Archive | November, 2017

Lamsrak en moderne kroonbraad – koninklik genoeg vir Prins Harry en sy Meghan

28 Nov

Met ons skop-die-skoene-uit kuiermaniere sit ons selde aan vir ‘n uithangete, maar vandag dek ek tafel vir ’n adellike gas. My beplanning vir ‘n kristal-ete begin by ‘n spesiale gesprek met my slagter. “Twee agt-been lamsrakke, ge-french asseblief.”

Met hierdie swierige lamssnit kan ek die rigting gaan van Kroonbraad, die grande dame van die pronkmaal met ribbene wat vorstelik na buite krul soos ‘n koningskroon. Net so dramaties is die Erewag met ribbe wat na binnetoe ‘n boog inmekaar gevleg soos gekruiste swaarde.

Ek verkies iets met minder ‘pomp and ceremony’. Minder klassiek + meer modern. ‘n Kroon vir ‘n meer moderne koninklike minder klassiek en meer modern. Of wat van iets pikant, taaivinger-lekker, klewerig gebak met smake uit die Ooste?

MODERNE LAMSKROON

Hierdie lamsbraad vir ‘n moderne monarg word in ‘n Bundt-pan gerooster, ‘n idee van Alton Brown.  As kroonjuwele vul ek die holte met braaiaartappels, goudgebraai in lamsvet.  Die ribbene buig elegant na binne toe, maar as jy ‘n tradisionele kroonbraad verkies wat na buite buig, bind die lamsrakke vas met die vetkant na binne.

Jy het nodig:

  • 2 lamsrakke, 8-rib elk, ewe groot , so 750g elk (boonste punte skoongemaak)
  • 15 ml olyfolie
  • 5 ml sout
  • 2,5 ml swartpeper
  • 6 knoffelhuisies, gemaal
  • 20 ml fyngekapte vars tiemie
  • 7,5 ml koljander, fyngestamp
  • 20 ml sjerrieasyn
  • 5 ml gladde Dijon mosterd
  • 5 ml vars roosmaryn, gekap
  • Vulsel van jou keuse (ek het dit met braaiaartappels gevul)

Maak so:

  1. Voorverhit die oond tot 190°C, oondrak in die middel. Buig elke lamsrak in ‘n halfsirkel met die vleiskant na binne, vetkant na buite. Knoop die ente aanmekaar vas met kombuistou. Verstewig dit reg rondom met nog tou.
  2. Vryf die vleis in met olie. In ‘n bakkie, meng die sout, peper, knoffel, tiemie en koljander, druk die mengsel aan die vleis vas. 
  3. Plaas die vleis in ‘n Bundt-pan met die twee lamsrakke om die tuit. Giet ‘n lepel olyfolie onder in die pan. Rooster die vleis 40-45 minute in die oond (ongeveer 30 min per kg. ) Wenk: as die vleis se vetkant nie vinnig genoeg na jou sin verbruin nie, verplaas die vleis van die Bundpan af oor na ‘n vlak emaljebord en druk gefrommelde foelie of ‘n blikbeker in die holte dat die vleis sy vorm behou. 
  4. Haal die vleis uit die oond, bedek liggies met foelie of ‘n omgekeerde bak, laat rus vir 20 minute.
  5. Meng intussen die asyn, mosterd , roosmaryn en pansappe, geur na smaak.
  6. Bediening: plaas vulsel van jou keuse in die holte, knip die tou af en bedien met asyn-mosterdsousie.

SO LYK DIE LAMSRAK-EREWAG

Vir die Erewag (‘guards of honour) word die lamsrakke teenmekaar geplaas, vetkant na buite met die bene wat inhak soos gekruiste swaarde.


Die ribbene word skoongemaak (‘frenched’) sodat dit makliker inhak, en vasgebind met kombuistou.  Om dit gaar te maak rooster dit by 180°C vir 25 minute, plus 25 minute ekstra per 450 g.

Volgens etiket word die tou  eers aan tafel geknip. Sny ‘n Erewag beide kante met een sny deur.

PIKANTE HEUNING- EN KNOFFEL LAMSRAK

Hierdie lamsrak met sy aangename byt is kos vir ‘n koning, maar sonder die vertoon.

