppie witsuiker

1 eier, geklits

Ja dis al.

Al wat toe nodig is is om die koekiedeeg in bolletjies te skep (ek het somme ’n spanspekbolletjie-skepper gebruik) en in 24 bolletjies te rol, op ‘n kleefvrye-sprei-gespuite bakplaat te pak en liggies met ‘n vurk plat te druk.

En daar kry ek die gier om bietjie Malden soutvlokkies op koekies te strooi. (Dit plaas natuurlik die koekies  nou in ‘n 4-bestanddeel-kategorie, maar wat. Ek het daai koekiedeeg so geproe en geweet ‘n knippie sout het niemand nog ooit skade gedoen nie …. En in elk geval dis baie trendy om sout op als wat soet is te strooi.

Die oond was reeds op 180°C vir die bobotie wat ek aan die maak was.  En daar raak ons nasionale dis en die Amerikaanse grondboontjiebotterkoekies wat almal gaande het t vir 10 minute maats in die oond.

Die koekies voel sag as as dit uit die oond uit kom, so laat dit ‘n rukkie staan en verwyder dan baie versigtig met ‘n platlemmes (die koekies is baie bros.)

Ek maan almal in die kombuis om hul vingers van die grondboontjiebotterkoekies af te hou (dis vullend, ryk en ware Eatsomemores) tot ons klaar ons bobotie en geelrys geëet het. Daar het wel ‘n paar verdwyn, met krummels as stille getuie dat my man skelm iets in die kies gedruk het.  Ek twiet fotos van my koekies en sien in my geestesoog hoe ongelowige Thomasse die peanutbotter, suiker en eier nader trek om dit tog maar ook te probeer.

Na ete gaan haal ek ‘n kosbare antieke bordjie uit waaroor my ma baie heilig was, pak die 1-2-3- met drie bestanddele grondboonbotterkoekies daarop, en nooi die ongeloweige Thomasse oor vir ‘n koekie en ‘n koppie tee.

Die volgende dag sit ek twee flessies grondboontjiebotter op die inkopielys en dink spottenderwys dat dit dalk ook ‘n goeie tyd is om Black Cat Peanut Butter se aandeleprys dop te hou. Hierdie koekies kan ‘n stormloop ontketen.

Nasrif: My google-soektog na die oorsprong van die resep kom uit by Paula Deen, daardie botter-behepte tannie met die ‘big hair’ en die Southern twang op die Food Kanaal. Honderde bloggers het dit daarna gemaak – sommige met ‘n twist.  Ek dink tog my Khoisan soutvlokkie-twist maak my weergawe dus heel inheems – en trots om saam met ‘n bobotie in die oond te paradeer.

Sagopoeding met steranys aka ‘Fritz se Gunsteling’

6 Sep

Sagopoeding. Die woord gaan een van twee dinge doen:

-of jy gaan hand op die hart verlang na jou ouma en jou ouma se ouma; na die goeie ou dae en blommerige poedingbakkies;

-of al daai nare herinneringe van jou koshuisdae gaan oor jou spoel met die sjarme van die skool-boelie.

Ek bak sagopoeding op ‘n lenterige  Sondag

Gelukkig val my sago-ervaring in die aangename nostalgie-kamp, selfs al het my ouer broers my probeer treiter  met hul krete:  “Padda-eiers, Piekies eet padda-eiers!” (my familie noem my steeds op my Piekies-bynaam). Hierdie strategie om  my uit te gross het nooit gewerk nie, en het my – die suikerbekkie van die gesin – eerder harder laat klou aan my poedingporsie.

Met goeie rede, want sagopoeding soos my ma dit gemaak het was  iets wat uit die winterhemele neergesak het. Die meringue bolaag was die sneeu uit een van my Europese kinderboeke.

Wat vir my broers soos paddaeiers gelyk het, het vir my nes pêrels gelyk. Dan die sweempies kaneel en soet-surerige appelkooskonfyt.

As jy dink sagopoeding is ‘n kook-rompslomp; dat die sago oornag geweek moet word;  dat die melk maklik aanbrand en en en…. ontspan. Dis ‘n eenvoudige poeding,  selfs ‘n kind kan dit doen. Nooi hulle kombuis toe en laat hulle ook verwonderd staan terwyl die wit korrels miniatuur deurskynende albastertjies raak, met hier en daar ‘n korrel wat dwars trek en ‘n stippeltjie wit in die middel behou.

Jy hoef ook nie skeppend te raak met dinge soos klappermelk en ander eksotiese bestanddele nie; die ou manier van doen is perfek.  As  jy soos ek steranys by alles wil gooi, doen dit.  Jy kan dit in individuele koppies bak (soos ek met die karringmelk-poeding gemaak het). Of bedien dit met allerhande eksotiese strope en rome (sien onder vir ‘n paar idees). Of volstaan met die oumense se manier van doen.