Jy het nodig:

  • 1 lamsrak (6 of 8 been)
  • 10 ml vinkelsade, fyngemaak
  • Sout en peper na smaak
  • 30ml olie

Smeerlaag:

  • 5 ml bruinsuiker
  • 5 ml suurlemoensap
  • 15 ml Dijon mosterd
  • 45 ml heuning
  • 30 ml sojasous
  • 15 ml ryswynasyn of appelasyn
  • 15 ml vars gemmer, gerasper
  • 15 ml Srirarcha of vervang met tamatiesous en knippie rooipeper
  • 10 ml droë rissievlokkies
  • 5 knoffelhuisies, gemaal
  • Swartpeper na smaak

Maak so:

  1. Voorverhit die oond na 200°C. Klad die lamsrak droog met kombuispapier.
  2. Kook die smeerlaag-bestanddele saam in ‘n medium kastrol oor matige hitte tot effe afgekook en verdik, sowat 7 minute.
  3. Intussen plaas die lamsrak op ‘n kapbord met die vetkant na bo. Sny kepies in ‘n diamantpatroon deur die vetlaag. Vryf goed in met sout en peper.
  4. Verhit die olie oor matige hitte in ‘n oondvaste pan. Voeg die fyngemaalde vinkel in die olie en kantel die pan terwyl dit sis. Verbruin die lamsrak aan alle kante tot goudbruin. Haal van die plaat af en bestryk alle kante met die smeerlaag.  Drup ook die orige olie in die pan oor.
  5. Plaas in oondpan en rooster soos volg: 20 min vir rou (rare); 25 min vir medium-rou; 30 min vir medium; 35 min vir goedgaar. Laat rus vir 10 minute en bedien.

Goed om te weet: Kroonbraad van lamsrak word nie met ‘n vulsel in gebak soos met kroonbraad van varkvleis nie, anders sal dit te lank neem om gaar te word. As jy dit nie in die Bundt-pan wil bak nie, druk gefrommelde foelie in die holte.

 

Foto’s en stilering: Ian en Errieda Du Toit

NUGTER WEET, DIS ‘N LEKKER VRUGTEKOEK

14 Nov

Elke jaar hierdie tyd staan ek voor die Krismiskoek-kruispad: volg ek die tradisionele roete of  neem die afdraai na iets nuuts? ‘n Beskonke of ‘n nugter koek? Dis ‘n heerlike ontdekkingsreis deur stapels kookboeke (oud én nuut), familieresepte, vergeelde koerantknipsels en modern bakbybels.

Edit-1733Edit-1681

Familieresepte kom eerste soos die ‘wit vrugtekoek’ resep in my oupa Boy Möller se elegante skoolmeesterhandskrif. Die troefkaart van my ma se vrugtekoekresep wat sy haastig geskribbel het op ‘n vel Croxley-papier , is die herinneringe van Kersvakansies en kinderjare wat ingemeng word saam met die brandewyn-beskonke koekvrugte.

Ek lees ook elke jaar die koerantknipsel wat my ma in 1956 uitgeknip het, ‘n paar weke voor my geboorte. Die resep was die wenner van die koerant se ‘Groot Koek Kompetisie’ daai jaar. Dit vat jou terug na ‘n tyd wat daar nog gepraat is van onse en ponde, ‘goewermentsuiker’, ‘koerente’ en vetproefpapier.

Edit-1374Edit-1387

Die resep is so ryk aan ritueel as aan bruinsuiker en brandewyn. Dit neem my hand deur vrugtekoek se doolhof-moets en moenies: hoe om die vrugte voor te berei, die glanskersies in drie dele te sny en die panne met drie lae ‘botterpapier’ uit te voer. Detail is alles: die toets-breipen moet wárm wees en op meer as een plek tot op die bodem gesteek word.

Die resep het my geleer van Die Duik. So verduidelik die bobaas-bakker: “skep die mengsel in die uitgevoerde koekpan en maak ‘n diep ronde duik in die middel (die duik is net ‘n holte omtrent ½ duim diep en omtrent 2 duim breed en loop dood na die kante, sodat die koek gelyk kan rys).”

Dis klein dingetjies soos dié wat ‘n kampioen maak, maar ek soek ‘n koek met die x-faktor, nie soseer ‘n blou skouroset nie.  Terug boekrak toe om te kyk wat die glansbakkers doen. Goeie idees, meestal met sterk drank as troefkaart.

  • Die vrugte in Delia se Kreoolse Kerskoek bring meer as ‘n week deur in rum, brandewyn, kersiebrandewyn én port. Haar ligte vrugtekoek se goue aura staan my aan. Sy poeier die Turkse appelkosies en okkerneute bo-op die koek met goue glansstof. Ek hou van die stralende kontras met die donkerte van die koek.
  • Natuurlik sal ‘n Nigella-vrugtekoek smeul. Sy maak ‘n sjokoladevrugtekoek gelooi met al die donker dinge wat ‘n koek onvergeetlik klam, ryk en wulps laat: dadels, molassebruinsuiker, kakao en koffielikeur.
  • Vrugtekoekkoning Mynhardt Joubert geur sy weelderige kerskoeke met potketel brandewyn uit sy kontrei. Die koek se verbintenis met Betlehem gee dit ‘n diep betekenis, want die resep kom uit die Vrystaatse dorpie waar sy suster woon. Bestel sy legendariese vrugtekoeke by mynhardt.co.za

 Die vrugtekoek-familie

Die klassieke vrugtekoek het heelwat interessante niggies en nefies. Die Twelve Night vrugtekoek is eeue al deel van die Britse bakkultuur –  ‘n boontjie of muntstuk word in die koek versteek. Die man wat dit kry word die Koning van die Aand.

Die Skotte spog met Dundee-koek (met marmalade in, maar gene glanskersies) en black buns (broskorsdeeg gevul met korente, rosyne, amandels, skil, speserye, swartpeper en brandewyn.  Die Victoriaanse era sorg vir vrugtekoek-kitsch soos die tenniskoek, ‘n langwerpige wit vrugtekoek met marsepein en  groen fondant bedek om ‘n tennisbaan voor te stel.

Die Italiaanse broderige vrugtekoek panettone is aangetroude familie van die ligte vrugtekoek, maar dis die minder-bekende pestringolo met heuning, dennepitte, okkerneute en opgeplomte gedroogte vytjies wat my laat dink aan my Italiaanse oupa. Net daar kry ek gedagte van Florentines, die koekies met neute, kersies, glanskersies, versuikerde gemengde sitrusskil en heuning, wat baie Italiaans klink, al is dit nie.

Edit-1688Edit-1616

My uiteindelike keuse is ‘n kombinasie van ‘n klomp lekker dinge: ‘n gesoute karamel-vrugtekoek met Florentynse feesvere. My man wat nie eers van vrugtekoek hou nie, verklaar dit as sy nuwe gunsteling.  Die donker karamelsmaak met die tikkie sout maak dit modern, terwyl die flambojante Florentynse bolaag  ‘n goue aura aan die koek gee.

Om die soutkaramel te maak is doodmaklik en jy’t geen geschlepp om die botter en suiker te room nie . Ook geen opsnyery en voorafweek van die vrugte nie. Dis ‘n nugter koek en jy hoef nie eers ‘n dranklisensie te kry voor jy dit bak nie. Dit hoef ook nie agterna gedokter word nie, dat die kleintjies kan saameet. (Ek gee wel wenke vir ‘n beskonke weergawe.)

Edit-1420Edit-1671Edit-1694

Gesoute karamel vrugtekoek met Florentynse feesvere

Vrugtekoek:

  • 200 g strooisuiker
  • 3 ml soutvlokkies
  • 150 ml dik room (double thick cream)
  • 50 g molasse of swartstroop (black treacle)
  • 50 g heuning
  • Fyngerasperde skil van 1 lemoen en 1 suurlemoen
  • 15 ml gemengde speserye (mixed spice)
  • 3 ml neutmuskaat (opsioneel)
  • 100 g botter
  • 3 eiers
  • 250 g koekmeel
  • 1,5 ml koeksoda
  • 750 g gemengde koekvrugte (Food Lover’s Market luxury festive cake mix)
  • 400 g rooi glanskersies
  • 200 g pekanneute, gehalveer

Florentynse bolaag:

  • 25 g botter
  • 30 ml heuning of goue stroop
  • 50 g amandelvlokkies
  • 50 g pekanneute, grofgekap of dennepitte
  • 200 g rooi glanskerries, gehalveer (knip sommer met ‘n geoliede skêr)
  • 50 g gekapte gemengde sitrusskil
  • 15 ml koekmeel

Voorverhit die oond tot 170° C. Voer ‘n gesmeerde 18 cm of 20 cm losboompan se bodem en kante uit met drie lae bakpapier. Die papierlaag moet 5 cm bo die rand uitsteek. Om dit makliker uit te voer, sny kepies uit die onderkant van die kantlae en vou om.