Sagopoeding-maak is okkasie genoeg om ‘n blom-geborduurde lap  van my ouma uit die linnekas te gaan haal.  Ouma Gerrieda het blommetjierokke gedra, mooi ou borsspelde met pêreltjies  en kantsakdoekies voor by haar boesem ingedruk.

Dis een van daai poedings wat ‘n instelling is – die jaar mag nie verbygaan sonder sagopoeding nie. Vanjaar het die dag gekom op ‘n Sondag in die vroeë lente. Ek het oranje ranonkels, perses,  bottergeel  freesias en fyn loof  in eierkelkies gerangskik en saam op die poedingtafel uitgestal. Elkeen skep self op.

Terwyl ek met die skeplepel staan verwag ek enige oomblik dat een van my broers om die hoek van die eetkamer op my gaan afpyl….”Piekies eet padda-eiers, Piekies eet padda-eiers!”

“Piekies eet paddaeiers”, het my broers gejil in ons jongdae om my af te sit sodat hulle meer sagopoeding het om te eet.

Fritz se Gunsteling – Sagopoeding met Steranys

Oorgenoeg vir 4 porsies en seconds ook. Maar hoekom ‘Fritz se Gunsteling’? Wel, ek het dit in drie kleiner bakkies gebak – een was bedoel vir die bure wat toe nie die dag by die huis was nie. Toe nooi ons  vir Fritz Brand, die man agter http://www.realmencancook.co.za om vir hom ‘n bak soet poeding te kom haal. Ons raak aan  die kuier om daai sago en kort voor lank word ‘n diep  band gesmee; sommer so half taai van die appelkoosjam. “Sommige breek brood; ons breek sagopoeding.” sê ek.

1 k sago (die klein korreltjies, nie tapioka nie – dit maak dalk die kinders bang)

Kaneelstokkie

3 kardomonpeule, opsioneel

2 steranys, opsioneel

4 koppies volroommelk (afgeroomde melk ook okay)

125 ml suiker (bruinsuiker kan ook interessant wees)

30 ml botter

Knippie sout

3 eiergele, liggies geklits

2 eierwitte, styfgeklits tot dit puntjies vorm

Appelkooskonfyt om te stip

Fyn kaneel (opsioneel)

Vir meringue

5 eierwitte

160 ml strooisuiker

Knippie sout

Metode

Verhit die oond tot 180°C. Kook die sago, melk en speserye saam oor lae hitte terwyl jy roer tot die korrels deurskynend is.  Verwyder die speserye. Roer suiker, botter en knippie sout by. Roer ‘n paar lepels van die warm mengsel by die geklitste eiergele (dit  voorkom ‘scramble’ eiers!). Haal kastrol van die hitte af en roer die eiergeelmengsel  by. Vou nou die styfgeklitste eierwit by die mengsel in (nie almal doen dit so nie – ek verkies dit om die mengsel minder ‘taai’ en meer pofferig te maak).

Skep in ‘n gesmeerde bak. Stippel met appelkooskonfyt.  Strooi kaneel oor.

Maak die meringue: Klits eierwit tot dit puntjies vorm, klits suiker bietjie vir bietjie by en knippie sout. Stapel meringue bo-op die sago en bak sowat 25 minute tot die vla gestol is en die meringue goudbruin is

Die poeding kan ook koud bedien word. Dan is dit baie lekker met ‘n vrugtestroop of coulis.

Wegbreek van tradisie

Koue somer-Sagopoeding van ‘n Finse webwerf. – ek hou van die inmaakflessie. http://www.dinmat.no

Alhoewel ek van my sagopoeding ou-skool hou, het ons soveel makliker toegang tot ‘n verskeidenheid bestanddele dat mens die geleentheid moet gebruik om ons kostradisie te verryk en rond te speel met smake.

  • Bedien met gestoofde gemengde droëvrugte (ook lekker koud)
  • Wissel die speserye af met Chinese 5-speserymengsel.
  • Drup gemmerstroop oor voor die meringue-laag opgesit word.
  • Wissel die appelkooskonfyt af met frambooskonfyt, suurlemoenmarmalade of appelliefiekonfyt (iets suurs is die lekkerste).
  • Kook  gedroogte nartjieskil saam met die sago en die melk – veral lekker in die winter.
  • Kook sultanas saam met die melk en die sago; bestrooi met gekapte kasjoeneute  of geroosterde amandelvlokkies of pistasieneute.
  • Lente-idee: Vir ‘n Persiese noot, roer ‘n paar druppels rooswater of lemoenekstrak by die melkmengsel (gebruik spaarsamig anders kan dit oorweldigend wees); dien op met versuikerde roosblare.
  • Somer-idee: skep die koue sagovlamengsel versigtig in klein Consul-glasflessies om individuele poedings te maak, giet ‘n lagie gesmelte bessiekonfyt oor  en bedek met Italiaanse meringue. As jy ‘n blaasvlam het, verbruin die meringue daarmee.
  • As jy jou sagopoeding modepop wil maak bak dit in cupcake vormpies – goeie idee van Huisgenoot.

    sagopoeding hoofbestanddele