Voeg die suiker en 50 ml water in ‘n medium kastrol oor matige hitte, skud-kantel die pan om die suiker op te los. Kook dit sonder om te roer tot die caramel van liggoud na rooierig verander, sowat 6 minute. Roer die room by – oppas, dit sal spoeg, so staan terug. Haal van die plaat af, roer die soutvlokkies, molasses/donkerstroop, heuning, gerasperde skil en speserye by. Klop die botter by tot gesmelt.

Giet die mengsel in ‘n mengbak en klop die eiers een vir een by. Roer die meel en koeksoda by tot glad, dan die koekmengsel, gevolg deur die neute.

Skep dit in die voorbereide pan en kap die pan ‘n paar keer op die werksvlak om lugborrels uit te laat. Bak 90 minute (of 2 ure as jy nie die Florentynse laag wil opsit nie).

Berei intussen die Florentynse bolaag voor: smelt die botter en stroop/heuning saam in ‘n kastrolletjie, roer die neute, kersies en skil by en meng die meel goed deur. Versprei dit eweredig oor die vrugtekoek. Bak nog 30 minute tot die bolaag goudbruin is en die koek gaar is. Om te toets, steek ‘n dun pennetjie op ‘n paar plekke tot op die bodem en kyk of dit skoon uitkom. Laat die koek afkoel in die pan (anders kan dit verkrummel).

Verwyder die papierkraag en draai die koek baie goed toe in kleefplastiek en ‘n laag foelie. Bêre tot 2 weke in ‘n lugdigte houer. As jy dit langer wil hou vries dit liefs of dokter dan en wan met brandewyn of rum.

Edit-1753WENKE:

  • Food Lover’s Market Luxury festive cake mix in die  rooi emmertjie is gerieflik, want die koekvrugte is alles klaar opgesny en gemeng. Dis ekonomies (R69.95 per kg) en beskikbaar by hul takke landwyd.
  • Week die koekvrugte vir 4 ure of oornag in brandewyn, rum, sjerrie, lemoensap, stoutbier of tee om dit op te plomp.
  • Vir glans en ekstra klammigheid, verf die rante van die koek met hierdie eenvoudige sitrus-suikerstroop: verhit 125 ml suiker en 125 ml water oor medium-hoë hitte, voeg 4 breë stroke suurlemoenskil en 15 ml suurlemoensap by. Roer tot die suiker opgelos is , kook vir 2 minute en verwyder van die hitte. Verf dit aan. (Die stroop raak selfs lekkerder van staan so met die skil in. Ek drup daarvan oor die snytjies koek met bediening.)
  • Vir ‘n boozy, klammer vrugtekoek, spuit die koek oral oor in met rum, brandewyn, whisky, halfsoet-sjerrie, lemoen-, amaretto- of gemmerlikeur.
  • Plaas ‘n bak met water op die bodem van die oond – dit dra by tot ‘n klammer koek.
  • As die koek te gou bruin raak bo, bedek lossies met foelie of bakpapier.
  • GLANS-IDEE: Vervang die Florentynse bolaag stapel ‘n kroon fyn spinsuikerdrade lossies bo-op. Dit maak die koek goedkoper, sonder om die goue aura te verloor.Bak die koek vir 2 ure, laat ten volle afkoel. Net voor opdiening maak jou spinsuikerdrade en stapel bo-op die koek. Bedien onmiddellik.  Bak dit met ‘n boontjie of muntstuk in dan het jy sommer ‘n Twelve Night-koek.

Edit-1286

 

KOMPETISIE VERSTREKE

: Jy staan ‘n kans om die volgende prys ter waarde van R5 000.00 te wen, ter viering van Food Lover’s Market festive cake mix in die rooi emmertjie:

  • Jamie Oliver koeksnyer
  • Jamie Oliver magneties maatlepel
  • Jamie Oliver ronde kleefvrye springform koekpan (23cm)
  • Le Creuset Stoneware mengbak, 1.9L in ‘cotton’ wit
  • Le Creuset Venus groot spatula in ‘cotton’ wit
  • Die 1 kg rooi emmertjie Food Lover’s Market festive cake mix
  • 2 kg Sasko koekmeel
  • Houertjie glanskersies
  • ‘n Food Lover’s Market-koek
  • R2 500.00 geskenkbewys van Food Lover’s Market

 

Edit-1764.Foto’s en stilering: Ian en Errieda du Toit